Wie bid, moet glo dat hy ’n Middelaar het!
Deur ds. Marnix Boersema
Ons kan nie van vriendskap en verhouding met God praat, as ons nie eers van middelaarskap praat nie. Ons het ’n Middelaar nodig in ons verhouding met die Almagtige. In Eksodus 32 en 33 lees ons hoe Moses vir die volk intree. Net so sien ons hoe Jesus Christus vir ons die Middelaar is. As jy bid, moet jy glo dat jy ’n Middelaar het. Sonder Jesus as jou Middelaar sou jy nie met God kon praat nie.
Moses praat met die Here
Die Here het “direk met Moses gepraat soos ’n man met sy vriend” (Eksodus 33:11). Wat ’n aangrypende gedagte! Is dit nie wat ons soek in ons gebede nie? Ons lees hierdie vers en ons wonder hoe ons net soos Moses met die Here as ’n vriend kan praat. Maar miskien moet ons eerder vra: Sal die Here my sy vriend noem?
Een van die basiese elemente van ’n vriendskap, is gesprek. Sonder ’n vorm van kommunikasie is vriendskap en verhoudings bitter moeilik. Daarom kan ons heelwat oor ons verhouding met God sê as ons na ons gesprekke met God kyk. Sonder gebed, kan ons nie van ’n gesonde verhouding met God praat nie. ’n Gesonde verhouding met die Here, is ’n verhouding van gereelde gebedsgesprekke.
In Eksodus 33:7 lees ons dat Moses ’n tent buite die kamp opgeslaan het en dit “die tent van ontmoeting” noem. As iemand met die Here wou praat, kon hulle na die tent gaan. Daar het ’n groot wolkkolom oor die tent gesak as Moses daar ingegaan het, as ’n teken dat God daar teenwoordig is. God en Moses praat dan in die tent van samekoms soos vriende.
Moses as middelaar vir die volk
In Eksodus 32 lees ons hoe Moses vir die volk by die Here intree. Terwyl Moses op die berg Sinai die twee kliptafels met die 10 gebooie ontvang, is die volk alreeds besig om dit te verbreek. Hierop sê die Here vir Moses: “Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer” (Eksodus 32:10). Hierdie verbondsbreuk is genoeg om God se toorn oor die hele volk te laat ontvlam. Moses tree egter in en sê “as U tog hulle sonde wou vergewe! En so nie, delg my dan maar uit u boek wat U geskryf het” (Eksodus 32:32). Moses pleit namens die volk. Hy sê dat hy in hulle plek die straf sal dra. Moses is ’n middelaar wat tussen God en die volk staan.
Christus is middelaar en vriend
As ons Eksodus 33 lees, wil ons onsself graag as Moses sien. Maar, die feit van die saak is, ons is Israel. Ons is die skuldige volk. Die twee punte wat ons bymekaar moet bring, is dat God ons nie sy vriende noem nie, en dat ons God nie ons vriend kan noem nie … tensy iemand eers vir ons intree. Voordat ons ’n diep gebedsverhouding met God kan hê, het ons eers ’n Middelaar nodig.
Net soos Moses die middelaar vir die volk was, het Jesus Christus vir ons die Middelaar geword. Hy het gevra dat die Here sy toorn op Hom uitstort. Christus het die vervloeking en doodstraf gely, en dáárom kan daar samekoms en ontmoeting wees. Nie meer in ’n tent buite die laer nie, maar in ons binnekamer! Daar kan nou ’n diep verhouding tussen ons en God wees, want Jesus Christus is ons Middelaar en Vriend.
Dié vriendskap is duur gekoop
Ons moenie ligtelik van ’n vriendskap met God praat nie. Dit is ’n baie duur vriendskap. “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee,” sê Jesus in Johannes.
Hierdie verbondsverhouding, wat so duur gekoop is met Christus se bloed, is nie bedoel om ’n platoniese, nikseggende, oppervlakkig vriendskap te wees nie. Dit kan en mag nie net ’n gesprek elke dan en wan wees nie. Dan het jy nog nie die vaagste benul van wat Christus se Middelaarskap beteken nie.
Ons besef eers die waarde van ons verhouding met God as ons die genade van Christus se Middelaarskap verstaan en in Hom glo. As ek glo dat Christus my Middelaar is, dan kan ek – met groot vrymoedigheid – deur die Heilige Gees bid.
Meer as vriendskap, kinders van God
In Romeine 8:15
sê die Here: “Die Gees wat aan julle
gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe
nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat
ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader.”
Ons is nie net vriende nie, maar kinders van God! Selfs terwyl ons bid is die
Here met ons besig en werk Hy in en deur ons met sy Gees. Lees wat sê Romeine 8
verder in vers 26: “Die Gees staan ons
ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar
die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie.”
Bid en glo: jy het ‘n Middelaar!
Die Heilige Gees laat ons na God verlang. Die Gees open ons mond om ’n gesprek met die Here te voer. Dit alles het Christus vir ons verwerf en gegee, toe Hy vir ons ingetree het. Ek het ’n Middelaar, en daarom kan ek God ontmoet; kan ek met Hom praat, soos ’n man met sy vriend praat.
Wanneer ons bid, kan ons diep, vrymoedige en innige vriendskapsgesprekke met die Here hê, want Jesus is ons Middelaar. Daarom bid ons ook in die naam van ons Middelaar – ons bid “in die naam van Jesus Christus”.
Ons dra ons gebede op aan ons Middelaar, want ons Middelaar is ook ons Vriend. Ons het steeds eerbied en respek vir Hom. Maar tog kan ek tot Hom bid; met Hom praat “soos wat ‘n man met ’n vriend praat”.