Laat God die invloed op jou denke wees

Ons aksies, besluite en denke moenie deur die digitale wêreld beïnvloed word nie, maar deur God en sy Woord. Lees hier hoe ons denke vernuwe word.
deur ds Ruan Steyn
Suid-Afrikaners spandeer ongeveer 5 ure per dag op hulle selfone en sosiale media. Navorsing het oor die jare getoon watter negatiewe impak sosiale media op die mensdom het. Net om ’n paar voorbeelde te noem:
- Sosiale media veroorsaak dat mense ’n onrealistiese verwagting oor die lewe het. Dit veroorsaak ’n lae selfbeeld.
- Sosiale media-gebruikers kan slagoffers word van kuberafknouery en dit affekteer mense op ’n emosionele vlak.
- Verhoudings ly daaronder, want kwaliteit tyd word deur digitale afleidings vervang.
- Langtermyn misbruik word gekoppel aan geestesgesondheidsrisiko’s soos depressie en angs.
Natuurlik is een van die grootste probleme die feit dat mense se idees en denke deur sosiale media en die digitale wêreld bepaal word – selfs Christene kan in hierdie strik trap.
Pasop vir die dinge van die wêreld
Die Skrif waarsku ons dat die wêreld (heidene) se gedagtes tot niks lei nie, want “hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard” (Efesiërs 4:17-18).
Paulus beskryf die ongelowiges as “mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk” (Romeine 1:18).
Ons Vyand gebruik die digitale wêreld om ons denke deur die wêreld te laat verander. Die wêreld probeer bepaal hoe ons oor alle etiese en morele kwessies dink (bv. die huwelik, liefde, genadedood, ensovoorts).
Wees anders as die wêreld
Die Here lei sy kinders om nie deur die wêreld beïnvloed te word nie. Paulus skryf in Romeine 12:2 die volgende:
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
“verander”
Die woord wat vir “verander” gebruik word, is ’n pragtige woord wat ons prakties in die natuur sien – ’n wurm wat in ’n pragtige skoenlapper verander. Ons noem dit metamorfose. Metamorfose is ’n radikale, innerlike verandering van die mens se hele wese. Dit is die Heilige Gees wat hierdie verandering bewerk. Hy doen dit deur ons daagliks in die beeld van Christus te vorm.
“denke”
Die manier hoe God hierdie verandering in ons laat plaasvind, is deur ons denke te vernuwe. Die woord vir “denke” verwys meer as net die dinge wat in ons brein bedink word. Dit verwys na die hele sfeer van die mens se intellek, wil en morele onderskeidingsvermoë. Dis die setel van ons gedagtes en begrip.
Dit is die Here wat ons gedagtes verander deur die Heilige Gees, maar die mens het ’n verantwoordelikheid en ’n rol in hierdie verandering wat plaasvind. Ons kan nie agteroorsit en dink dat die Gees ons gaan vernuwe terwyl ons aanhou om al die “gemorskos” van die digitale wêreld in te neem wat so vrylik aan ons gebied word nie!
Hoe kan ons ons denke vernuwe?
Eerstens het ons ’n verantwoordelikheid om tot God te bid en te smeek dat Hy ons denke sal vernuwe. Gebed is immers die suurstof vir ons geloofslewe.
Tweedens het ons ’n verantwoordelikheid om daagliks soveel tyd as moontlik in die Woord van God deur te bring. Die Woord van God is immers “die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad” (Psalm 119:105).
Mense gebruik gewoonlik die verskoning dat hulle nie genoeg tyd het om daagliks die Bybel te bestudeer nie. As ons minder tyd in die digitale wêreld spandeer, sal daar meer tyd wees vir die Woord. Wanneer ons meer tyd in die Woord spandeer, gaan daar minder geleenthede wees om deur die wêreld beïnvloed te word. Ons moet die Woord lees, bestudeer, memoriseer en daarop mediteer (vgl. Psalm 1).
Gebruik die digitale wêreld volgens God se wil
Die digitale wêreld is nie net sleg nie en kan ten goede aangewend word tot eer van God en tot opbouing van die Kerk en Koninkryk. In alles wat ons doen, moet ons egter vra: “Wat is die wil van God?” Al ons aksies, al ons besluite en al ons denke moenie deur die digitale wêreld beïnvloed word nie, maar deur God en sy Woord. Dit is moontlik, want die Heilige Gees lei en vernuwe ons daagliks.