Christus gee krag om soos Hy te word

In Efesiërs 3:14-21 lees ons die gebed wat Paulus vir die gemeente van Efesiërs bid. In hierdie gebed bid hy vir twee dinge. Beide dinge het te make met krag. Ons kan dus sê dat hierdie ’n gebed vir krag is. Maar nie krag soos ons dalk daaraan dink nie. Hy bid nie dat die Efesiërs swaarder dinge kan optel, of meer mag en gesag, of invloed en status sal kry nie. Nee, hy bid vir geestelike krag.


Uiteensetting van Efesiërs 3:14-21

  • Efesiërs 3:14-15
    Ons is klein en afhanklik voor God in gebed.
  • Efesiërs 3:16-17a
    Mag God ons die krag gee om al hoe meer soos Christus te word.
  • Efesiërs 3:17b-19
    Mag God ons die krag gee om al hoe meer te verstaan hoe groot Christus se liefde is.
  • Efesiërs 3:20-21
    Ons moet weet: God kan oneindig meer doen as wat ons bid of dink.

1. Vers 14 wys Paulus se gesindheid as hy in gebed voor die Vader kniel. Om te kniel in gebed wys jou eerbied vir God. Jy maak jouself klein voor God. Beoordeel jou eie gebede. Hoe bid jy? Wat kan jy uit Paulus se voorbeeld leer?

2. Wat leer jy in vers 15 oor jou afhanklikheid aan God?


Wat beteken “eerbied”?

Om eerbied vir God te hê is om baie groot ontsag of respek vir Hom te hê. Ons kry eerbied vir God as ons besef hoe groot en heilig Hy is, en dat Hy die enigste God is.


3. Wat doen die Heilige Gees volgens vers 16?

4. Paulus bid nie maar net dat God aan gelowiges krag moet gee nie. Hy bid dat God dit sal doen “uit die rykdom van sy heerlikheid”. Wat sê hierdie woorde van God?

5. Paulus bid spesifiek dat gelowiges innerlik sterk sal word sodat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon. Wat beteken dit?


Wat beteken “innerlik”?

Dit verwys na ons binnekant; die binneste van ons wese; die middelpunt van ons denke, emosies en wil. Baie keer word daar in die Bybel hierna verwys as ons hart.


6. Wat moet in jou lewe verander om al hoe meer te wys dat Christus in jou hart woon?


Christus woon in jou

As Paulus bid dat gelowiges innerlik sterk sal word sodat Christus deur die geloof in hul harte sal woon, bedoel hy nie dat Christus nie reeds in hul harte woon nie. Die oomblik wat iemand glo, woon Christus deur sy Gees in sy hart. Paulus bid dat God ons die krag sal gee om al hoe meer soos Christus te lyk (Romeine 8:29). Hy bid dat dit al hoe duideliker sal word dat Christus in ons harte woon.


7. Wat beteken dit om in die liefde gewortel en gegrondves te wees?

8. Waarvoor bid Paulus in vers 18?

9. Hoe groot is Christus se liefde volgens vers 18 en 19?

10. Kyk terug in die Bybel: Hoe groot is Christus se liefde volgens Efesiërs 1 en 2?

11. Hoe verander jou lewe as jy beter verstaan hoe groot Christus se liefde is?

12. As jy al die dinge bid, mag jy dalk wonder of jy nie bietjie te veel vra nie. Maar hoe eindig hierdie gebed? Wat is God volgens vers 20 in staat om te doen?


Wat beteken “verbondenheid”

Om aan iets of iemand verbind te wees. Efesiërs 3:21 beskryf dat gelowiges aan Christus verbind is. Die woord word net in die 1983-vertaling gebruik. Die woord in Grieks en 1933/1953-vertaling is letterlik “in”.


Paulus bid spesifiek vir twee dinge: dat God aan ons die krag sal gee om al hoe meer soos Christus te lyk; en dat God aan ons die krag sal gee om al hoe meer te verstaan hoe groot Christus se liefde is. Die gebed eindig deur te sê dat al die eer slegs aan die Here behoort. Ons gebede gaan oor die verheerliking van God. Daarom moet ons ook vra dat God ons die krag sal gee om Hom al hoe meer te verheerlik.


Vir jou gebed

Maak die gebed in Efesiërs 3:14-21 jou eie. Vervang die woorde julle met  “my” en “ons”.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui