Die Heilige Gees is jou hulp in troosteloosheid

Jou troos moenie kom van die dinge in die lewe nie. Dit is net die groot Trooster wat ons volmaak kan troos. Lees hier hoekom ons vir én deur die Heilige Gees moet bid.

deur Theuns de Bruyn


In ons elkeen se lewens is daar heelwat wat tot hartseer en droefheid kan lei: Ons sien verganklikheid. Ons beleef trauma. Ons verloor geliefdes en kom slegte dinge oor. En dan beleef ons dalk angs of frustrasie.

Alle mense het een of ander tyd troos nodig. Maar, mense gaan soek dikwels hul troos op die verkeerde plek. Gewoonlik soek hulle dit in dinge wat goed is vir die liggaam, maar nie vir die siel nie. Hulle soek dit in dinge wat relevant is vir die tyd, maar nie die ewigheid nie. En dit sal nooit genoeg troos kan wees nie. Slegs die groot Trooster kan ons heeltemal troos.


Soek die Here in gebed

Gelowiges moet daagliks, maar veral in tye van hartseer, die Here se aangesig in gebed opsoek. Ons enigste troos in lewe en in sterwe is nie maar net die dinge wat die Here vir ons gedoen het, of kan doen nie. Ons troos is dat ons geheel en al aan Jesus Christus behoort.

Jesus het ons met sy kosbare bloed gekoop, sodat God in Hom ons Vader kan word. Hy het dit gedoen sodat die Heilige Gees nooit meer van ons af sal weggaan nie. Hy het dit dus gedoen dat ons gemeenskap met God heel kan wees. Maar die Here wil dat daardie gemeenskap beoefen word. Hy wil ons ook heel maak vanuit ons gemeenskap met Hom. Daarom is dit lewensbelangrik om in tye van hartseer te bid.

Dit is lewensbelangrik om in tye van hartseer te bid. Maar dis juis wanneer dit moeilik raak! Soms verwyt ons dalk die Here vir ons verlies of ons seer. Soms voel ons skuldig daaroor en dan bid ons liewer net nie. Maar dit is juis dan wanneer ons ons harte voor die Here moet uitstort. Dit is juis dan wanneer ons met Hom moet omgaan in ons gebede. Dis juis dan wanneer ons Hom moet soek. Die Here het in Christus ons gemeenskap met Hom herstel, sodat ons dit kan leef.


Die Here se belofte vir die wat bid

Dit is egter ook nog belangrik om te bid, omdat die Here vir die wat bid ’n kosbare belofte gee. Hy belowe om die Heilige Gees te gee aan elkeen wat Hom sonder opbou daarvoor vra.

As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.

Lukas 11:13

Sonder die Heilige Gees kan ons nie gehoorsaam onder God se heerskappy leef nie. Sonder die Heilige Gees se vervulling is ons ook nie toegerus vir enige taak of uitdaging wat voor ons lê nie. Daarom bid ons die Here vir die Heilige Gees.

Ons klop, sodat Hy Homself vir ons oopmaak. Ons soek, sodat Hy Hom deur ons laat vind. God belowe dat Hy die Gees sal gee aan elkeen wat dit sonder ophou van Hom bid.


Die Heilige Gees lei ons om te bid

Die verlies wat ons dalk in hierdie lewe ervaar, die trauma en die seer sal altyd vir ons te veel wees om te hanteer. Maar dit is nooit te veel vir die Heilige Gees nie. Daarom moet ons vir Hom bid. Maar, ons bid dan ook nie net vir Hom nie, maar deur Hom.

In Romeine 8:26-27 skryf die apostel Paulus:

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Die Heilige Gees ken ons swakhede. Hy kom ons in ons gebede te hulp. Wanneer ons nie weet wat om te bid nie, dan lei Hy ons volgens die wil van God.


Die Heilige Gees neem ons laste op Hom

Calvyn stel dit treffend: “… dat die Gees ’n deel van die las, waardeur ons swakheid beswaar word, op Homself neem, sodat Hy nie alleen ons ondersteun en te hulp kom, maar ons tot so ’n mate ophef asof Hy saam met ons onder die las gebuk gaan”.

Die Heilige Gees neem ’n deel van ons las op Hom. Hy doen dit veral deur die Woorde van die Here in ons monde te lê. Daarom bid ons die Here se Woord aan Hom terug. Maak dus moeite om byvoorbeeld die Psalms te bid. Die Heilige Gees het hierdie skat vir ons gegee dat ons dit onder andere kan bid. Bid daarom vir die Gees. Bid ook déúr die Gees.

Die Here het destyds vir Serubbabel, wat die tempel moes herbou, belowe dat sy taak nie vir Hom te groot sal wees nie, omdat die Gees by Hom is:

Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!

Sagaria 4:6-7

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui