God sal ons veilig lei – net soos vir Paulus

Paulus vertel in 2 Korintiërs van al die ontberings in sy lewe. Lees hier hoe hy ten spyte daarvan, saam God, standvastig gebly het.
deur ds Philip Wepener
Die apostel Paulus het uitsonderlike ontberings vir die evangelie van Jesus Christus ondergaan. In 2 Korintiërs 11:23-29 beskryf hy die kere wat hy in die tronk gesit het, skipbreuk gely het, met swepe en stokke geslaan is, gevare van verskeie mense en omstandighede in die gesig gestaar het, slapelose nagte gehad het, asook honger en koud gaan slaap het.
Soos Paulus, kan baie van ons oor ons eie ervarings van ontberings nadink. Sommige van ons gaan dalk nou deur sulke tye. Hoe het Paulus dit reggekry om standvastig te bly? Deur alles het hy nog sy bediening voortgesit ten spyte van al die ontberings. Kom ons oordink hierdie vraag in die konteks van Paulus se seereis van Caesarea na Rome. Dit word in Handelinge 27 beskryf.
Paulus se ontberings op see
’n Deel van Paulus se ontberings het tydens ’n storm en skipbreuk op die Middellandse See gebeur. In hierdie tyd was Paulus ’n gevangene wat na Rome vervoer is om voor die keiser te verskyn. Lukas het Paulus vergesel en die ontberings beskryf wat hulle tydens die seereis ervaar het.
Die bemanning is gedwing om die skip se vrag en toerusting oorboord te gooi. Almal was so angstig dat hulle vir twee weke lank nie geëet het nie! Uiteindelik het die skip op ’n rif gestrand, en almal moes na die eiland Melite swem. En asof die ontberings op see nie genoeg was nie, is Paulus deur ’n giftige slang gebyt toe hulle die eiland bereik het (Handeling 28:3).
Wanneer die son en die sterre vir lank nie skyn nie
Tydens die storm, het Lukas opgemerk: “die son en die sterre het vir baie dae nie geskyn nie, en die storm het ook nie in hewigheid afgeneem nie, sodat alle hoop om gered te word, ons ontneem is” (Handeling 27:20). In daardie tyd het die matrose die son en die sterre gebruik om te navigeer. Toe die storm hierdie hemelse ligte verduister het, het die situasie uiters sleg geword.
Wat met Paulus, en almal op die skip, tydens die storm gebeur het, toe nóg die son nóg die sterre sigbaar was, dien as ’n metafoor vir ons eie ontberings wat ons van tyd tot tyd ervaar.
Tog is die boodskap van hierdie verhaal dat God in beheer is, selfs wanneer ons hoop verloor. Al verloor ons ons koers, moet ons nie tot die gevolgtrekking kom dat God ons verlaat het of van ons vergeet het nie. Immers, God het ’n engel na Paulus gestuur met ’n troosvolle boodskap:
Moenie bang wees nie, Paulus, jy moet nog voor die keiser verskyn. Kyk, God het in sy genade die behoud van almal wat saam met jou vaar, aan jou geskenk.
Handelinge 27:24
Kom ons leer by Paulus!
Paulus het inderdaad verskillende storms op see geken. Hy het self drie skipbreuke ervaar, waarvan een hom vir ’n nag en ’n dag in die oop see laat ronddryf het (2 Korintiërs 11:25). Daarom kon hy homself en almal op die skip troos dat God in beheer is.
God beheer soewerein al die storms van die lewe. God kan en Hy sal uiteindelik sy kinders veilig lei – selfs deur die ergste storms. Wanneer die storms bedaar en die lug begin opklaar, sal ons opkyk en weer die son en die sterre sien, en besef dat God al die tyd saam met ons was!
Selfs voordat God vir Paulus en almal op die skip van die storm gered het, het Paulus die gemeente in Rome aangespoor om op die goeie nuus te vertrou wat God hom geroep het om te verkondig (Romeine 8:18-39). Hierdie goeie nuus is die uiteindelike triomf wat ons in Jesus Christus sal ervaar – spesifiek die sekerheid dat God ons in sy liefde bewaar en ons uiteindelik van alle ontberings sal verlos.