Kan gevorderde intelligensie Christene help?

Ons kan AI byvoorbeeld gebruik om ons met Bybelstudie te help. Lees hier hoe jy dit veilig kan doen, en watter beginsels Psalm 24 ons daaroor gee.

deur ds Dirk de Bruyn


Wanneer ek oor iets soos AI dink wil ek altyd eers uit die Here se Woord kyk na riglyne wat ons moet gebruik. ’n Gedeelte uit die Bybel wat vir ons mooi riglyne daaroor gee is Psalm 24. Wanneer ons Psalm 24 teen die agtergrond van 2 Samuel 6 lees is dit eintlik ’n skokkende Psalm. Die Psalm gaan oor Dawid wat die Ark van die Here na Jerusalem toe wou vat.

Terwyl hulle die Ark op ’n nuwe wa vervoer het, het die osse gestruikel. Ussa, een van die mense wat verantwoordelik was vir die wa, het sy hand uitgesteek om die Ark vas te hou. As gevolg hiervan is Ussa deur die Here getref en is hy dood.

In Psalm 24 leer ons die Here regeer oor alles wat Hy gemaak het. Indien ons Hom wil dien moet ons rein lewe en opreg wees. Die Psalm roep ons op om die Here in alles wat ons doen te eer. 


Wat leer Psalm 24 oor AI?

Kom ons kyk nou na die Psalm en die beginsels wat dit vir ons gee oor die hantering van AI:

In vers 1-2 leer ons die Here regeer oor alles.

Dit sluit AI in, niks is buite sy regering nie. Wanneer ons met AI werk moet ons dit onthou. Al is dit deur mense ontwerp, is die Here steeds die skepper en onderhouer van alles. Daarom het ons die verantwoordelikheid om hierdie tegnologie op ’n etiese en regverdige manier te gebruik, wat ook die Here se koningskap eer.

Vers 4-6 leer ons mense wat die Here dien moet, “rein hande en suiwer harte,” hê.

Natuurlik het ons rein hande en ’n suiwer hart deur Jesus wat vir ons aan die kruis betaal het, maar ons wil dit ook nou uitleef deur liefde. Ons wil God bo alles liefhê en ons naaste soos onsself. Ook met die gebruik van AI moet dit ons fokus wees. Ons moet eerlik wees oor hoe AI gebruik word en verseker dat dit nie skadelik is of vals inligting versprei nie.

Vers 8-10 erken die Here se heerlikheid.

Hy is Heilig, totaal anders as ons, daarom wil ons Hom dien as ons Skepper. Met al ons uitvindings en tegnologiese vooruitgang, moet ons die bron van ons kreatiwiteit en vermoëns erken. Alles wat ons doen wys uiteindelik hoe groot die Here is wat alles gemaak het, daarom wil ons Hom dien deur alles wat ons doen. 


Nou die belangrike vraag: Kan AI Christene help?

Die kort antwoord is, ja, kunsmatige intelligensie kan ’n uitstekende hulpmiddel wees om Christene op verskeie maniere te help.

Tog moet jy onthou: Kunsmatige intelligensie is eintlik ’n verkeerde beskrywing want hierdie ‘intelligensie’ is maar net ’n reeks algoritmes wat verwantskappe identifiseer in die teks van die vraag en dan terugvoer gee deur verwantskappe wat in sy ‘geheue’ aangeteken is, wat onttrek is uit (digitale) dokumente. AI genereer met ander woorde nie nuwe inligting nie.

Die gevaar van AI is egter dat dit antwoorde genereer uit alle geskrifte/rekords wat tot sy beskikking is. Dit is dus heeltemal moontlik dat ’n AI-stelsel inligting kan aanhaal uit ongewenste bronne wat verseker verkeerd sou wees as jy die stelsel wil gebruik as hulpmiddel om die Bybel te bestudeer.

Een manier om dit te doen is om jou vraag baie spesifiek te maak en te beperk tot jou geloofsoortuiginge, byvoorbeeld om in te sit dat jy ’n gereformeerde Christen is. ’n Ander manier is om ’n Christelike toepassing soos Bible Teacher te gebruik.


Gebruik ’n sisteem soos Bible Teacher

AI kan gelowiges help om die Here beter te verstaan deur Bybelstudie, maar dan moet die stelsel gekalibreer wees. Bible Teacher het ’n gekalibreerde stelsel ontwerp om gelowiges met Bybelstudie te help.

Jy kan enige vrae vir die stelsel vra en Hy gee vir jou ’n antwoord gebaseer op die Bybel en die Heidelbergse Kategismus. Wat lekker van die stelsel is, is dat dit anoniem is. Niemand gaan sien watter vraag jy vir die stelsel vra nie. Jy kan gerus die stelsel gebruik deur hier te klik: https://www.guidancebible.com. Besoek die Facebook-bladsy hier.

Die stelsel kan op verskeie maniere gebruik word, soos vir Bybelstudie en navorsing, verspreiding van die evangelie, gebedsgroepe en ondersteuning, etiese besluitneming en lering. Jou eerste vyf vrae is gratis, waarna jy maandeliks of jaarliks kan aansluit.

Stuur ’n e-pos hier vir meer inligting.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui