Só troos ons Vader ons in swaar tye

Al voel jy alleen, of al is jy fisies alleen, kan jy weet God jou Vader is altyd by jou. In 2 Korintiërs 1:3-4 sien ons hoe God ons in moeilike tye troos.
deur ds Daniël Myburgh
Was jy ook al hartseer en het gevoel dat niemand daarvan weet nie? Het jy ook al deur ’n moeilike tyd gegaan maar jy was stoksielalleen? Niemand weet waardeur jy gaan nie! Al die mense rondom jou gaan bloot aan met hulle lewe – asof daar niks gebeur het nie. Dit is net vir jou, persoonlik, wat dit raak. Daar is niemand wat jou bystaan nie. Daar is niemand wat jou help nie.
Wanneer ’n mens só voel, dan is die Here se Woord die beste plek om heen te gaan. Want ons word mos van kleins af geleer dat Hy altyd dáár is, selfs wanneer mense afwesig is. Maar is dit regtig so? Hy is dan fisies onsigbaar en geografies ver van ons af weg? Kom ons kyk na God se Woord om vir ons ’n antwoord hierop te kry.
Die Bybel sê dat God altyd by ons is
Daar is soveel verskillende gedeeltes wat ons kan gaan lees indien ons wonder of God betrokke in ons lewens is of nie. Soos Psalm 27:10:
Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem.
Of Jesaja 43:2:
As jy deur water moet gaan – Ek is by jou, of deur riviere – hulle sal jou nie oorspoel nie. As jy deur vuur moet gaan – jy sal nie geskroei word nie, en die vlam sal jou nie brand nie.
Of 1 Petrus 5:7:
Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy gee om vir julle.
In hierdie artikel gaan ons egter ons in meer detail na 2 Korintiërs 1:3-4 kyk sodat ons, in die geloof, kan raaksien dat God ons in ál ons verdrukking troos.
God se troos in moeilike tye
Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word …
2 Korintiërs 1:3 (2020-vertaling)
2 Korintiërs 1:3-4 se twee verse begin deur God, die Vader, te loof en te prys. In vers 3 sien ons raak hoedat God die Vader van verskeie dinge genoem word.
- Hy is die “Vader van Jesus Christus”. Net soos wat die Vader die almagtige God is, net só ook is Jesus Christus (én die Heilige Gees) almagtig.
- God is die “Vader van barmhartigheid”. Hy is dus die Bron van genade en ontferming.
- Ons leer God ook in vers 3 ken as die “Vader van alle bemoediging”. In álle omstandighede troos en bemoedig Hy ons.
- Soos ons weet is Hy ook “ons Vader” (vers 2). Te danke aan Jesus Christus se volkome Offer aan die kruis maak Hy dit vir ons moontlik om God ook óns Vader te noem (Romeine 8:14-17).
Jesus was verlate aan die kruis om ons kinders van God te maak
In alle eensaamheid het Hy daar aan die kruis gehang – met ’n skare mense rondom Hom maar niemand wat régtig omgee nie. Jesus Christus het wáárlik alleen deur al die pyn en die verwerping en die gespot gegaan, want selfs sy Vader het Hom verlaat.
Hy hang daar eensaam en ly. Hy ervaar die érgste trauma denkbaar, maar dit wil voorkom asof niemand werklik omgee nie. Die oomblik toe Hy sy laaste asem uitblaas loop een vir een weg en gaan bloot aan met hulle dag en hul lewens. Dit doen Hy alles sodat Hy van óns kinders van God kan maak.
As kinders van God, kan ons ander troos
Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word …
2 Korintiërs 1:4 (2020-vertaling)
Ons leef in verbondenheid met Hom – deur die geloof wat die Heilige Gees aan ons skenk is ons onlosmaaklik aan Christus vasgebind (o.a. Joh. 15; Rom. 6: 5; 1 Kor. 1: 9 en 6:17). En daarom rus Hy ons toe deur sy Gees om ook ánder te troos net soos wat óns – deur Hom – getroos word. Aangesien ons al sélf die troos van Christus ondervind het, daarom kan ons uitgaan en ánder gelowiges met die bediening van sy Woord gaan troos.
Wanneer ons of ons vriende die druk van lewe – die skoolwerk, die sport, die dood van ’n geliefde – ervaar, dan kan ons na God toe gaan sodat ons by Hom volledige troos kan ondervind. Ons kan ook na ons medegelowiges toe gaan wie met ons medelye het aangesien hulle al sélf die troos in Christus ondervind het (vergelyk Filippense 2:1).
Jy hoef nie eensaam te voel nie, God sien jou raak
Deur die Here se genade hoef nie één van ons óóit weer eensaam te voel wanneer ons hartseer is nie, want ons het die Enigste Here wat ons nood verstáán. Ons het die Almagtige God wat ons in ons alleenheid raaksien. Te danke aan Christus sal God ons nooit verlaat nie, want Hy is rééds deur sy Vader verlaat.
Ons is nooit eensaam of alleen nie – selfs wanneer ons so voel – want deur die Heilige Gees is God elke dag bý ons en ín ons. Daarom het ons niks om te vrees nie – die Here is Almagtig. Ons behoort aan Hóm! Boonop gee Hy nog aan ons vriende in die geloof wat verstaan wat dit beteken om te bemoedig aangesien hulle rééds deur die Trooster getroos is.