Die Psalms as ’n boek wat kan troos

Psalm 131 is ’n kragtige riglyn in tye van hartseer. Lees hier hoe dit die weg van nederigheid, die vrede van rus in God, en die hoop van gemeenskap wys.

deur Alistair van Heerden


Die Psalms is van die mees persoonlike en troosryke gedeeltes van die Bybel. Hulle spreek tot die hart van die gelowige in alle seisoene van die lewe – van vreugde tot pyn, van oorwinning tot verlies.

Veral in tye van hartseer, wanneer die siel neergedruk is en woorde kort skiet, bied die Psalms nie net taal aan ons rou emosies nie, maar ook rus vir die siel in Here.

Die Psalms is dus nie bloot digkuns of geskiedenis nie – dit is ’n gebedsboek, ’n geloofsboek, en inderdaad ’n troosboek vir die pelgrimsreis van die Christen.

Een van die mees sagte en vertroostende Psalms in hierdie verband is Psalm 131 – ’n kort, maar diepgaande lied van rus en vertroue.

Psalm 131 is slegs drie verse lank, maar elke vers dra ’n belangrike boodskap vir ’n bedroefde hart. Die Psalm is toegeskryf aan Dawid en getuig van ’n innerlike vrede wat nie uit homself kom nie, maar die gevolg is van ’n rustige en nederige wandel met God.


Psalm 131 vers 1

o Here, my hart is nie hoog en my oë nie trots nie; ook wandel ek nie in dinge wat vir my te groot en te wonderbaar is nie.

Vers 1 begin met ’n belydenis van nederigheid. In tye van hartseer is daar ’n gevaar dat ons in trots net by onsself die oplossings wil soek, of dat ons in ons pyn ons hart teen God verhard.

Maar Dawid wys die weg van rus. Om afstand te doen van selfverheffing, om nie meer te probeer verstaan of beheer as wat vir ons bestem is nie. Die hartseer gelowige moet leer om dieper as verstaan te vertrou – om die verborgenheid van God se wil met rus te aanvaar.

Psalm 131 vers 2

Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

In vers 2 tref ons die sentrale beeld van die Psalm. Hierdie vers is van onskatbare waarde vir iemand in pyn. Dit is nie ’n rasionele verduideliking van hartseer nie, maar ’n beeld van vrede. ’n Pasgebore kind teen sy moeder se bors; onbewus van die wêreld se gejaag, net bewus van teenwoordigheid, van warmte, van rus.

So moet die gelowige leer om homself toe te vertrou aan die teenwoordigheid van God. Sonder om altyd te verstaan of te verklaar. Die rus is nie in antwoorde nie, maar in aanwesigheid. Die Here is naby. En in daardie besef kom daar rus.

<sub> Gebruik Psalm 131 as ’n gebed

Prakties beteken dit dat die Psalms, en spesifiek Psalm 131, gebruik kan word as gebed. Wanneer jy nie weet wat om te bid in jou pyn nie, bid hierdie woorde: “Ek verstaan nie alles nie, maar ek kies om soos ’n kind by U te rus.”

Gebruik dit in jou stiltetyd, skryf dit uit, memoriseer dit. Laat die beelde van die Psalm jou gedagtes vorm – sien jouself as ’n kind teen God se hart. Hierdie geestelike oefening van vertroue en rus is nie passief nie. Dit is aktief. Dit vra ’n keuse om te vertrou, om jou hart nederig voor God te buig, en nie alles self te probeer oplos nie.


Jesus Christus kom vervul Psalm 131

In die Here Jesus Christus kry Psalm 131 sy volle vervulling. Die Here Jesus self sê in Matteus 11:28:

Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.

Hierin sien ons hoe die belofte van Psalm 131 oorgaan in vervulling. Die rus waarvan Dawid praat, word ’n werklikheid vir almal wat na Christus kom met hul hartseer, pyn en vrae.

Christus roep die gebrokenes. Die wat nie verstaan nie, die wat hulself nie kan red nie – en Hy gee nie net ’n innerlike gevoel van vrede nie, maar Hy bring ons werklik in ’n verbondsverhouding met die Vader, waarin ons weet ons is geliefd, veilig en vertroos.


Psalm 131 vers 3

Wag op die Here, o Israel, van nou af tot in ewigheid!

Laastens sluit die Psalm af met ’n oproep aan die hele volk om te wag op die Here – van nou, tot in ewigheid. In tye van hartseer is daar die versoeking om onsself af te sonder. Maar Dawid herinner ons daaraan dat troos ook gemeenskapswerk is. Dat ons saam op die Here moet hoop. In die erediens, in die gemeenskap van gelowiges, in gesamentlike sang van die Psalms, vind ons dat ons pyn gedeel en verlig word.


Psalm 131 is daarom ’n kragtige riglyn in tye van hartseer. Dit wys vir ons die weg van nederigheid, die vrede van rus in God, en die hoop van gemeenskap. Die Psalms as troosboek is nie ’n teoretiese leer nie, maar ’n praktiese uitnodiging om in God alleen jou rus te vind. Soos ons in hartseer oorweldig word, roep die Psalms ons terug – nie na selfverlossing nie, maar na kinderlike rus by die Vader.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui