Vind jou blydskap in Christus

Die Bybel gee ons die opdrag om altyd bly te wees. Selfs al gaan jy hierdie Kerstyd deur ’n moeilike tyd, kan die Kersfeesboodskap jou help om opnuut vreugde te vind.

Deur Werner Viljoen

Wat maak jou vandag gelukkig? Wat is dit wat jou ʼn gevoel van rustigheid en vrede in jou gemoed gee? Vir baie mense is Kersfees een van daardie dinge wat vreugde verskaf. Tog is daar ook die teenkant daarvan. Miskien is Kersfees hierdie jaar vir jou nie so ’n vreugdevolle tyd nie. Miskien is jy bekommerd oor jou finansies of lê jy wakker oor werknemers wat jy moes afdank. Dalk beteken Kersfees vir jou ’n hartseer tyd, omdat dit die verlies van ’n geliefde weer vars in jou geheue bring. Dalk beteken Kersfees vir jou wel die samekoms van familie, maar terselfdertyd ook rusie en verskille met daardie selfde familielede. Hoe maak ons dan met ’n vers soos Filippense 4:4 wat sê: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” of Sefanja 3:14 wat sê: “Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!


Van Sefanja tot nou

Die profeet Sefanja gee die oproep om te jubel net nadat hy ’n boodskap gee dat die Here die ander nasies, en vir Israel, gaan oordeel oor hulle sonde en ongeregtigheid. Hy bring die boodskap dat God vir Israel gaan suiwer en louter en die verhouding tussen God en sy volk gaan herstel. En dan kom die oproep aan Israel om te jubel oor wat God gaan doen. Hierdie was ’n tyd van uitdagings en onsekerheid vir Israel – polities was hulle nie onafhanklik nie, hulle ekonomie het gesukkel, en dit was ’n tyd van groot onsekerheid oor die toekoms van die volk.

Vir ons wat nou lewe, is dit dalk makliker as vir die Israeliete van daardie tyd om bly te wees. Ons het die Nuwe Testament wat ons vertel van die geboorte van Jesus Christus, die eerste koms van Christus ons Verlosser. Dit vertel ons ook van die tweede koms van Christus, die wederkoms wanneer Hy alles met ʼn nuwe hemel en nuwe aarde gaan vervang.
Hoewel ons dit weet is daar dinge in die lewe wat dit vir ons moeilik maak om altyd opgeruimd en vol vreugde te wees. Ons ervaar pyn, verlies, bitterheid en ontnugtering. Kan ons werklik nog feesvier en opreg vreugde ervaar te midde van hierdie dubbelsinnigheid van die lewe? Of is ons eintlik maar net besig om elke nou en dan ons oë toe te knyp vir wat werklik om ons aangaan?


God roep ons tot vreugde

Skrifgedeeltes soos Sefanja 3:14-20 roep ons op tot vreugde, selfs te midde van moeilike omstandighede. Maar hoe maak ons sin van hierdie oproep tot vreugde? Ten spyte daarvan dat die lewe soms vol pyn en verdriet, onsekerheid en angs is moet ons God se vreugde ervaar.

Met Kersfees vier ons die wonder dat God in Christus mens geword en onder ons kom woon het. Die klem van die fees val nie net op die Kind in die krip nie, maar op die Een wat gekruisig is en opgestaan het uit die dood. Tog is die karakter van Kersfees een van uitbundige vreugde.

  • Kersfees gaan nie oor oppervlakkige vreugde nie. Dit is vreugde te midde van die teenstrydighede en uitdagings van die lewe. Die vreugde van Kersfees het niks te make met ’n mentaliteit van ontvlugting of oë toeknyp vir die werklikheid nie.
  • Ons lewe nie in ’n ideale wêreld nie, maar God het hiérdie wêreld lief. God verheug Hom oor mense soos ons. Nie perfekte, volmaakte mense nie, maar mense wat hartseer raak en pyn ervaar, mense wat nie altyd alles regkry nie en soms misluk.
  • Ons is nie uitgelewer nie. Met die Kersboodskap kom sê God dat ons omstandighede nie die laaste sê oor ons lewens het nie. Christus is gebore. Daarom gee ons nie op nie, want ons God is ’n God van ontferming.
  • Ons Heer is Een wat Homself met sy mense vereenselwig, wat ons geringheid en nood raaksien, wat sy beloftes van ontferming onthou. Ons is nie uitgelewer aan die omstandighede wat lyk of dit ons wil oorweldig nie.

Vind die vreugde in Kersfees

Die Kersboodskap vertel ons van ’n ander orde, ’n ander koninkryk, van nuwe lewensmoontlikhede wat in die realiteit van ons lewens inbreek deur die Kersverhaal. Ons verwag dat God daagliks die konkrete realiteit van ons lewens sal deurbreek met nuwe moontlikhede. Dit is waarom ons Kersfees vier.

Hoop is nie ’n “cop-out” nie, dit is dapper. Dit is om ten spyte van wat jy sien en ervaar, tog iets anders te verwag – omdat jy God verwag.

Bemoedig mekaar deur hierdie Kerstyd, te midde van die dubbelsinnigheid van die lewe. Al ons probleme en uitdagings verdwyn nie sommer net omdat dit Kerstyd is nie. Maar ons het hierdie troos – die Kersboodskap van Jesus se koms na die aarde is goeie nuus vir ons omdat God sy tuiste onder mense kom maak het, Hy het binne in ons wêreld kom inklim. Deur sy Gees het God gekom om te bly. Die Heilige Gees is altyd by ons, in goeie tye, én in die moeilike tye.


Hierdie artikel is verwerk uit ’n preek van Ds Werner Viljoen van Gereformeerde Kerk Bultfontein. As jy die volledige preek wil lees klik hier.

You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui