Mag ek “praise and worship”-geleenthede bywoon?

deur ds Werner Brotherton


Ons kry in die Bybel op baie plekke, veral in die Psalms, die opdrag om die Here te loof met ons stemme en allerlei instrumente. Hoe lyk dit? Beteken dit dat ek “praise en worship”-geleenthede kan bywoon?

Wanneer ons oor enige iets wonder moet ons vra of dit tot eer van God is. Nie of ons dink dit is tot eer van God en of ons onsself graag wil oortuig dit is tot eer van die Here nie.

1. Is die musiek Skrifgetrou?

Hoe kan ek weet of dit tot eer van God is? Ek toets dit aan die Woord. Is die liedere wat daar gesing word Skrifgetrou of sing ons dwaalleer? Of is dit liedjies wat gelaai is met menslike emosies onder die vaandel van geloof? Is die musiek dalk belaai met voorspoedteologie?

Die graag kom basies op die volgende neer: Op wie word daar gefokus? Is die Here die fokus of die mens? Wanneer hierdie geleenthede presies lyk soos enige ander vertoning is dit gewoonlik ʼn antwoord om eerder weg te bly.

2. Gaan dit net oor wat jy voel?

’n Tweede vraag wat ons moet vra: gaan dit net oor die gevoel? Iets wat baie keer by so ’n geleentheid gebeur is dat ons gevoel moet bepaal of dit werklik gelowig is of nie. Daar sal dan baie tegnieke in die musiek gebruik word om hierdie “gevoel” by jou op te wek. Herhaling is ’n vorm van hipnose om hierdie gevoel by jou op te wek.

Dan sal daar gesê word dat wanneer jy hierdie gevoel het, is dit ’n bewys dat die Heilige Gees nou daar teenwoordig is. Tog is die Heilige Gees alomteenwoordig. Ons gevoel kan nooit bepaal hoe eg iets is nie, omdat ons gevoelens aan die sonde onderworpe is.


Lofprysing gaan oor God

Lofprysing aan die Here is ’n opdrag en dit gaan oor Hom. Hy is die middelpunt daarvan. Hierdie opdrag word ook gegee aan die hele gemeente van God. Dit is nie net vir hulle wat “mooi” sing nie. Psalm 33 sê dat dit by die gelowige pas om te sing.

Ons kan onsself ook af vra of dit noodwendig beter is om so geleentheid by te woon teenoor ’n erediens? In elke erediens is daar immers lofprysing. En hier moet ons nou nie dink dat ons ons gevoelens moet afsluit nie. Ons het gesê dat ons nie op ons gevoelens moet vertrou nie, maar dit beteken nie dat dit afwesig is nie.

Wanneer ons die Here loof en prys kan ons tog nooit emosieloos wees nie. Ons moet juis weggeneem word terwyl ons met alle aandag fokus op dit wat ons sing, want dit gaan oor die Here. Wat leer ek oor die Here in die wat ek sing? Wat leer ek van myself? Of soos Kolossense 3:16 sê: hoe bemoedig ek my medegelowige, hoe vermaan ek hom, hoe leer ek my medegelowige van die Here in dit wat ek sing?

Ja, laat alle lofprysing tot eer van die Here wees! Ook wanneer dit buite die erediens is. Hy is die middelpunt van alles, en mag dit ook so wees wanneer ons Hom loof met ons stemme en instrumente.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui