God is in beheer van lig én donker

Van Job tot die kruisiging herinner die Skrif ons dat lig en duisternis nie toevallig is nie, maar onder God se heerskappy staan. Lees hier wat dit ons van afhanklikheid leer.

deur ds Schalk Buys


Van die begin van tyd is die son een van die mees konstante simbole in die mensdom – normaalweg met positiewe konnotasies wat ons maak. Die son laat ons dink aan somer, die see en piekniek.

Ons aardbol wentel om die son en so wentel baie van ons lewens ook om die son – die seisoene, ons kalenders, ons landbou en meeste van ons se werksure loop in ritme met die son. Die Bybel leer ons tog dat die son nie ’n magiese god of krag is nie. Dit word reeds al in Genesis onder die Here se mag geplaas waar God die son skape.

Wanneer ons kyk na tekste soos Job 9:7 en Job 38:12-15, sien ons ’n God wat nie net die heelal gemaak het nie, maar dit aktief regeer—tot op die punt waar Hy die son kan beveel om op te hou skyn.

Die almag van God in Job

In die boek Job word ons gekonfronteer met God se grootheid teenoor die mens se nietigheid. In Job 9:7 bely Job: “Hy gee bevel aan die son, en dit gaan nie op nie; Hy verseël die sterre.” Hierdie is nie net poëties geskryf nie. Hiermee erken die skrywer God se absolute gesag oor die skepping. Vir ons is die sonsopkoms vanselfsprekend. Dit het gister gebeur, het vandag gebeur en sal sekerlik more ook gebeur.

In Job 38:12-15 sien ons dat God lig figuurlik gebruik as gereedskap om morele orde voort te bring. Die lig ontbloot dit wat in die donker verberg is. Hiermee sien ons dat dit dikwels ’n teken van oordeel en straf is wanneer God die lig terughou.

Die negende plaag: Duisternis oor Egipte

Ons sien die verberging van lig verder as oordeel as ons kyk na die tien plae in Egipte – spesifiek die negende een. Die negende plaag was ’n duisternis wat oor die hele land Egipte gekom het—’n duisternis wat so tasbaar was dat mens dit kon voel.

Vir die Egiptenaars was hierdie plaag meer as net ’n ongerieflikheid; dit was ’n direkte aanval op hulle hoofgod, Ra, die songod. Deur die son vir drie dae lank te “verduister”, bewys die Here: Die gode van hierdie wêreld is magteloos voor Hom. God is die bron van alle lig. Hierdie beklemtoon ons afhanklikheid aan die Here. Hy alleen is werklik God en Heerser oor ons lewens. Sonder God se lig is die mensdom vasgevang in ’n verlammende duisternis waar geen vooruitgang of oorlewing moontlik is nie.

Die duisternis by die kruisiging

Die belangrikste oomblik waar God die son laat ophou skyn, was gedurende die kruisiging van Jesus Christus. Matteus 27:45 sê: “En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe.” Hierdie duisternis was nie ’n gewone sonsverduistering nie. Dit was ’n bonatuurlike wonder wat die Here so bestem het.

Hierdie duisternis wat die Here bestem het dien dan as die absolute oordeel oor die sonde terwyl Christus aan die kruis hang vir die sondes van die wêreld en daardie sondes vir ons dra.


Dit alles wys aan ons ons afhanklikheid van die Here

Ons word dan tot ‘n nuwe insig gebring: In ’n era van tegnologie en wetenskaplike vooruitgang vergeet ons hoe broos en klein ons bestaan werklik is. Ons dink baie vinnig ons beheer die wêreld met elektrisiteit en satelliete, maar die Skrif herinner ons dat ons elke oomblik van God afhanklik is vir selfs die mees basiese elemente van lewe.

God heers oor die skepping en in sy heerskappy stel Hy die son daar tot versorging van ons. Sonder die son se hitte en lig sou lewe binne minute ophou bestaan. God se “bevel aan die son” is wat ons elke môre aan die lewe hou. Hy is die een wat die Son laat skyn op ons elkeen. Hy is die een wat gee en neem – so geld dit vir die lig van die son ook.


God is volkome in beheer

Ons word herinner dat God se heerskappy in die Bybel dieselfde is as die heerskappy wat in ons lewens teenwoordig is. Hy is die Een wat die sterre in sy hande hou. Hy is die Een wat die son kan laat ophou skyn met ’n enkele woord. Sy almag is nie bedoel om ons bang te maak nie, maar om ons tot aanbidding te dryf.

Wanneer ons besef dat die hele kosmos in Sy hande rus, kan ons met vrede rus. Die son kom môre op, nie omdat dit moet nie, maar omdat God getrou is. En selfs as die donkerste nag in ons eie lewens toeslaan, weet ons dat die Here van die Lig in beheer is.

Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek bang wees?

Psalm 27:1

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui