Wat is die Christen se mening oor KI?

In Romeine 12:2 lees ons dat ons nie gelyk aan die wêreld moet word nie, maar vernuwe word. Lees hier hoe die Christen kunsmatige intelligensie moet gebruik.
deur Barend van der Westhuizen
Ons leef in ’n wêreld met slimfone, slimvoertuie, internet, Youtube, Televisie, Apple Vision Pro, drone-oorlogvoering en nog baie meer. Een van die tegnologiese uitvindsels wat in die laaste tyd baie opspraakwekkend is, is AI. AI staan vir Artificial Intelligence (Kunsmatige Intelligensie, oftewel KI). Hierdie kunsmatige intelligensie word in toepassings gebruik, soos ChatGPT, Grok, Copilot in Microsoft Word, Gemini en meer. As mens vir ChatGPT vra: Wat is jy? Dan is die antwoord onder andere:
“Ek is ChatGPT, ’n KI wat deur OpenAI ontwikkel is. Ek kan help om vrae te beantwoord, met skryfwerk te help, probleme op te los, idees te dink en meer. Dink aan my as ’n kundige assistent met wie jy kan gesels …
Van Copilot word gesê:
“Copilot verteenwoordig ’n beduidende sprong vorentoe in die manier waarop mense en masjiene saamwerk.”
Die toepassing Grok sê:
“Ek is Grok 3, ’n KI wat deur xAI gebou is om jou vrae te beantwoord met waarheidsoek as my topprioriteit…”
Elon Musk self sê die volgende oor kunsmatige intelligensie.
“Ek dink die eintlike kwessie, die mees waarskynlike kwessie, is hoe om betekenis te vind in ’n wêreld waar KI alles kan doen wat ons kan doen, maar beter. Dis miskien die groter uitdaging.”
Die Christen en kunsmatige intelligensie
Wat moet ons as Christene dan van hierdie kunsmatige intelligensie dink? Die Here sê in Romeine 12:2 die volgende oor ons denke en gedagtes:
Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.
Ons denke moet vernuwe word! Wat is dan die hoofbron waar ons moet leer hoe om te dink? Wat is die hoofbron waar “waarheidsoek” die “topprioriteit is” soos Grok sê? Is dit by Grok of ChatGPT? Nee! Dit is die Here se Woord! Dit is die Here self.
Jesus sê: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Ons lewe as gelowiges het beslis betekenis selfs in ’n wêreld waar KI volgens wêreldse standaarde oënskynlik “alles kan doen wat ons kan doen, net beter”.
Gebruik só KI om te waak teen ’n kunsmatige lewe
Dit is asof die tendens in die wêreld meer en meer ons wil bring om op ’n kunsmatige manier te leef. Hier volg ’n paar gedagtes as riglyne wat ons kan help wanneer ons KI gebruik.
- KI kan as ’n basiese hulpmiddel gebruik word om inligting te gaan soek. In hierdie opsig kan KI bloot as nog ’n soekenjin gebruik word soos die internet.
- Wanneer jy AI gebruik om jou werk te doen, maar jy gee voor dat dit jou eie werk is, is jy besig om ’n leuen te leef. Dit is verkeerd.
- As hierdie toepassings gebruik word om jou verhouding met God en ander te vervang, dan is dit verkeerd.
- As hierdie toepassing die eerste plek is waar jy antwoorde soek op van die belangrikste vrae in die lewe, dan is dit verkeerd.
- Die Here waarsku teen skynheiligheid. Sê nou ’n predikant gebruik KI om “goed te klink” of “mooi te bid”, is dit verkeerd. Die Here vra vir aanbidding uit ons harte (Hebreërs 10:22).
- Net so, moet ons dit ook nie gebruik om voor ander mense God te aanbid sodat ander ons raaksien nie. Dan geld die woorde van Matteus 15:8: “‘Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle harte is ver van My af”.
- Moenie KI op so ’n wyse gebruik dat jy voorgee om slim op hierdie of daardie gebied voor te kom nie, net sodat ander mense jou vereer nie.
- Dink aan al die “mekaar-teksgedeeltes” in die Bybel. Die Here gee ons vir mekaar om in werklike opregte verhouding met Hom en mekaar te lewe. Moenie tegnologie bo jou werklike lewe stel nie.
- Ons spandeer dikwels ure en ure met ’n kunsmatige toestelle eerder as in die werklikheid self. Onthou om tyd saam te spandeer sonder ’n skerm naby jou.
Die lewe is meer as feite en inligting
Soms lyk dit asof die wêreld die mens wil beperk tot bepaalde prestasies en intelligensie. Maar ons identiteit en waardigheid word nie bereik by wyse van ons intelligensie of prestasies nie. Ons ontvang ons waardigheid vanaf God. As skepsels van die Here het ons elkeen ’n unieke identiteit omdat ons sy handewerk is.
Ons ontvang uit genade ’n identiteit van kindskap, erfgename en geliefdes op grond van wat Christus gedoen het. Leef in die volheid van menswees. Daar is niemand soos ek en jy nie. KI gaan ons ook nie kan vervang nie. Leef as mens tot eer van God met jou unieke gawes, mooi eienskappe en persoonlikheid soos wat die Gees jou vernuwe.
