Gee jy jou eerste aandag in die oggend aan God?

Begin jy jou dag deur na jou foon te kyk, of begin jy deur te onthou Wie die dag vir jou gegee het? Lees hier hoekom jy elke dag God eerste moet kies.

deur Alistair van Heerden


Elke dag breek aan soos ’n nuwe gawe uit die hand van God. Die lig wat deur die gordyne skyn, die klank van voëls in die tuin, die asemhaling in jou bors — dit is alles stille herinneringe dat die Here se barmhartigheid “nuut is elke môre” (Klaagliedere 3:22-23).

Maar hoe dikwels, wanneer ons opstaan in die oggende, gee ons aandag aan hierdie besondere gawes van die Here? Ons kan die vraag baie dieper stel: Is ons aandag gerig op die Gewer van alle gawes, op die Here self? Wanneer jy jou oë oopmaak moet daar ’n vraag hier van diep binne jou kom: Wie kry eerste vandag my aandag?


Jou eerste prioriteit elke dag

In ’n wêreld vol gejaag en oorlaaide skedules, is dit maklik om te begin met WhatsApp-boodskappe, e-posse, nuus, of sosiale media – dit is veral erg as jy voel dat jy uitgesluit gaan word van verskeie goed.

Die Engelse praat van FOMO (Fear of missing out). Jou gedagtes word onmiddellik getrek in soveel rigtings. Tog leer die Here Jesus ons iets anders:

Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Matteus 6:33

Hierdie woord eers is nie net ’n tydsaanduiding nie, maar ’n aanduiding van prioriteit, van waar jou hart werklik rus.

Kyk eerste na die Here

In die Bybel kry ons voorbeelde van mense wat God eerste geplaas het. Psalm 5:4 herinner ons daaraan dat Dawid vroeg in die oggend sy stem na die HERE rig.

In die môre, Here, sal U my stem hoor; in die môre sal ek dit aan U voorlê en afwag.

Hierdie wag — hierdie verwagting — is nie passief nie. Dis ’n geloofsdaad. Dit is om met jou hele wese te erken: “U is my eerste en my belangrikste.”

Kyk byvoorbeeld na Abraham. In Genesis 22:3 lees ons dat hy “die môre vroeg” opgestaan het om God se opdrag uit te voer. Dit was nie maklik nie. God het hom gevra om sy seun te offer. Tog, sonder uitstel, tree Abraham op, dit spreek boekdele van sy vertroue in die Here. Hierdie gehoorsaamheid in geloof kom uit ’n hart wat ingestel is op God se wil. Selfs eerste in die oggend.

En dan sien ons selfs die Here Jesus, die Seun van God, het vroeg opgestaan om alleen met Sy Vader te wees.

En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid.

Markus 1:35

As ons Verlosser self die Vader eerste gesoek het, hoeveel te meer moet ons nie ook in dié rigting gestrek wees nie?


Om God eerste te stel kom uit die hart

Dis nie ’n wettiese eis nie, nee, dit is maar die begeerte van ’n gelowige hart. Kan ’n wedergebore hart anders as om heel eerste elke dag die Here te soek? Dis ’n uitnodiging van genade. Begin jou dag in die teenwoordigheid van God.

Wanneer Hy eerste jou aandag kry, word jou hele dag herskep in die lig van sy teenwoordigheid. Jou siel vind rus, jou gemoed word kalm, jou hart word versterk. Nie omdat jy sterk is nie, maar omdat jy begin het by die Bron van alle genade.

So, vra jouself eerlik af. Wie of wat kry eerste jou aandag in die oggend? Want waar jou aandag is, daar is jou hart. En waar jou hart is, daar is jou geloof. Laat ons dan sê:

o God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ’n dor en uitgedroogde land, sonder water.

Psalm 63:2

Want in die vroeë ure van die dag, voor die wêreld jou aandag wil steel, is dit die tyd om te kies, om eerste opnuut jou geloof in Christus te laat leef.


Mag jy elke oggend ontdek as jy die Koning eerste soek, gee Hy jou alles wat jy nodig het vir daardie dag: barmhartigheid, vrede, leiding en krag.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui