Jou verhouding met God is belangriker as jou foon

In Lukas 10 leer ons die verskil tussen dit wat belangrik is en dit wat noodsaaklik is. Lees hier hoekom ons verhouding met die Here noodsaaklik en hoe ons fone ons daarvan kan weerhou.

deur ds Barend van der Westhuizen


Aandagafleibaarheid. Dit is ’n probleem van ons tyd. As elkeen van ons eerlik is met onsself dan sal ons erken: Dit is tot ’n mindere of meerdere mate ’n probleem in my eie hart en lewe. Dit kan baie nadelig wees – veral in ons verhouding met die Here. Hierdie probleem sien ons reeds in Lukas 10:38-42 raak.

Afleidings kan maak dat ons dit wat noodsaaklik is mis

In Lukas 10:38-42 sien ons hoe Martha se aandag afgelei was deur ’n baie belangrike ding. Dit was om gasvry te wees. Vir enige gelowige moet gasvryheid van groot belang wees.

In hierdie gedeelte leer ons dan dat Martha en Maria vir Jesus as ’n Gas ontvang. Vir Martha was dit belangrik om ’n uitstaande gasheer te wees. Daarom het sy met voorbereidings gewoel en gewikkel. Dit terwyl haar sussie Maria bloot by Jesus se voete gesit en na sy stem geluister het. Martha was baie ontevrede met haar sussie gewees. Daarom het sy Jesus versoek om vir Maria aan te spreek om haar wat Martha is te help. Wat was Jesus se antwoord?

Martha, Martha, jy kwel en ontstel jou oor so baie dinge, maar net een ding is noodsaaklik, en Maria het die goeie deel gekies; dit sal nie van haar af weggeneem word nie.

Lukas 10:42-43

Die verskil tussen belangrikheid en noodsaaklikheid

Was gasvryheid dan nie belangrik nie? Ja, dit was. Dit was egter nie noodsaaklik nie. Wat vir ons en Martha noodsaaklik is, is om na Jesus te luister. Martha se probleem was egter dat haar voortdurende aandag by die voorbereidings veroorsaak het dat haar aandag nie by die Gas self was nie. Haar beheptheid met gasvryheid het gemaak dat sy Jesus se stem gemis het. Die belangrikheid van voorbereidings het haar aandag afgetrek van dit wat sy regtig nodig gehad het – Jesus!

In ons lewe is daar natuurlik ook baie dinge wat ons aandag so kan aftrek sodat ons uit die oog verloor wat ons regtig nodig het. Een van die grootste afleidings wat kompeteer om ons aandag van Hom af te trek is egter ons fone.


Fone en ons verhouding met die Here

Dit is natuurlik so dat ons fone ’n belangrike deel van ons praktiese manier van leef uitmaak. Daar is dikwels belangrike dinge wat via ons foon na ons toe kom wat keer op keer vra: Sal jy asb nou jou aandag hier gee? Hierdie kennisgewing wat deurkom is belangrik. Daardie e-pos wat ek ontvang is belangrik. Hierdie oproep wat nou deurkom is belangrik. Hierdie nuusbrokkie oor die nuutste wêreldgebeure vra my aandag.

Daar is egter minder belangrike afleidings soos ’n eindelose Facebook “scroll”. Tiktok video’s en ure se YouTube-kyk. Dit is wanneer die algoritme maak of dit my beter ken as myself. Nuwe video’s in my ydele-of-immorele belangstellingsveld word voorgestel om op te kliek. Net nog vyf minute word ’n uur. Tienuur se slaaptyd word twaalfuur die aand. Moeg opstaan en skool toe of werk toe gaan raak ’n nuwe werklikheid.

Terwyl die eise van die lewe toeneem kan dit dan gebeur dat ek keer op keer na die virtuele wêreld op my foon ontsnap. Net om ’n oomblik weg te kom van die harde werklikheid. Net om vir ’n oomblik myself weer te vermaak. Dit terwyl sperdatums, hope werk, belangrike gesprekke en geestelike groei agterweë gelaat word.

In hierdie eindelose tydverdryf op ons fone vra ons dan: Hoe vergelyk dit met die tyd wat ons saam die Here spandeer? Word ’n tienuur die aand se persoonlike Bybelstudie ook twee ure lank? Word een Bybelversie dalk twee, drie of honderd? Of word vyf minute in gebed dalk dertig? Hoeveel tyd en aandag gee ek aan God en wat vir Hom belangrik is teenoor aan hierdie digitale toestelletjie in my sak?


Ons verhouding met die Here moet die grootste prioriteit wees

Uit hierdie gedeelte in Lukas 10:38-42 sien ons die gevaar van iets wat ons aandag van die belangrikste ding in die lewe kan aftrek – ons verhouding met die Here. Ons verhouding met die Here moet ons grootste prioriteit wees. So maklik word ons stiltetyd egter onderbreek of opsy geskuif deur daardie kennisgewing, foonoptel en “scroll”, nuusbrokkie, oproep, piep en vibrasie.

Ons moet waak daarteen dat ons fone ons versoek om te dink dat alles wat hierdie toestel my bied, en tot toegang gee, is wat ek regtig vandag nodig het. Wat ek regtig vandag nodig het is Jesus. Dit is om stil te word en na sy stem te luister. Dit is om voortdurend bewus van sy Woord te wees.

God se stem vertel aan my die goeie nuus van sy liefde en genade vir my. Sy stem en teenwoordigheid rus my toe vir my dagtaak sodat ek in sperdatums, verhoudings, hope werk en belangrike gesprekke geestelik kan groei om Geesvervuld tot sy eer te leef.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui