Jesus kies gehoorsaamheid bo gemak

Hoekom sou Jesus swaarkry kies as daar vir Hom ’n uitkoms was, soos waarvoor Hy bid. Lees hier wat die kruis ons van gehoorsaamheid leer.

deur ds Daniël Myburgh


Wie van ons sal ongemak bó gemak verkies? Wie van ons sal eerder die moeilike pad vat in plaas van die maklike pad? Watter mens sal áktief swaarkry en ellende verkies as nóg ’n opsie welvaart en vooruitgang is?

Sonder om twee keer te dink, sou Jesus Christus “Ek sou!” op al die bogenoemde vrae kon beantwoord. In die Skrifgedeeltes wat die episode in die Tuin van Getsémane beskryf, sien ons hierdie karaktereienskap van Christus goed raak. Hy gaan met oop oë sy lyding en sy dood tegemoet. En tog beleef Hy intense angs oor dit wat vir Hom wag. Hy is alwetend – Hy weet wat daar vir Hom voorlê – en daarom bid Hy vir uitkoms. Maar sy gebed bly onverhoord.


’n Gebed sonder antwoord

Dit is veilig om te sê dat byna álle gelowiges weet hoe dit voel wanneer ’n mens se gebed nié verhoor word nie. Nie een van ons word daarvan gespaar nie. Nie een van ons kan onsself daarop beroem dat ál ons gebede verhoor word nie. Íéwers in ons lewe – êrens in ons geskiedenis – is daar een of meer gebede wat nooit deur die Here verhoor is nie.

Wanneer ons dit hoor, dan besef ons dat onverhoorde gebede nie so vreemd is nie. “Dit is nie iets wat nog net my oorgekom het nie – daar is sóveel van my medegelowiges wie se gebede ook nie verhoor is nie.
En iets wat ons selfs vérdere troos en bemoediging gee, is dat dit selfs ons Here, Jesus Christus, oorgekom het.

Ons lees onder andere in Mattheus 26 van Jesus se gebed in die Tuin van Getsémane waar Hy bid en pleit en smeek en dan word sy gebed nie verhoor nie. Waarom gebeur dit?

As die ware Messias is Jesus Christus aangewys en gesalf om iets baie spesifieks te doen. Hý is gekies om hierdie baie besonderse roeping uit te leef. Die Seun van God is gesálf – Hy is uitgewys en toegerus – om gelowiges van hulle sondes te verlos. Daarom word Hy ook Christus genoem. “Christus” beteken weer “Gesalfde”.


Jesus is gekies vir sy roeping

God die Vader het Hom met die Heilige Gees toegerus om sy roeping hier op aarde uit te leef. Jesus Christus is ál Een wat bekwaam is om gelowiges van hulle sonde te verlos. Die Here beloof al in die Ou-Testament aan koning Dawid dat i(I)emand uit hom gebore sal word om vir ewig oor sy volk, Israel, te heers en verlossing aan hulle te bring (2 Samuel 7).

Hoe weet ons dat hierdie “Iemand” op Jesus Christus dui? Die Here wys dit vir ons in sy Woord – deur die werking van die Heilige Gees. In Lukas 1: 32 en 33 lees ons die volgende:

Hy sal magtig wees, en die Seun van die Allerhoogste genoem word. En die Here God sal aan Hom die troon van sy voorvader Dawid gee. Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer. Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie.

Die skrywer van Hebreërs skryf in hoofstuk 1:8:

Maar vir die Seun sê Hy: “U troon, o God, is vir ewig en ewig, en die septer van geregtigheid is die septer van u koninkryk!”

Alleen in hierdie twee aanhalings is dit duidelik dat Jesus Christus die Ware, Ewige, Almágtige Koning is Wie uit Dawid se nageslag gebore sou word (vergelyk ook onder andere Matteus 1:16, 17).

Jesus se gebed in Getsémane

En nou is hierdie gesalfde van die Here besig om in die Tuin van Getsémane te bid, maar dit wil voorkom asof hierdie gebed van Hom nooit deur sy Vader verhoor is nie. Hoe werk dit? Jesus Christus is dan almagtig. Waarom vlug Hy net nie weg nie? Hoekom laat Hy toe dat ongelowiges Hom gevange neem (Matteus 26:45)?

Waarom kies die Messias áktief ongemak en ongerief?

Selfs al is Hy die Almagtige kies Jesus Christus aktief die benoudheid wat Hy in die Tuin van Getsémane ervaar het, die godverlatenheid wat Hy aan die kruis ervaar het – want sy gehoorsaamheid aan sy Vader se wil weeg vir Hom swaarder as die uitlewing van sy éie wil (onder andere Johannes 6:38).

Filippense 2 leer vir ons dat ons Here, Jesus Christus dít wat vir Hom belangrik was, prysgegee het omdat Hy slégs op sy Vader se wil ingestel was. Omdat Hy volmaak gehoorsaam aan God is, het Hy nie nét Mens geword nie:“Hy het Homself selfs vérder verneder deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja die dood aan die kruis” (verse 6-8).  


Kies soos Jesus gehoorsaamheid aan God bo jou eie gemak

Dink hierdie Paastyd weer aan die gesindheid van Christus. Hy was só gehoorsaam aan sy Vader dat Hy gedoen het wat ook al van Hom verwag is. Hy was só lief vir sy Vader dat Hy ongemak bó gemak verkies het; pyn bó pynloosheid.

Maak nie saak wát sy Vader van Hom vra nie, Christus het dit met graagte gedoen. Kan jy dieselfde sê oor jóú gehoorsaamheid aan jóú Vader?


Kry ’n werkblad vir kinders hier:

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui