Vertrou op Jesus – Hy het medelye met jou

Jesus is nie ver van ons hartseer af nie – Hy weet van swaarkry op aarde, Hy het ook gehuil. Daarom het Hy meegevoel met ons. Leer hier meer.

deur ds Barend van der Westhuizen


Daar is baie dinge in hierdie gebroke wêreld en ons gebroke sondige menswees wat ons hartseer en swaarmoedig maak. Daar is baie dinge wat ons laat voel dat ons wil moed opgee. Dit voel soms of dit nie die moeite werd is om aan te gaan nie. In sulke tye verlang ons na uitkoms. Ons verlang na iemand wat verstaan. Ons smag na iemand wat kan troos en bemoedig. Van watter belewenisse praat ons?

Kan jy met die volgende identifiseer?

  • Het jy al gevoel dat niemand verstaan waardeur jy gaan nie?
  • Voel jy soms dat niemand jou alleenheid verstaan nie?
  • Kan niemand indink hoe swaar jy kry nie?
  • Besef niemand hoe moeilik my week en dag is nie!
  • Niemand ken my vrees vir die toekoms nie!
  • Hoe sal enigiemand weet hoe ek voel na ek my geliefde verloor het!
  • Niemand kan hom indink in die pyn wat hierdie siekte of teleurstelling meebring nie.
  • Wie sal verstaan hoe min ek werklik het nie!
  • Wie sal verstaan met watter versoekinge ek worstel …
  • Niemand kan insien in hoe onregverdig ek behandel word nie!

Daar is Iemand wat jou seerkry verstaan

Die Hebreërskrywer sê daar is Iemand wat verstaan! Hierdie is nie sommer ’n iemand nie. Dit is God. Dit is Jesus. Hy sit as ’t ware sy hand op ons skouer. Dit is nie maar net enige hand nie; Dit is ’n spykerdeurboorde hand. Hy sê: Ek verstaan. Ek het volkome begrip, want Ek het meer beleef as wat jy ooit sal beleef. Jesus verstaan nie net presies nie, maar Hy wil iets daaraan doen; Hy wil help.


Jesus Christus het meegevoel vir jou

Hebreërs 4:14-14 sê dat ons met vrymoedigheid na die troon van genade kan nader. Hoekom? Want Jesus is ons Hoëpriester wat ten volle die menslike ervaring gehad het. Hy weet wat dit is om deur die Satan versoek te word. Hy is die almagtige God en Koning op die troon, maar Hy het ten volle mens geword en is in alle opsigte soos ons versoek, sonder dat Hy gesondig het. Jesus het medelye en meegevoel met ons swakheid.

Die woord medelye is waar ons die woord simpatie vandaan kry. Simpatie gaan daaroor om jouself in iemand anders se skoene te kan indink. Hebreërs 13:3 verwoord die betekenis van simpatie goed as dit sê:

Dink aan die gevangenes asof julle medegevangenes is, en aan die wat mishandel word, as mense wat self ook ’n liggaam het.

Jesus het Homself nie net in ons situasie ingedink nie. Hy het Homself in ons situasie geplaas.


Wat moet ons in ons swakheid doen?

Ons leer in Hebreërs 4:14:

Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely.

As ons sê dat ons vashou aan ons belydenis van geloof bedoel is dit: Ons moet styf vashou aan wat ons glo rakende wat Hy as Hoëpriester vir ons gedoen het. Hou vas aan jou geloofsvertroue in Hom. Hou aan om Hom te volg te midde van swaar en gebrokenheid. Moenie tou opgooi nie!

Maar, ons moenie net styf vashou aan ons belydenis nie, ons moet die troon van genade nader om op die regte tyd gehelp te word. Jesus wil hê ons moet Hom nader omdat ons God se hulp nodig het. Jesus help ons dan deur ook sy Heilige Gees te stuur. Die Gees lei ons dus om biddend te roep na ons Vader in gebed. Dit alles sodat ons op die regte tyd gehelp kan word.

Wanneer is die regte tyd?

Die skrywer sê in Hebreërs 3:7 dat dit vandag is. So lank soos wat dit vandag is. Die regte tyd vanuit die grondtaal dui op – ’n goeie tyd of gepaste tyd. Die gepaste tyd vir ons om tot God te nader is elke dag. Elke dag in gebed; in oorgawe. Dit is die regte tyd!


Leer uit Jesus se voorbeeld as Lasarus sterf

Johannes 11 wys aan ons dat elke mens sal moet sterf. Lasarus het gesterf. Jesus sou sterf. Die dissipels sou sterf. En ek en jy? Voor Jesus nie weer kom nie sal ons ook moet sterf. Hierdie werklikheid van die dood gryp ons. Saam met Martha en Maria het ons nodig dat ons getroos word.

Die wonderlike is dat dit nie net mense is wat Martha, Maria en ons dan troos nie. Dit is God self. Dit is ons Here Jesus wat in ons hartseer instap. Hy staan nie apaties en gevoelloos eenkant en kyk hoe swaar ons kry nie. Hy is teenwoordig. Jesus huil saam met Maria-hulle (Johannes 11:35).


Dit is ons Here Jesus wat in ons hartseer sy teenwoordigheid wys. Dit is ons Here Jesus wat in ons hartseer sy gesindheid van liefde aan ons wys. Die Seun van God troos ons met hierdie woorde (Johannes 11:25): Elkeen wat in my glo, leef al het Hy ook gesterf. Vir wie is hierdie woorde tot troos? Vir elkeen wat glo. Glo jy in Hom?


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui