Josua as voorbeeld om ’n huis te lei

Leer uit Josua as voorbeeld hoe ’n pa sy huishouding en die van sy nageslag kan beïnvloed. Lees hier hoe hy sy huis lei om die Here te dien.

deur Schalk Buys


Vandag word dit al belangriker om te verseker dat ons kinders veilig is en goed opgevoed word. Dit is ons plig as ouers om ons kinders te beskerm – dit is veral die plig van vaders!

As vaders moet ons hulle bevoeg vir die wêreld en alles daarin. Maar, dit is ook belangrik om ons kinders in die waarheid van ons geloof op te voed. Dit is nie net ’n bevel wat aan ons gegee word nie, maar dit is ook daar om ons kinders te beskerm.

Paulus leer self aan ons dat ons volwasse moet word in die geloof in Efesiërs 4:14. Ons moet volwasse word, of anders gestel – opgevoed word, in die geloof sodat ons nie deur “golwe heen en weer geslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur die bedrog van mense, deur slinksheid in die strikke van dwaling nie”.

Daarvoor moet ons onsself verskerp in God se Woord. Daarom kyk ons na Josua en sy rol as hoof van sy huis en hoe hy verseker het dat die wat na hom kom aan die Here getrou bly.


Agtergrond oor Josua

Josua was die seun van Nun. Hy was ook die opvolger van Moses en het die volk na die beloofde land gelei. Voor dit was hy bekend as een van die twaalf verkenners wat Kanaän moes ondersoek. Hier sien ons reeds sy vertroue in God eerder as die krag van die volk. Hy, saam met Kaleb, het uit geloof bely dat hulle deur God se mag die land sal inneem eerder as wat hulle dit uit hul eie mag sou doen (Numeri 14:6-9).

Onder Josua se leiding het Israel die Jordaanrivier oorgesteek en die beloofde land begin verower. Josua het die verowerde land onder die twaalf stamme verdeel en die volk opgeroep tot gehoorsaamheid aan die Here. Ook sien ons Josua se regverdigheid en vrees vir die Here in die hantering van Achan in Josua 7:18-26.


Josua se belydenis en belofte

As ons van Josua hoor dan hoor ons ook die bekende aanhaling van sy belydenis in Josua 24 vers 14 en 15, veral dan die laaste gedeelte:

En nou, vrees die Here en dien Hom in opregtheid en trou. Verwyder die gode wat julle vaders gedien het anderkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vandag wie julle wil dien — of die gode wat julle vaders anderkant die Eufraat gedien het, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

Hierdie belydenis van Josua dien nie net as vermaning en waarskuwing aan die volk nie, maar dit wys ook op ’n belofte wat Josua maak – Hy roep die volk om gehoorsaam te wees en getrou te wees aan die Here. Dan volg hy op met die feit dat al sou hulle weggaan van die Here sal Hy en sy huis steeds getrou bly aan God. Hulle sal die Here dien.


Josua neem verantwoordelikheid as hoof van die huis

Josua bly, deur geloof in God, getrou aan die Here. Hy bely dat hy sal verseker dat sy huis, of familie en nageslag, die Here sal dien en aan die Here getrou sal bly. Josua neem die verantwoordelikheid as die hoof van sy huis om te verseker dat sy huis die Here sal dien, soos wat ’n pa vandag behoort te doen.

Ons sien dan ook in Josua 24 vers 31, dat Israel Josua se voorbeeld volg:

En Israel het die Here gedien al die dae van Josua …

Josua se voorbeeld roep die volk om getrou te bly aan God. Hy roep, deur sy vermaning, sy naaste tot geloof.


Josua se opvoeding kom van God

Waarom kon Josua hierdie alles doen? Waar het Josua die moed en die insig ontvang om sy huis en ook die volk te kon lei? Die antwoord is natuurlik dan by God self. Ons sien dit reeds in Josua 1 vers 7 tot 9:

… Wees net baie sterk en vol moed, dat jy nougeset kan handel volgens die hele wet… moenie daarvan afwyk na regs of links nie… Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie, maar jy moet daarin peins dag en nag… Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed! Moenie vrees of verskrik wees nie, want die Here jou God is met jou oral waar jy gaan.

Josua kan voortgaan en sy huis en die volk lei omdat die Here hom bevoeg maak daarvoor. Deur die bepeinsing van die Here se wet, deur ’n nou-verwante lewe aan God, leer die Here Josua die insig en bied die Here krag aan Josua om sy Godgegewe plig uit te voer. Die Here gee aan Josua die krag om sy huis en volk te lei, en om ’n voorbeeld vir hulle te wees.


Die les wat Josua ons leer

Daarom is dit belangrik vir ons om oor die Here se Woord te dink en dit te bepeins. Dit is belangrik vir ons om in verhouding met die Here te leef. Ons behoort nie net die insig en krag te ontvang om ons huis te lei deur die gawes wat die Here ons bied nie, maar ook om ’n voorbeeld te wees vir ons kinders, ons gemeenskap, ons naaste en ons nageslag.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui