Vrye wil, Moses en kunsmatige intelligensie

Elke mens het vrye wil ontvang, en dan kan ons dalk soos Moses twyfel. Wat beteken dit vir die besluite wat jy rakende die gebruik van KI maak? Lees hier.

deur dr Herman Myburgh


Een van die eerste geskenke wat die mens in die skeppingsverhaal ontvang, is die vermoë om vrylik keuses te kan maak:

Die Here God het die mens beveel: ‘Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.’

Genesis 2:16-17; 2020-vertaling

Dit is baie duidelik dat dit Adam se keuse sou wees om te kon eet van die boom. Die Here se doel met die mens was geensins om ’n robot te skep; geprogrammeer om hom te dien en te eer nie. Nee, ons is vrye keuse gegun omdat liefde sonder vrye keuse nie moontlik is nie.


Die mens se vrye wil

Net soos die keuse gemaak kon word om van die boom van goed en kwaad te eet, nét so word ons keuses in ons lewens gegun sonder dat die Here ons dwing in ’n spesifieke rigting – tensy ons Hom vir sy leiding en hulp gevra het.

Die gesprek tussen die Here en Moses by die brandende bos bevestig die mens se vrye keuse. God identifiseer homself aan Moses (Eksodus 3:6) en stel dat Hy hom wil gebruik om ’n verlossingsdaad te bewerkstellig in antwoord op die Israeliete se hulpgeroep. En, daarna sê Hy dat Moses as leier van die volk gekies is.

Moses is egter huiwerig oor die groot verantwoordelikheid en redeneer eers met die Here oor sy keuse. Die gesprek wat volg wys God se Vaderlike liefde. Ons sien ook dat God ’n presiese plan van aksie het om die suksesvolle bevryding van die volk te bewerkstellig.


Het jy al ’n ervaring gehad soos Moses en die brandende bos?

Moses se huiwering kom sterk na vore in Hoofstuk 4. Van “Ek kan nie praat nie” tot “Die mense gaan my nie glo nie”. Dit is hierdie menslikheid wat Moses se lewensverhaal so eie maak aan ons verhouding met die Here.

As ek terugdink aan my lewenspad, is daar talle kere wat ek die sterk oortuiging gehad het dat die Here my iets wou laat doen. Soms is dit iets eenvoudig, soos om ’n brood vir die karwag te koop wat in die snerpende koue ’n inkomste probeer genereer om sy familie te voed. Ander kere, is dit dalk ’n groot beroeps- of besigheidsbesluit wat geneem moet word.

Ek het al meer as een keer in my lewe ’n ‘brandende bos’-ervaring gehad. Die tye wat ek die Here se plan gevolg het, het goed uitgedraai. Die kere wat ek my eie kop gevolg het, minder goed. Maar, selfs met my teëstryd het ek met die Here se genade aan die anderkant uitgekom.


Veronderstel net Moses het KI gehad?!

Veronderstel dat Moses sy gesprek met die Here voltooi het, en dat in plaas van ’n paar millennia gelede, die gesprek vandag plaasgevind het. Die skape is in die voerkraal vir die aand, en Moses sit met ’n glasie in die hand op sy La-Z-Boy en flik deur Netflix se duisende programme en films.

Niks vang regtig sy aandag nie, want sy gedagtes is die hele tyd by die gesprek wat hy met die Here gehad het. Hy gryp sy foon nader en begin om navorsing te doen oor hoe hy die Israeliete kan bevry. Ja, hy het die Here se stem gehoor, maar hy moet tog seker maak dat dit moontlik is.

Eerste vraag wat hy op Google vra: “How can a stick turn into a snake?” Dit was ’n skokkende gebeurtenis vir hom, en dalk het hy net ge-yl in die woestynson. “in a literal, physical sense, a stick cannot turn into a snake.” Só verskyn die KI-gegenereerde woorde heel bo-op die Google Soektog se lys van antwoorde.

Dit maak darem vir ons melding van die moontlikheid soos verduidelik in die Bybel as mens dit nóú intik. Maar onthou, hierdie Moses-verhaal speel af in die hede, en dus bestaan die Bybel nie in die gedagte-eksperiment nie.

KI het dus nie toegang tot die gebeurtenis se vertelling nie – en die antwoord stop daar. Soortgelyk Google hy “How can a person have a leper hand one moment, and then be healed the next?”. Die antwoord is soorteglyk – dit is onmoontlik.


Wat moet Moses doen?

Moses het dus nou die keuse – hy kan die KI-antwoorde aanvaar, want die diens het tog meeste van die menslike-kennis reeds saamgevat en verstaan die werking van die heelal beter as hy wat sy skoonpa se skape oppas.

Alternatiewelik, kan hy alle antwoorde met ’n knippie sout neem. Hy kan glo wat hy werklik gesien het, en die Stem wat hy uit die brandende bosgehoor het. Hy huiwer ’n oomblik om te vra hoe ’n bos aan die brand kan wees sonder om verteer te word en besluit daarteen.


Wat sou jy gedoen het as jy hierdie hedendaagse Moses was?

Sou jy die kunsmatige intelligensie vertrou, of die Skepper wat alles verstaan en alles ten goede laat meewerk (Romeine 8:28)?

Kunsmatige intelligensie kan nie God vervang nie, maar dit kan baie vinnig ’n afgod word! In plaas daarvan om te wag op die Here en jou ‘brandende bos’-oomblik, kan jy dadelik ’n antwoord kry. En dan kan jy die keuse uitoefen of jy die antwoord aanvaar bo die Heilige Gees se aanwysings vir jou lewe, of nie. Maar onthou net, die KI-antwoord is nie werklike intelligensie van die Here af nie. Dit is net die mees waarskynlike antwoord gegewe die wiskundige algoritme.


Pas op dat jy nie van KI ’n afgod maak nie

Die risiko vir ’n moderne goue kalf in die vorm van rekenaarprogrammatuur bestaan. Jy kan kies of jy Äaron wil wees wat die goue kalf vertrou, of Moses wat die “advies” van die afgod afbreek in stukke.

Dit is elke Christen se verantwoordelikheid om God se roeping vir jou lewe eerstehands by Hom te bevestig en dan, net soos Moses van ouds, stap-vir-stap uit te voer. Moet dus nie jou vrye wil oorgee aan KI nie.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui