God as die gelowige se Vader

Besef jy hoe wonderlik die genade is wat jy ontvang het om God jou Vader te mag noem? Lees hier wat dit vir die gelowige beteken.
deur Alistair van Heerden
In ’n wêreld vol onsekerheid en gebrokenheid, is daar een groot troos en waarheid in die evangelie wat ons kan bevry: Ons mag God “ons Vader” noem.
Hierdie klink sommer eenvoudig, maar het ’n baie dieper betekenis vir ons. En, die beste is dat dit nie iets is wat ons verdien nie. Nee, ons ontvang dit uit God se genade. Dit is God se genadige openbaring in die Here Jesus Christus, en die werk van die Heilige Gees in ons harte.
God se vaderskap is nie vanselfsprekend nie
Die Skrif leer ons duidelik dat nie alle mense God as Vader ken nie. In die sin van skepping is God inderdaad die oorsprong van alles wat bestaan (Handelinge 17:28). Maar, in die sin van genadige en verlossende vaderskap, is Hy slegs die Vader van dié wat aan Christus behoort.
Hier word ’n onderskeid gemaak tussen God, die Vader van die skepping, en die besonderse vaderskap wat ons van God ontvang as die Vader, ons Verlosser. Dit is ’n belangrike onderskeid in die Bybelse verstaan van die evangelie.
Deur die sondeval het die mens homself van God vervreem. Die mens is na die sondeval geestelik dood, blind en vyandig teenoor God. Romeine 3:10-12 maak dit duidelik dat niemand God van nature soek nie.
Sonder die wedergeboorte deur die Gees, en geloof in Christus, kan ’n mens nie vir God as Vader ken nie. Slegs dié wat in Christus is – dié wat in die Here glo – word kinders van God. En hulle mag Hom met reg “Vader” noem (Johannes 1:12-13; Galasiërs 4:6). Hierdie kindskap is dus ’n gawe van genade, nie ’n algemene menslike eienskap nie.
Christus bring ons in die Vaderhuis in
Die wonder van die evangelie is dat God self, in sy oneindige liefde, na ons toe gekom het. 1 Johannes 3:1 roep dit uit met verwondering:
KYK wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word!
Hierdie vaderskap is dus nie natuurlik nie, maar bonatuurlik. Dit is iets wat God aan ons geskenk het in die Here Jesus Christus. Die Heidelbergse Kategismus verwoord dit in Sondag 46 só: “Waarom het Christus ons beveel om God met die naam Vader aan te spreek? Om reeds aan die begin van ons gebed in ons harte die kinderlike vrees en vertroue teenoor God te wek …”
Deur Christus, en slégs deur Hom, word sondaars kinders van God. Johannes 1:12 bevestig dit:
Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.
Die Here Jesus leer ons om in die gebed God aan te spreek as “Ons Vader wat in die hemel is.” Dit beteken dat Christus ons leer om met vrymoedigheid, maar ook met ontsag, tot God te nader as ons liefdevolle Vader.
Die Heilige Gees bevestig ons kindskap
In Galasiërs 4:6 sien ons hoedat kindskap nie net ’n teoretiese stelling is wat ons moet glo nie, maar ’n hartservaring is wat deur die Heilige Gees bevestig en lewend gemaak word:
En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!
Wanneer Paulus sê dat die Gees in ons harte roep “Abba, Vader!”, gebruik hy die Aramese woord Abba, wat ’n baie intieme vorm van aanspreek is. Dit is ’n spontane uitroep vol vertroue van ’n kind wat sy Vader ken en liefhet.
Hierdie roep is die werk van die Gees van Christus. Dit beteken dat dieselfde verhouding wat Jesus as Seun met die Vader het, nou ook aan ons gedeel word deur geloof. So bring die Gees nie net nuwe kennis nie, maar nuwe identiteit. Soos Galasiërs 4:7 sê:
Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God.
Die Heilige Gees vestig in ons die wete dat ons nie meer vreemdelinge of slawe van die sonde is nie, maar geliefde kinders van God.
Wanneer ons weet dat God ons Vader is, en dat Hy ons liefhet, roep dit in ons ’n kinderlike gehoorsaamheid en vertroue op. Ons bid nie meer uit vrees of skuld nie, maar uit ’n hart wat weet: Hy hoor my, Hy verstaan my, en Hy gee my wat ek in Christus nodig het.
Dit bring vir die gelowige vrede in swaarkry, volharding in versoeking, en vreugde in diens. Soos Romeine 8:15 dit stel:
Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
Kindskap bring sekerheid, troos en gehoorsaamheid
Wanneer ons God as Vader leer ken, verander dit alles. Dit bring ’n nuwe identiteit. Ons is nie meer vreemdelinge nie, maar eerder huisgenote van God. Dit bring troos in lyding, want ons weet Hy is in beheer en sy Vaderhart is goed. En dit bring gehoorsaamheid want kinders wil hulle Vader behaag.
Die ware kind van God wil nie meer in die wêreld se plesier en selfbelang leef nie, maar in dankbare diens aan die Vader.
Om God as Vader te ken is nie jou reg as mens nie, maar ’n genadegawe in Christus, bevestig deur die Gees. Dit is ’n hemelse werklikheid wat in die hart van die gelowige wortel skiet en hom dryf tot lof, gebed, gehoorsaamheid en diepe troos. In Christus sê God:
Ek sal julle Vader wees, en julle sal My seuns en dogters wees.
2 Korintiërs 6:18
