Hoe troos jy iemand as hulle nie naby is nie?

Job se vriende het by hom gesit toe hy getreur het. In vandag se tyd is ons dikwels te ver. Lees hier hoe ons tegnologie kan gebruik om ons naastes by te staan.
deur Kruispad-redaksie
Ons leef in ’n wêreld waar afstand ons dikwels verhoed om fisiek teenwoordig te wees wanneer iemand hartseer beleef. Jou vriendin verloor haar pa, maar sy bly 1 000 km van jou af. ’n Vriend trek weg, en dan verloor hulle hul baba. Jou ouers is oud en siek, maar jy is op ’n ander kontinent. Wat maak ’n mens met medelye wanneer jy nié daar kan wees nie?
Die goeie nuus is: troos is nie beperk tot fisieke nabyheid nie. En selfs al is tegnologie nie ’n plaasvervanger vir jou teenwoordigheid nie, kan dit – reg gebruik – ’n draer van genade en meelewing wees. Die Bybel wys ons duidelik dat troos ’n opdrag is, nie net ’n keuse nie.
Wees bly saam met dié wat bly is; huil saam met dié wat huil.
Romeine 12:15
Troos gaan oor teenwoordigheid, nie antwoorde nie
As iemand hartseer beleef, help dit nie om oppervlakkige woorde as antwoord te bied nie. Die Bybel wys vir ons in die boek Job dat sy vriende, voordat hulle gepraat het, eers net saam met hom gesit het:
Toe hulle hom van ver af sien, het hulle hom nie herken nie … En hulle het saam met hom op die grond gesit sewe dae en sewe nagte lank sonder om ’n woord met hom te spreek, want hulle het gesien dat sy pyn baie groot was.
Job 2:12-13
Maar, omdat ons nie altyd maklik fisiek by mekaar kan uitkom nie, moet ons ’n ander manier kry om teenwoordig te wees. En dít is waar tegnologie waardevol kan wees.
5 Praktiese digitale maniere om teenwoordig te wees
1. Stuur ’n boodskap met jou stem in
Stuur ’n stemnota eerder as net ’n teksboodskap. Jou stem dra toon, warmte en empatie. Dit sê: “Ek het jou nie vergeet nie, ek gee om.” ’n Kort gebed, ’n eenvoudige “ek dink aan jou,” of selfs ’n herinnering aan God se liefde kan groot troos bring. En as die persoon aan die ander kant jou stem hoor, sal jy sommer nader voel. Jy kan selfs ’n video opneem van jouself, of nog beter ’n video-oproep maak.
2. Skryf ’n digitale brief
In ’n wêreld van vinnige reaksies, is ’n weldeurdagte e-pos of ander aanlynbrief iets kosbaars. Deel ’n herinnering, ’n Bybelvers, en selfs ’n persoonlike gebed. Dit wys dat jy tyd geneem het – en dít troos. Meer van jou tyd is nader aan Job se vriende wat saam hom gesit het, as wat ’n afgerammelde boodskap is.
3. Gebruik digitale hulpmiddels tot eer van God
Ons het vandag toegang tot hulpmiddels wat Christene van vroeër nie gehad het nie. As dit met wysheid gebruik word, kan dit ’n uitbreiding wees van jou liefde en medelye.
- YouVersion-app:
Kies ’n leesplan oor hartseer of troos en stuur dit vir iemand. Jy kan selfs saam lees en kommentaar deel. - Spotify of YouTube:
Stel ’n “troos-speellys” saam – Bybelse lofprysingsliedere, Psalms of instrumentale musiek. Deel dit met iemand wat hartseer is. Musiek spreek dikwels waar woorde te min is. - Dwell of ander Bybellesers:
Stuur vir iemand ’n Bybelgedeelte in klankvorm, of neem dit self op in jou eie stem – Psalm 23, Psalm 34 of 2 Korintiërs 1:3–5 is goeie beginpunte.
4. Bid – en laat hulle weet jy doen
Soms sê mense: “Ek sal vir jou bid,” maar vergeet. Maak dit ’n punt om nie net te bid nie, maar dit met liefde te kommunikeer. Stuur ’n stemnota waarin jy vir hulle bid, of skryf ’n gebed wat hulle kan lees. Dis nie net troos nie – dit bring hulle voor God.
Jy kan selfs ’n digitale gebedslys begin – ’n klein groepie wat saam bid vir mense wat rou of hartseer is, selfs al is almal op verskillende plekke.
5. Gebruik aanlynwinkels om iets te stuur
Jy kan selfs nog verder gaan en tegnologie gebruik om iemand te wys dat jy omgee. Een manier om te help aan iemand se laste dra is om hulle met die alledaagse te help. Jy kan byvoorbeeld met Mr Delivery of soortgelyke apps kos of ’n geskenkbewys as ’n bederf stuur. Deesdae kan ons kruideniersware net so maklik soos ’n mooi bos blomme stuur!
Onthou net – al hierdie planne is net ’n troosprys in plaas van jou teenwoordigheid.
Tegnologie is nie dieselfde as jou teenwoordigheid nie
Tegnologie kan nie ’n drukkie vervang nie. Dit kan nie trane afvee nie. Maar dit kán ’n brug wees na iemand se hart – as dit met liefde, wysheid en tyd gebruik word. Die God van alle vertroosting werk nie net deur plekke nie, maar deur mense. En of jy naby of ver is, jy kán gebruik word om iemand op te lig met die troos waarmee God jou ook getroos het (2 Korintiërs 1:4).
Onthou net – tegnologie mag nie ’n totale vervanging van jou as mens – in persoon – word nie. Moenie dat tegnologie jou uitlok om nie méér te doen nie. As jy naby genoeg is om te kan help, of selfs in dieselfde dorp is, gaan luister, gaan troos, en gaan wees daar in persoon. Dan kan jy tegnologie as net nóg ’n manier van daar wees gebruik, nie die enigste manier nie.