Hoe is die evangelie soos water?

In Johannes lees ons hoe Jesus lewende water vir ’n Samaritaanse vrou aanbied. Lees hier hoe God alleen ons dieper dors kan bevredig.


deur Barend van der Westhuizen

Johannes 4:10-15 is ’n klein gedeelte van die vertelteks vanaf Johannes 4:1-42 waar Jesus met ’n Samaritaanse vrou praat. ’n Gesprek wat begin het by aardse water en aardse skepdinge het tot gevolg gehad dat die vrou en baie ander Samaritane gered sou word (Johannes 4:41-42).

Die evangelie as lewende water

In hierdie gesprek wat by aardse dors en aardse water begin het sou Jesus die evangelie as die “lewende water” verduidelik. Dit is die lewende water van die evangelie wat alleen die dors van die siel kan bevredig. Die evangelie is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo – Romeine 1:16. Dit is nie ’n selfhelpboek of vyf praktiese stappe tot rykdom of jou beste lewe nou nie – dit is alleen die evangelie – die “gawe van God” (Johannes 10:15).

Die Samaritaanse vrou was egter eers verontwaardig dat Jesus wat ’n Jood is met haar praat omdat die Jode en Samaritane baie op mekaar neergekyk het (Johannes 4:9). Boonop vir haar verontwaardiging dink hierdie vrou dat Jesus na aardse water verwys toe Hy vir haar lewende water aanbied. Dit is waarskynlik dat sy gedink het die lewende water waarna Jesus verwys het ’n stroom water is wat gevloei het eerder as stagnante of stilstaande water in ’n poel. Dit is hoekom sy gedink het Jesus maak ’n belaglike aanbod aangesien Hy nie eers ’n skepding by Hom gehad het nie (Johannes 4:11).

God gee die gawe van die lewende water wat bevredig

Jesus het egter nie na lopende aardse water verwys nie, maar na die water wat Hy kan gee (Johannes 4:10). Hierdie lewende water is Jesus Christus self. Net Hy kan die lewende water gee. Dit is ’n onverdiende geskenk vanaf God. Jesus Christus alleen kan die innerlike dors wat daar in elke mens is bevredig. Elkeen wat weer aardse water drink sal fisies dors word. Daar is egter ook ’n dieper dors in die mens as die dors na aardse water. Dit is die dors na bevrediging. Dit is die dors na vervulling. Dié dors om te voel dat die lewe die moeite werd is.

Ons wil op verkeerde plekke ons dieper dors les

Dit is egter hierdie dieper dors wat ons op verkeerde plekke probeer bevredig. Dit is ook wat die volk in die Ou Testament gedoen het. Jeremia 2:13 leer:

… want twee wandade het my volk gepleeg: My die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle opgaarputte uit te kap, gebarste opgaarputte wat nie water hou nie.

Hierdie dieper dors kan slegs by die Here geles word. Die psalmdigter van Psalm 42: 2-3 het dit besef toe hy sê: “Soos ’n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God. My siel dors na die lewende God”. So wou Jesus hê moes hierdie Samaritaanse vrou besef dat sy ’n dieper dors het wat Hy alleen kan vul.

Hierdie vrou het haar dieper dors probeer aanspreek met verskillende verhoudings met mans en dit het nie gewerk nie. Sy het al vyf mans gehad en het saam met een geleef wat nie haar man was nie.

Probeer jy jou dors op hierdie verkeerde maniere les?

Jesus het sy vinger op hierdie vrou se dieper dors gesit. In hierdie gesprek wil Hy hê dat ons moet reflekteer of daar aardse dinge is wat ons probeer gebruik om die dieper dors te probeer les.

  • Is dit dalk die soeke na meisies of ouens se aanvaarding of selfs fisiese plesier in wellus?
  • Is dit dalk ’n krampagtige soeke na aardse skatte; die droomlyf, die droomkar, droomloopbaan, droomverhouding, droomtroue, droomfamilie, droomvakansie, droomfoon?
  • Is dit dalk jou status wat jy op sosiale media uitkerf soos iemand ’n standbeeld uitkerf?
  • Is dit dalk ’n vreesagtige soeke na aanvaarding en goedkeuring van jou as persoon deur ander, anders voel jy soos ’n mislukking?
  • Is dit dalk ’n konstante dryf om te wil presteer en erkenning te wil kry vir jou prestasies?

Wat as jou droomlyf nie die antwoord op jou dors is nie? Wat as jy besef dat jou droomhuweliksmaat ook ’n sondaar soos jy is? Jou droomvakansie laat jou dalk net dors vir die volgende een. Wat as jou volgende prestasie jou met ’n leë hart los? Wat as jy besef die aanvaarding van ander is nie genoeg nie? Of, wat as jy besef dat hoe jy jouself op sosiale media laat lyk jou met ’n valse self laat? Dit alles en nog te meer sal ons dieper dors nie vul nie.

Jesus het gekom sodat ons dieper dors by God bevredig kan word

Jesus alleen is die Een wat as gestuurde van die Vader gekom het om ons dieper dors te les. Hy kan die Gawe van die Heilige Gees gee om inwonend met ons te wees om te besef ’n lewe vir God is die moeite werd.

God het ons gemaak om Hom te ken en totdat ons Hom nie ken nie gaan ons onbevredigend dors bly. Augustinus beskryf dit so mooi in sy een boek wanneer hy sê: “U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus in U vind!”

Jesus weet ons het ’n dieper dors. Dit is Jesus wat hierdie gesprek met ons begin. Jesus het die gesprek met die Samaritaanse vrou begin. Jesus het kultuurverskille oorskry om met ’n Samaritaanse vrou te praat. Hy het na ’n dors vrou met ’n sondegeskiedenis uitgereik en gesê Hy kan lewende water gee.

As ons maar net vra dan sal Hy dit gee. Ons sondegeskiedenis diskwalifiseer ons nie van die lewende water wat Jesus kan gee nie; dit getuig van die dors wat ons het wat Hy alleen kan les. Jesus gee die gawe van God – Hy gee dit verniet. Ons hoef nie geld te gee of ons goeie werke nie; ons moet net vra en drink. Jesaja het hiervan geprofeteer volgens Jesaja 55 vers 1:

O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet, ja, kom koop sonder geld en sonder prys…

Ons moet ons dors met die evangelie les

As ons van Hom drink sal ons besef dat sonde en aardse dinge nie bevredig nie en ons sal daarvan moet wegdraai. Dit beteken dat ons nou deur geloof in ’n intieme verhouding met God vir Christus moet leef.

Ons moet vra dat die Heilige Gees ons dors sal bevredig. Wanneer ons vir Christus leef dan leef ons vir die Een waarvoor ons gemaak is. Wanneer ons in ’n geloofsverhouding met God leef gaan ons nogsteeds swaarkry, seerkry, versoekings en beproewinge in die wêreld ervaar. Maar, die goeie nuus is dat ons nie meer ons dors in ’n gebroke seer wêreld met aardse dinge sal wil probeer bevredig nie. Want ons weet: God alleen bevredig ons dieper dors.


Jy sal ook hou van ...

1 Response

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui