God is die Bron van alle gawes
In hierdie artikel kyk ons na wat die goeie en volmaakte gawes is wat God – ons enigste Bron van voorsiening – volgens Jakobus vir ons gee.

deur Barend van der Westhuizen
Ons is aan die einde van hierdie jaar en dit is amper Kersfees. Vir gelowiges gaan Kersfees oor die genade wat God Jesus Christus aan ons gewys het. Vir baie mense beteken Kersfees ongelukkig nie dieselfde nie. Kersfees word tipies gekenmerk deur feestelikheid, rus en dan natuurlik geskenke. Baie mense hou daarvan om geskenke oor Kersfees aan mekaar te gee. Kinders kan dikwels nie wag vir hulle geskenke nie, aangesien dit net die perfekte ding is waarna hulle soek.
Daar is natuurlik niks fout om aan iemand anders ’n geskenk te gee nie. Die versoeking is egter daar om so met aardse geskenke vasgevang te wees dat ons God se goeie en volmaakte gawes van Bo miskyk. Dit kan natuurlik ook so maklik gebeur dat ons meer waarde aan aardse dinge heg as aan dit wat van Bo kom.
Hoekom is dit so maklik om te veel waarde aan aardse dinge te heg?
Ons leef in ’n wêreld waar dit vir soveel mense belangrik is om sekere dinge te hê of om sekere dinge te kan doen. Ons wêreld heg baie waarde aan besittings, status, “image” en vermoëns. Die wêreld glo die leuen dat hoe meer jy van hierdie dinge het hoe “meer waardevol” jy as mens is.
Baie mense voel dan eers hulle het waarde as hulle mooi kan lyk, goed kan sing, vinnig kan hardloop, ’n blink nuwe motorvoertuig ry of ’n huis in ’n sekere woonbuurt kan koop. Dit kan gevaarlik raak as ons ook ons eie waarde hierin soek. As ons dan nie die fiets kry wat ons maatjies kry nie of die selfoon het wat ons vriende het nie of selfs die talente het wat ander het nie dan moet ons versigtig wees om te dink ons het nie waarde nie. Ons moet versigtig wees om te dink daardie dinge in ons hartsverlange sal voorsien.
Die wêreld belowe om die waarde waarna jy soek te gee
Dit is egter moeilik om in hierdie wêreld nie versoek te word nie aangesien die wêreld belowe om te voorsien waarna jy verlang. Daar is so dikwels nog ’n lewensgrootte advertensiebord oor die nuutste produk, selfoon, voertuig of klerereeks. Winskopies, “Black Friday” en nuwer tegnologie belowe om die lewe meer sinvol te maak. Die maatskappye wat al hierdie dinge adverteer wil jou flous om te glo dat jou lewe nie so sinvol sal wees sonder hierdie produk nie. Baie keer sien jy op sosiale media soos Facebook of Whatsapp juis iemand dit ontvang waarna jy gesoek het en dan is die versoeking groot om jaloers te wees en dit mis wat jy as ’n gelowige wel ontvang het!
Wat het ons dan as gelowiges ontvang?
Jakobus 1:17 leer:
Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie.
Jakobus bedoel hier dat goeie en volmaakte gawes van die Een kom wat goed en volmaak is. Dit kom van die Vader wat onveranderd goed is en goed bly. Die Vader se goedheid verander nie soos die sonlig of sterrelig nie. Die Vader weet wat ons as mense nodig het. Hy weet presies wat die perfekte geskenke is om te gee en Hy gee dit ook. Tog mislei ons onsself en soek op sondige maniere na dinge om te bevredig.
Jakobus fokus juis sy lesers se aandag op God se goeie en volmaakte gawes nadat hy volgens Jakobus 1:14-16 gewaarsku het oor hoe misleidend ons sondige begeertes kan wees! Kyk eerder na die Bron van alles wat goed is as na sonde wat so dikwels belowe om te voorsien in wat jy nodig het.
Wat is die goeie en volmaakte gawes wat God gee?
Jakobus gaan dan verder in Jakobus 1:18 om te verduidelik watter gawes God gee:
Volgens sy wil het Hy ons verwek deur die woord van die waarheid …
Hier leer Jakobus dat God besluit het om deur die waarheid van sy Woord ons tot geloof te bring. Let op die woorde: “Volgens sy wil”. Dit was God se besluit om geloof en redding aan ons te gee. Paulus bevestig dit met die woorde van Efesiërs 2:8 wanneer hy skryf:
Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.
Laat ons besef dat hierdie verlossing en geloof ’n gawe van God is. Hierdie geloof kom deur die aanhoor van die Woord (Romeine 10:14). Dit sluit aan by Jakobus 1:18 wat beskryf dat ons deur die waarheid van die woord verwek is (tot ’n nuwe lewe gebring is) (1 Johannes 3:1 & 9; Johannes 3:5).
Die waarde van God se goeie en volmaakte gawes
Het jy al gedink hoeveel waarde hierdie Woord van God het? Psalm 19:11 leer dat God se Woord kosbaarder (begeerliker as goud) en soeter as heuning is. Het jy al besef hoeveel waarde daar aan geloof geheg word? Petrus leer volgens 1 Petrus 1: 7 dat ’n egte geloof baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is.
So ook leer 1 Petrus 1:18-19 dat dit nie verganklike dinge soos goud of silwer was waarmee ons losgekoop is nie, maar met die kosbare bloed van Jesus. Let op hierdie kosbare en waardevolle gawes van geloof, redding en God se Woord wat geskets word as gawes wat baie meer as aardse gawes werd is.
Die gawe van die Woord, geloof en redding is baie meer werd as enige kar, huis, voorkoms, produk, selfoon, klerereeks, vermoë, prestasie of watookal die wêreld sê in jou hartsverlange sal voorsien. Wees versigtig om nie meer waarde aan “goud” of “silwer” te heg as aan die Woord van God, geloof in Christus en die verlossing wat God die Bron van goeie en volmaakte gawes gee nie.
Die gawe van die Heilige Gees
Jesus leer volgens Matteus 7:9-11
Wie onder julle sal, as sy seun brood vra, vir hom ’n klip gee? Of ook, as hy ’n vis vra, vir hom ’n slang gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader in die hemele goeie dinge gee vir hulle wat Hom vra!
Lukas se weergawe volgens Lukas 11:13 eindig met “hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan hulle wat Hom vra nie”. Dit is juis die Gawe van die Heilige Gees wat God gee wat sy vrug in ons lewens werk, wat geloof in ons harte werk en wat die Skrif geïnspireer het (Handelinge 2:32, Galasiërs 5:22; 1 Korintiërs 12:3 en 2 Timoteus 3:16). Ons kan vir God bid om hierdie volmaakte Gawe aan ons te gee.
Vier Kersfees met wysheid
Ons moet dus hierdie Kerstyd met wysheid vier. Wanneer ons wysheid kort leer Jakobus 1:5 dat ons ook dit van God kan vra wat dit sal geesonder om ons te verwyt. Hierdie wysheid leer Jakobus volgens hoofstuk 3:13-18 is ook van Bo!
Dit is nie selfsugtig en jaloers opsoek na ’n verkeerde aardse waardesisteem nie, maar dit is wysheid wat goeie vrugte lewer. Onthou dat God die Bron is wat goeie en volmaakte gawes gee. Laat ons daarteen waak om nie God se gawes ’n einde in opsigself te maak nie, en God bloot vir sy gawes te dien nie. Laat ons egter Hom die Bron, naamlik God, self aanbid as die enigste lewende, goeie en volmaakte God.