Wat Psalm 22 leer oor moeilike tye

Selfs Jesus het gevra: “Hoekom, Here?” Ontdek hoe Psalm 22 ons troos gee wanneer ons nie verstaan wat in ons lewe gebeur nie.

deur ds Daniël Myburgh

Wanneer ’n mens voor ’n krisis te staan kom dan vra ’n mens maklik: “Hoekom, Here?” “Hoekom is my ma met kanker gediagnoseer?” “Hoekom sukkel ek so op skool?” “Hoekom kry ek nie ’n ou/meisie nie?” “Hoekom antwoord U nie my gebede nie?”

Kort nadat ons hierdie tipe vrae gevra het, voel ons baie keer skuldig. Want hoe kan ons – wat maar gebroke mense is – die Here bevraagteken? Omdat ons gelowiges is weet ons baie goed dat ons nie die Almagtige se optrede in twyfel mag trek nie. “Die maaksel kan tog nie vir sy Maker vra, hoekom het U my so gemaak nie?” (vgl. Romeine 9:20).

Wanneer mens voel dat jy alles bevraagteken, kan jy getroos word wanneer jy Bybel lees. Want wanneer ’n mens genoeg Bybel lees, dan sal jy gou agterkom dat dit nie net jy is wat hierdie gevoelens het nie, maar eintlik só baie ander gelowiges.

God is nie bang vir jou vrae nie

Een van die bekendste gedeeltes in dié verband is Psalm 22. Natuurlik is daar talle ánder Skrifgedeeltes waar gelowiges oor God se optrede in hul lewens wonder, maar Psalm 22 is ’n gedeelte wat uitstaan. Eerstens staan dit uit as gevolg van die Psalmdigter se eerlikheid.

Dawid is nie skaam om eerlik teenoor die Here te wees oor dít wat hom in die lewe pla nie. Hy begin hierdie Psalm deur die Here te konfronteer:

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie.

Op ’n eerlike manier vertel Dawid vir die Here hoe sy voorgeslagte op God se Almag en Verbondstrou staatgemaak het. Hulle het ’n vaste geloof in die Here gehad en op sy tyd het Hy hulle gered. Die Here het hulle bevry – met sy hulp het hulle weggekom van hulle vyande sodat niemand met hulle spot nie (verse 4-6).

Maar skynbaar is Dawid nie so gelukkig nie. Dit voel vir Dawid asof hy minder as ’n mens is. Dit voel vir hom asof hy minder werd is as die laagste dier in die diere-hiërargie. Almal rondom hom verag hom. Mense spot aanhoudend met hom en met sy geloof en vertroue in God.


Toe Jesus ook vra: “Hoekom?”

Dalk klink ván hierdie frases in Psalm 22 vir jou bekend. Dit is tog nie nét Dawid wat dit gesê het nie? Beslis nie.

Juis dít is die tweede rede waarom hierdie Psalm in die Bybel uitstaan, want dít wat Dawid in Psalm 22 sê, is ’n direkte heenwysing na Jesus Christus se woorde en belewenis aan die kruis. Psalm 22 is ’n profesie wat op Golgota in vervulling gaan.

Want dit was inderdaad nie nét Dawid of nét jy of ek wat vir God sou vra: “Hoekom, Here?” nie, maar óók Jesus Christus.

Selfs Christus – die Almagtige, Geliefde Seun van God – roep vol benoudheid uit: “My God, My God, waarom het U My verlaat?” (vers 2). Konstant – dag en nag – roep Hy uit, maar sy Vader antwoord nie. Ons sien dit veral in die Tuin van Getsémané raak.

Ook Chrístus word deur mense bespot en verag (verse 7 en 8) (vgl. Matteus 27:39; Markus 15:30-32). Dawid praat van mense wat soos gevaarlike beeste en leeus en honde hom omsingel. Jesus Christus beleef daardie menslike woede teenoor Hom eerstehands: spykers word in sy hande en voete ingeslaan, ’n doringkroon word in sy kopvel ingeforseer, en aanhoudende sweephoue kloof sy liggaam oop.

  • Dawid roep uit: “My tong kleef aan my verhemelte.”
  • Christus roep uit: “Ek het dors!”
  • Dawid noem in vers 19: “Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere.”
  • Presíés dieselfde het hulle met ons Here Jesus Christus gedoen.

Wanneer daar geen antwoorde is nie

“Hoekom, Here?” “Hoekom laat U toe dat mense U Seun só mishandel?” “Hoekom laat U al hierdie dinge in my lewe toe?”“My pa se afdanking by die werk …” “My vriend se skielike dood …” “Hoekom, Here?”

Dit is vrae waarmee baie gelowiges worstel. En dikwels kom die antwoorde nie so gou soos wat ons sou wou hê nie. Soms bly die rede vir ons lyding vir jare verborge. Soms verstaan ons dit nooit ten volle nie.


Die antwoord op Jesus se vraag

Ons kry nie altyd ’n antwoord op die vraag: “Hoekom gebeur dit?” Baie van ons “hoekom-vrae” sal dalk onbeantwoord bly totdat ons eendag by die Here is.

Maar in Christus kry ons wel ’n antwoord op ’n vraag wat nóg belangriker is: “Is God nog by my?”

Die antwoord is ’n onwrikbare ja.

Jesus Christus is verlaat sodat jy nooit verlaat hoef te wees nie. Daarom kan jy weet dat die Here jou sien, jou ken en jou vashou, selfs wanneer jy nie verstaan wat in jou lewe gebeur nie.

Selfs in jou diepste angs en benoudheid is God by jou. Hy het jou nie verlaat nie en Hy sal jou ook nooit verlaat nie.

Daarvan kan jy séker wees.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui