Moenie verhoudings met jou foon vervang nie

God het ons gemaak om in verhouding met Hom en mekaar te leef. Lees hier hoekom ons nie ons fisiese verhoudings met mekaar met ’n virtuele wêreld mag vervang nie.

deur ds Barend van der Westhuizen

Het jy al opgelet hoe dikwels mense op hul fone is? Dink aan mense op hul fone terwyl hulle bestuur, wanneer hulle in restaurante oorkant mekaar sit, terwyl hulle in ’n winkelsentrum loop, of selfs ouers wat langs die sportveld met hul fone besig is.

Hoeveel gesinne woon in dieselfde huis, maar is verknog aan hul slimfone? Hoeveel huweliksmaats klim saam in die bed, net om om te rol en vir ure op die foon besig te wees? As jy dalk nie hierdie vrae kan antwoord nie, of nie hierdie gedrag al opgelet het nie, is dit heel moontlik omdat jy ook vasgenael is aan jou foon!


Is ons fisies teenwoordig, maar emosioneel afwesig?

Ons leef al hoe meer waar ons fisies bymekaar teenwoordig is, maar emosioneel afwesig is. Ons mag dalk liggaamlik in dieselfde huis, vertrek, kar, winkelsentrum, kerkgebou of natuur teenwoordig is, maar ons koppe en gedagtes is by ons fone. Alles en almal rondom my vervaag en verflou, want die trekkrag van my foon is net te groot! Dit voel so sterk dat ek die plek en mense waar God my nou plaas eerder ignoreer en opsy skuif.

So groei ons as huweliksmaats, gesinne, maats, ouers en burgers van ’n samelewing verder en verder weg van mekaar. Ons gebruik gemeenskaplike ruimtes, maar ons leef verby mekaar. Ons verleer om in mekaar se teenwoordigheid te wees, in mekaar belang te stel, lang gesprekke te hê, saam die stilte te geniet, vir mekaar om te gee en nuwe mense te leer ken. So gaan die lewe verby … minute, ure, dae en jare. Vasgevang in my virtuele wêreld verloor ek my aanvoeling vir die werklikheid en werklike verhoudings. Is dit hoe God bedoel het ek moet lewe?


God se ontwerp vir ons verhoudings

God het ons gemaak om in verhouding met Hom en mekaar te leef. Hy het ons ook gemaak om bewus van sy handewerk in die skepping rondom ons te wees. Ons kan dus nie ons fisiese verhoudings met mekaar met ’n virtuele wêreld vervang nie.

Dit beteken onder andere dat ons nie maar elkeen op my foon of televisie kan “kerk kyk” nie. Ons as gelowiges is die kerk, liggaam en kudde van Christus wat nie van ons onderlinge samekomste moet wegbly nie. Ons lees dit onder andere in 1 Korintiërs 12, Hebreërs 10:24-25, Johannes 10:1-21 en Psalm 23.


Johannes se voorbeeld van fisiese teenwoordigheid

Ons sien die belang van fisies teenwoordig wees juis wanneer die apostel Johannes aan Gaius in 3 Johannes 1:13-14 skryf:

Ek het baie dinge gehad om aan jou te skryf, maar wil dit nie met rietpen en ink vir jou skryf nie. Ek hoop egter om jou gou te sien, en ons sal van aangesig tot aangesig praat.

Johannes wou nog baie skryf, maar hy hou dit terug sodat hy in werklike tyd en van aangesig tot aangesig met Gaius kan praat. Johannes sien die waarde daarvan om in persoon te ontmoet en gesprek te voer.

Hy vervang nie sy verhouding met Gaius met pen en ink nie, maar gebruik pen en ink as ’n hulpmiddel. Dit beklemtoon hoe belangrik dit vir hom is om eerder fisies en emosioneel by Gaius teenwoordig te wees.

Prediker vertel hoe ons mekaar nodig het

Ons sien God se ontwerp vir ons verhoudings ook in Prediker 4:7-12 (lees gerus die hele gedeelte). Die prediker laat val die klem op hoe goed dit is om fisies teenwoordig te wees terwyl ons op mekaar se voordeel let:

Twee is beter is een, want as hulle val kan een sy maat optel … verder, as twee bymekaar lê, kry hulle warm … as iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied.

Hierdie twee reisigers het nie bloot die pad gedeel nie, maar het mekaar se belange op die hart gehad. Hulle was daar vir mekaar. Hulle het mekaar nodig gehad. Hier gee die Here in hierdie twee reisigers ’n voorbeeld van ’n dieper beginsel: Ons leef nie net saam met mekaar nie, maar ook tot voordeel van mekaar. Ons het mekaar nodig.


Kan jy jou foon neersit en dáár wees?

Ons moet fisies en emosioneel teenwoordig wees om die belange van die mense rondom my ’n prioriteit te maak. Kan ek fisies en emosioneel by my huweliksmaat teenwoordig wees as ek gedurig op my foon is? Gaan familiewees oor los individue in ’n gemeenskaplike ruimte op hul fone, of om vir mekaar daar te wees? Kan ons na iemand oorkant ons luister sonder om te wonder hoekom my foon nou ’n kennisgewing ontvang het? Kan ek my foon bêre terwyl ek bestuur, my kinders se sport ondersteun, in die winkel is, of tyd saam my vriende deurbring?


God is by ons teenwoordig tot ons voordeel

Toe Christus aarde toe gekom het, het Hy tot ons voordeel gekom, gesterf en opgestaan. Die Vader het die Heilige Gees gestuur om tot ons voordeel by ons teenwoordig te wees. Die Gees wys ons na Christus se lewe, dood en opstanding sodat ons in ’n herstelde verhouding met God en mekaar kan leef.

Mag die evangelie en God se Gees ons vernuwe om in ’n slimfoonwêreld sy ontwerp vir ons verhoudings uit te leef.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui