Nóú is die regte tyd!

God skenk sy genade aan ons, maar ons moenie wag om daarop te reageer nie. Lees hier hoe om vandag God se genade in geloof te ontvang.
deur ds Ruan Steyn
Ek hoor gereeld jongmense (en mense oor die algemeen) wat sê dat daar nog baie tyd is voordat hulle nodig het om erns met hul geloofslewe te maak. Daar is verskeie redes hiervoor: vrees vir sosiale druk; die misverstand dat geloof eers volwasse moet wees; die afwagting vir die regte omstandighede; ’n fokus op studies, werk, en om ’n gesin te begin; ’n soeke na meer inligting of bewyse voordat hulle geloofsbesluite maak; en die illusie dat daar genoeg tyd sal wees om vir God en hulle geloofslewe ernstig op te neem. Daar is seker nog honderde redes wat genoem kan word.
Begin vandag met erns oor jou geloof lewe
Wanneer ons die Here se Woord bestudeer, sien ons die belangrikheid om nóú reeds erns met ons geloofslewe en verhouding met die Here te maak.
Paulus skryf in sy tweede brief aan die gemeente in Korinte:
As medewerkers van God doen ons ’n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie … Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing.
2 Korintiërs 6:1-2, 2020-vertaling
Die genade van God waarna Paulus hier verwys, is die verlossing wat Hy deur Jesus Christus vir hulle bewerk het.
In 2 Korintiërs 5 beskryf Paulus hierdie verlossingswerk as die “bediening van versoening”. Dit spreek van die Here se onverdiende guns en liefde, wat die grondslag van gelowiges se redding is. Hierdie genade vereis egter ’n reaksie. Nie ’n passiewe reaksie nie, maar ’n oproep tot aktiewe deelname (“medewerkers van God”) en gehoorsaamheid.
Paulus waarsku die gemeente om nie hierdie genade tevergeefs te ontvang nie. Die woord wat vir tevergeefs gebruik word, beteken om leeg en sonder resultaat te wees. Dit beteken om God se genade eenkant te plaas, nie daarvolgens te lewe nie, dit te minag en om die kragtige implikasies daarvan te ignoreer.
Wat gebeur as jy nie op God se genade reageer nie?
Om die Here se genade tevergeefs te ontvang, hou geweldige gevolge vir mense in. Om net ’n paar te noem:
- Van uitstel kom afstel. Hoe langer jy uitstel, hoe minder belangrik word dit vir jou.
- Die blootstelling aan versoekinge vergroot. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose. Die duiwel gaan hierdie geleentheid gebruik deur verskeie versoekinge oor jou pad te bring met die doel om jou verder weg van die Here te lei, totdat jy nie meer sy genade erken en aanvaar nie.
- Jy is ’n ontvanger van die Here se genade, maar omdat jy dit tevergeefs ontvang, kan jy nie getrou daarvan getuig nie. Jou uitstel beroof ander mense van jou getuienis.
- Hoe vroeër jy in geloof en gehoorsaamheid op die Here se genade reageer, hoe meer tyd is daar om karakter te bou en gevorm te word. Dieselfde gaan nie noodwendig gesê kan word wanneer jy aanhou om uit te stel nie.
Antwoord in geloof op God se genade
Die doel van die artikel is nie om al die slegte aspekte te noem nie, maar om jou te bemoedig om in geloof die genade van God te ontvang. Paulus herinner die gemeente van Korinte aan ’n belangrike waarheid: “Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing.”
God se geskenk van verlossing is nie ’n belofte vir die toekoms nie. Dit is ’n geleentheid wat nou benut kan word. Die “regte” tyd is nie eendag nie, maar reeds nóú! Vandag kan jy op God se genade reageer deur ’n lewe van toewyding aan Hom (vergelyk Romeine12:1-2).
Hier is ’n paar praktiese riglyne om die Here se genade in geloof te ontvang:
- Antwoord vandag met ’n direkte “JA”; erken jou sonde, glo in Christus en vra dat God sal aanhou om jou deur sy Gees te verander en te vernuwe.
- Soek geestelike mentors. Vra vir ’n persoon wat volwasse in die geloof is om jou te help, om saam met jou die Woord te bestudeer en te bid, en om jou aanspreeklik te hou.
- Sluit aan by ’n Bybelstudiegroep, groeigroep, kleingroep. ’n Gereelde byeenkoms saam met ander gelowiges help om ons te vorm en om in ons geloof te groei.
- Kweek goeie gewoontes. Maak tyd in jou besige skedule om daagliks te bid, Bybel te lees en om diensbaar in die kerk en koninkryk te wees.
Vandag roep ons mekaar op: die toekoms is nie ’n gegewe nie. Moenie uitstel nie – nóú is die regte tyd om op God se genade te reageer. Om die genade tevergeefs te ontvang, sou beteken om die grootste geskenk te verag en die geleentheid vir ’n ewige verhouding met God te verspeel.
