Soek na God voor jy op Google soek!
“Google dit net” is ’n frase wat ons dikwels hoor, en dit het ons gewoonte geraak om selfs vir antwoorde oor God daar te soek. Maar God wil hê dat ons eers na Hom soek. Lees hier.
deur ds Philip Wepener

“Google dit net”. Dit is ’n frase wat ons dikwels hoor, en dit het ’n algemene gewoonte geword. Met slimfone, skootrekenaars en tablette binne ons bereik, het dit so algemeen geword dat ons Google gebruik om te soek vir enigiets van motorherstelwerk tot poedingresepte en selfs mediese advies.
Daar is baie vrae waarvoor ons antwoorde op Google soek. Toenemend soek ons nie net praktiese raad nie, maar vra vir antwoorde oor God en ander geestelike vrae waaroor ons wonder of oor worstel. Maar kan ons, of moet ons, die antwoorde wat Google oor God en ons vrae gee, vertrou? Kom ons soek die antwoorde in die Woord van God sonder om Google hierdie keer te vra.
Moet eerder nie Google eerste gebruik nie
Wanneer dit by God en geestelike vrae kom, moet Google eerder nie ons eerste keuse of raadgewer wees nie. Hoekom nie? Hier is ’n paar gedagtes om te oorweeg:
- Google is ingestel om slegs bladsye te gee wat al ons soekterme bevat.
- Die hoeveelheid inligting wat Google gee, kan baie oorweldigend wees.
- Hoe kan ons weet watter bron betroubaar is?
- Wanneer bronne mekaar weerspreek, hoe kan ons weet watter een korrek is?
- Watter artikels of skryfstukke is gebaseer op feite eerder as opinies?
- Google kan lonend wees, maar soms kan dit nie ware en bevredigende antwoorde op ons vrae gee nie.
Google – en ander soekenjins – is inderdaad ’n kragtige en toeganklike middel, maar om soveel inligting byderhand te hê, maak ons diep bewus van ons behoefte aan wysheid en onderskeidingsvermoë. Boonop sou dit nalatig wees om slegs daarop staat te maak vir ’n dieper begrip van God en ons geestelike vrae. Ons het meer nodig as wat Google ons kan gee, ongeag die spoed en die miljoene soekresultate.
Gebruik eerste die Woord van God!
Ware antwoorde lê dikwels nie in wat ander aanlyn geskryf en gepubliseer het nie, maar in die Woord van God. Dit is na die Woord wat ons eerste moet gaan! Hoekom? Hier is twee redes wat ons in die Woord kry.
1. Soek na God!
Dink aan Jeremia 29:12-13:
Julle sal My aanroep, en kom en tot My bid, en Ek sal na julle luister. Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg.
en Psalm 105:4
Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid [aangesig] op.
God herinner ons oor en oor in sy Woord dat ons met vrymoedigheid na Hom kan kom. Terwyl ons hieroor nadink, besef ons weer dat ons nie moet toelaat dat skynbaar alwetende Google die plek van God in ons harte inneem nie. Ons moet leer om God meer en meer te raadpleeg wanneer ons vrae het of probleme in die gesig staar.
Mag ons bid dat God ons sal help om die gewoonte te verbreek om ander bronne van kennis bo sy wysheid te stel en Hom heelhartig te vertrou (Filippense 4:6).
2. Die Helper woon in ons
Jesus Christus, ons Leermeester, het die Heilige Gees na ons gestuur om ons in alles te onderrig en ons aan alles te herinner wat Hy vir ons gesê het (Johannes 14:26). Omdat die Heilige Gees in ons woon, kan Hy ons voortdurend bystaan en help op maniere wat Google nie kan nie.
Die apostel Paulus herinner ons daaraan dat ons die Gees van God ontvang het, sodat ons die dinge kan weet wat God uit genade aan ons geskenk het (1 Korintiërs 2:12). Die Heilige Gees ondersoek alles, ook die dieptes van God (1 Korintiërs 2:10).
Hoe wonderlik is dit! Dit is iets wat nie eers Google kan belowe nie. So volgende keer wanneer ons mobiele toestelle optel, laat ons onthou dat die ware Helper in ons woon.
Twee wenke om te onthou as jy antwoorde soek
- Die apostel Petrus skryf: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7). Dit is die kern van hoekom God wil hê dat ons Hom heelhartig moet vertrou. Hy sorg werklik vir ons! God bied ons wysheid wat nêrens anders gevind kan word nie. Sy wysheid sal ons deur elke vraag lei – ons hoef Hom net te vra.
- Om Google saam met die Woord te gebruik, kan lonend wees. Indien jy reeds ’n paar betroubare bronne gebruik of webwerwe aanlyn volg, is dit wonderlik! Moenie huiwer om jou predikant te vra vir aanbevelings oor betroubare bronne of webwerwe nie.
’n Gesonde gewoonte – soek na God!
Ons het die gewoonte om eers Google te raadpleeg vir antwoorde oor God en op ons geestelike vrae. Hoekom? Omdat dit maklik, toeganklik en vinnig is – ’n kitsantwoord op enige denkbare vraag. Om daardie gewoonte te verbreek is moeilik, maar dit is moontlik deur die Heilige Gees.
God wil hê dat ons eers na Hom soek! Laat ons daarom Hom nader met ons vrae en behoeftes. Hy wil antwoorde gee en in ons behoeftes voorsien.
In plaas daarvan om op Google staat te maak, wat slegs menslike wysheid bied, laat ons die Woord van God noukeurig ondersoek, wat die ware bron van wysheid is!
