’n Pa doen voorbidding vir sy kinders

By Job leer ons hoe ’n vader daardie tyd namens sy kinders offers gebring het en voorbidding gedoen het. Lees hier hoe Jesus dit vervolmaak het.
deur ds Daniël Myburgh
Die boek, Job, handel oor ’n gelowige wat onbeskryflike teëspoed tydens sy aardse lewe gelei het. Al was Job “vroom” en “opreg” en “godvresend”, het daar steeds slegte dinge met hom gebeur. Al was hy iemand wat van die kwaad weggevlug het, het daar steeds rampe oor Job se lewe gekom.
Job bring ’n offer vir elkeen van sy kinders
Behalwe dat Job ’n opregte gelowige was, was hy ook ’n baie ryk man. Ons lees in die Bybel dat hy tientalle besittings gehad het en dat hy ryker was as ál die mense van die Ooste (Job 1:3). Maar Job was ook ’n pa vir sy kinders gewees.
Tog kan ons aflei dat hy nie ’n doodgewone “pa” was nie. In Job 1:4 en 5 lees ons dat Job sy kinders op ’n besonderse manier behandel het.
Job se kinders het die gewoonte gehad om gereeld feeste in hulle huise aan te bied. Die broers en susters sou dan mekaar oornooi na mekaar se huise om saam te eet en te drink. En ná elkeen van hierdie feeste het Job hulle laat haal om elkeen van hulle te heilig.
Job het vir elkeen van sy kinders ’n brandoffer gebring want Job het gedink: “Miskien het een van my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek” (Job 1:5). Ons lees dat Job dit élke keer gedoen het. Ná elke fees het hy ’n offer gebring – nét vir ingeval.
Job was dus ’n pa wat sy kinders gekén het. Hy het gewéét dat hulle – net soos hy – sondaars is en dat hulle nie áltyd op die regte manier optree nie. Job het geweet waartoe sy kinders in staat is, dat hulle nie áltyd voorbeeldig leef nie. En daarom tree hy proaktief op deur sy kinders met God te versoen.
Priesters het namens mense offers gebring
In die Ou-Testamentiese tydperk het priesters ’n baie spesiale rol in die samelewing gespeel. Hulle het as tussengangers tussen God en sy kinders opgetree. ’n Priester sou God aan die mense verteenwoordig en die mense aan God verteenwoordig.
Wanneer ’n mens gesondig het, dan moes jy na die priester in die tempel toe gegaan het sodat hy, namens jou, ’n offer aan God Drie-enig kon bring sodat jou saak voor God reggestel kon word.
Voordat priesters amptelik aangestel is, was dit die pa van die huis wat, namens sy huishouding, offers moes bring. Die kinders se pa moes dan gewoonlik ’n skaaplam (sonder liggaamsgebrek) as betaling vir sy kinders se sondes offer. Hierdie offer sou dan simbolies die persoon se sonde reinig.
Offers gaan saam met gebed
Natuurlik het só ’n offer áltyd met aanbidding gepaard gegaan. Die priester – of die pa van die huis – sou ’n gebed saam met die offer gebring het. Job sou dan ook sy kinders aan die Here opgedra het soos hy hierdie brandoffers aan God gebring het. Hy sou vir vergifnis van hul sondes by sy Vader gepleit het.
’n Godvresende pa sal daarvoor bekend wees dat hy nie net vir homself voorbidding doen nie, maar óók vir sy kinders. Aangesien hy élkeen van sy kinders se unieke uitdagings en behoeftes kén, sal ’n aardse pa op ’n baie effektiewe manier vir sy kinders kan bid.
Geen mens kan ’n volmaakte offer bring nie
Al was Job baie welaf en suksesvol en boonop nog ’n voorbeeldige gelowige, was hy ’n mens net soos ons. Hy was vol sonde. En daarom het ons Enigste wérklike Vader ’n Volmaakte Offer gebring vir ál sy uitverkore kinders se sondes. Hy gee sy Geliefde Seun sodat Hy, as Lam van God, Homself vir ons offer.
Ons Enigste Hoëpriester, Jesus Christus, bring een laaste offer om God se kinders met sy Vader te versoen. Met sy bloed aan die kruis reinig en heilig Hy elkeen van ons.
In sy volmaakte liefde vir ons doen Jesus Christus ook konstante voorbidding vir ons by die Vader. Saam met die Heilige Gees is Hy ons Voorspraak by die Vader. Hy tree deurlopend vir álle gelowiges in.
Wanneer jy die voorreg het om ’n aardse pa te hê wat die Here liefhet en vir jou ’n voorbeeld van ware Christenskap is, dan het jy baie om voor dankbaar te wees.
Loof die Here vir die aardse pa wat Hy vir jou gegee het sodat hy aan jou leiding in jou geloofslewe kan gee. Prys die Here indien jy raaksien hoe jou pa (en ma) vir jou voorbidding doen.
Maar, dank en loof en prys Hom verál omdat Hy jou volmaakte hemelse Vader is wat, deur Jesus Christus, jou ten vólle in die regte verhouding met Hom geplaas het.
