Die Heilige Gees soos ’n duif
Waarom het die Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neergedaal? Ontdek die diep betekenis van Jesus se doop, Noag se duif, en hoe die Heilige Gees ook vandag gelowiges toerus.
deur ds Theuns de Bruyn

Watter opdrag in jou lewe voel tans te groot? ’n Sonde om te oorwin. ’n Roeping wat swaarder voel as wat jy kan dra.
Die waarheid is: baie van wat God ons roep om te doen, is te groot vir ons. Maar dit is nooit te groot vir die Heilige Gees nie!
Waarom die Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neergedaal het
Die Vader het vir Jesus gesalf tot sy koninklike, priesterlike en profetiese amp. Nie met olie nie, maar met die Heilige Gees self. Dit het gebeur by Jesus se doop.
Terwyl Johannes die Doper vir Jesus doop, gaan die hemel oop. Lukas 3:22 vertel:
… en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos ’n duif op Hom neergedaal.
Wanneer die hemel oopgaan op Jesus se gebed, kom die Heilige Gees sigbaar na die aarde. Hy kom reguit op Jesus neer.
Maar daar is iets besonders: Hy kom in die vorm van ’n duif. Hoekom juis ’n duif?
Wat Noag se duif ons oor die Heilige Gees leer
Dit is nie omdat ’n duif een of ander simbool van vrede, voorspoed of sagmoedigheid is nie. Nee, die antwoord is in die verhaal van Noag en die ark. Om dit te verstaan, moet ons teruggaan na die vloedverhaal.
Die Here het sy oordeel oor die sonde van die wêreld uitgegiet. Die aarde was onder water, onbewoonbaar, vol dood. Net agt gelowiges was veilig in die ark. Net agt gelowiges is op hierdie stadium die kerk van God.
Noag wag op God se nuwe begin.
Hy stuur eers ’n kraai uit. Die kraai kom nie terug nie. Nie omdat dit ’n superkraai is nie. Die kraai was gewoon tevrede om op die karkasse te gaan sit. Hy het nie die ark nodig gehad nie.
Daarna stuur Noag ’n duif.
Eers bring die duif ’n olyftakkie terug, ’n teken dat nuwe lewe begin uitspruit. Later kom die duif glad nie terug nie. Dit beteken die aarde is weer bewoonbaar. Die nuwe tyd het aangebreek.
Hier lê die sleutel.
Jesus is die bewoonbare mens
Wanneer die Heilige Gees soos ’n duif op Jesus neerdaal, wys God iets ongeloofliks.
Te midde van ’n wêreld vol sonde vind die Gees uiteindelik ’n mens wat waardig is om in te woon. Jesus is die waardige Middelaar van die Here se verbond. Hy is werd om aangestel te word in die amp van Messias.
Jesus is die volmaakte mens. Die ware Adam. Die waardige Middelaar.
In Hom begin ’n nuwe tyd.
Die Gees bevestig dat Jesus werklik die Messias is, die Een wat gekom het om God se ewige lewe uit te deel.
Dwarsdeur die Ou Testament was die Heilige Gees die teken van God se aanstelling. Konings, priesters en profete is deur die Gees toegerus vir hulle roeping.
Maar mense soos Saul het die Gees verloor deur volharding in sonde.
Selfs koning Dawid het geweet dat hy nie ’n waardige woning vir die Heilige Gees is nie. Na sy sonde met Batseba bid hy tot die Here: “Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.”
Ook Adam het die inwoning van die Here se Gees deur die sonde verloor. Die Gees wat Hom toegerus het om die Here se koning, priester en profeet te wees.
Adam, die eerste Adam het as gevolg van sy sonde die toerusting van die Gees verloor. Maar Jesus, die laaste Adam, het gebid en ontvang. Hy is waardig in Homself die Heilige Gees te huisves.
Geen mens was uit homself ’n volmaakte woning vir God se Gees nie.
Tot Jesus.
Die Gees bly op Hom
Johannes 1:32 sê:
… en Hy het op Hom gebly.
Dit is die groot verskil. Die Gees kom nie net op Jesus nie. Die Gees bly op Hom.
Jesus is inderdaad aangestel as Messias. Die Messias wat ook in Jesaja 11:1-2 belowe is. Daar lees ons:
Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra; en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.
Jesus is deur God self aangestel as die hoogste Koning, Priester en Profeet.
En Hy het hierdie roeping volmaak uitgeleef.
Die Gees lei Hom die woestyn in om Satan te weerstaan. Anders as Adam val Hy nie.
Die Gees rus op Hom in sy wonders, sy genesings, sy prediking, sy lyding en uiteindelik selfs deur die dood heen.
En deur dieselfde Gees word Hy uit die graf opgewek.
Hoe die Heilige Gees vandag ook in gelowiges werk
Hier word dit persoonlik. Die Gees wat op Christus gebly het, is ook aan ons gegee. Nie omdat óns waardig is nie. Maar omdat Hý waardig is.
Deur Christus stel die Gees ook ons aan.
Hy bekwaam ons om:
- priesterlik ons lewens aan God te offer,
- profeties sy Woord te verkondig,
- koninklik teen sonde te stry en getrou te regeer waar God ons plaas.
Geen taak wat God vir jou gee, is vir die Heilige Gees te groot nie. Geen taak wat die Here vir sy kerk gee is te groot nie.
Ja, dit mag vir jóú te groot voel. Maar nooit vir Hom nie.
Christus het deur sy dood en opstanding die reg verwerf om sy Gees aan sy kinders uit te deel. As ons in sy Naam die Vader vir die Heilige Gees vra, dan sal Hy Hom gee.
Die Gees wat op Christus gebly het, bly ook by sy kinders.
Lees meer oor wat die duif in Noag se ark beteken:
