’n Tronksel word ’n tempel van lof!

Leer die krag en waarde van lofliedere uit die verhaal van Paulus en Silas in die tronk, wat ons in Handelinge 16 lees.


deur ds Philip Wepener

Het jy al aan die impak wat musiek op jou lewe het gedink? Dit het ’n sterk uitwerking op ons, en op dié rondom ons! In hierdie artikel ondersoek en ontdek ons hierdie uitwerking deur na Paulus en Silas se verhaal te kyk. Ons lees in Handelinge 16:16-40 hoe hulle in die tronk in Macedonië beland. Dis egter hoe hulle uit die tronk ontsnap waar ons die impak van musiek sien.

’n Diensmeisie met ’n waarsêersgees

Paulus en een van sy medewerkers Silas het die evangelie in die stad Filippi in Macedonië bedien (Handelinge 16:11-40). Op ’n dag toe hulle op pad was na ’n bidplek het hulle ’n diensmeisie raakgeloop. In haar was ’n waarsêersgees (’n demoon). Hierdie gees het haar in staat gestel om die toekoms te voorspel. Vir haar waarsêery kon sy haar eienaars ryk maak.

Toe die diensmeisie vir Paulus en sy medewerkers gesien het, het sy agter hulle begin aanloop. Sy het elke dag agter hulle aangeloop en aanhoudend uitgeroep: “Hierdie mense is diensknegte van God, die Allerhoogste! Hulle verkondig aan julle ’n weg tot verlossing!” Wat die diensmeisie gesê het was die waarheid, maar dit was met verkeerde bedoelings. Sy het God se Naam gelaster en ’n bespotting van God se diensknegte gemaak. Dit het ’n paar dae so aangehou, totdat Paulus nie langer kon uithou met die godslastering nie. Hy het in die Naam van die Here Jesus Christus die gees wat in die diensmeisie was, uitgedryf. So het dit ook gebeur!

Die diensknegte van God in ’n stikdonker tronksel

Ná die gees uit die diensmeisie uitgegaan het, kon sy nie meer die toekoms voorspel nie. Toe die eienaars sien dat sy nie langer geld vir hulle kon inbring nie, het hulle Paulus en Silas gegryp en hulle na die stadsplein gesleep tot voor die hoofamptenare.

Daar op die stadsplein was Paulus en Silas skuldig verklaar van onrus wat hulle in die stad veroorsaak het. Hulle klere was van hulle lywe afgeskeur en hulle was met stokke geslaan. Daarna was Paulus en Silas in ’n tronksel gegooi. Die tronkbewaarder het die opdrag ontvang om hulle streng te bewaak. Daarom het hy gesorg dat Paulus en Silas in die binneste tronksel toegesluit word. Die binneste tronksel was stikdonker. Paulus en Silas se voete was ook op ’n houtblok vasgeklem, sodat hulle nêrens kon beweeg en ontsnap nie.

Dit is haglike omstandighede! Paulus en Silas, diensknegte van die Allerhoogste God, word as gevaarlike misdadigers behandel. As Romeinse burgers is hulle sonder ’n verhoor vals beskuldig en onregverdig veroordeel (vgl. Handelinge 16:37). Hulle sit ongemaklik in ’n donker tronksel – dit nog in ’n vreemde land!

Onder hierdie omstandighede sou Paulus en Silas alle rede gehad het om kwaad te wees en voor God te kla. God het hulle na Macedonië toe gestuur. Die bediening in Filippi het so mooi begin (Handelinge 16:11-15). Maar nou sit God se diensknegte in die tronk. Wat was dan die eintlike doel vir hulle om daar te wees?


’n Tronksel word ’n tempel van lof met Psalms

Ondanks wat met Paulus en Silas gebeur het, was daar geen bitterheid by hulle nie. In plaas van kerm en klaagliedere, het hulle teen middernag gebid en lofliedere tot God gesing. Hoe verrassend en pragtig is dit! Paulus en Silas bid, maar in die stikdonker sel met hulle seer wonde en pyn, sing hulle ook lofliedere. Hulle maak ’n tronksel ’n tempel van lof!

Die lofliedere verwys moontlik na die Psalms. Paulus en Silas het moontlik die Psalms gesing wat die dissipels saam met die Here Jesus by die nagmaal gesing het (Psalm 113–118). Die Psalms was in sinagoges en in die Vroeë Kerk gesing. Die Psalms sal inderdaad gepas wees in die tronk. Dit is besonderse gebede omdat dit God se eie, geïnspireerde Woord is wat Hy in ons monde lê om Hom te loof en te dank.

Hoe het Paulus en Silas dit reggekry om te sing? Net te danke aan die Heilige Gees! Paulus en Silas was diep bewus dat hulle nie alleen en tevergeefs in die tronk sit nie. Die Allerhoogste God is by hulle en Hy gebruik die omstandighede om die evangelie aan mense te bring wat dit so nodig het.


Drie wonderwerke vind plaas!

Terwyl Paulus en Silas gebid en gesing het, het daar drie wonderwerke plaasgevind:

1. Paulus en Silas was met die Heilige Gees gevul. Hulle lofliedere het ’n groot uitwerking op almal rondom hulle gehad. Die gevangenes het na Paulus en Silas geluister. Hierdie geluister beteken werklik dat hulle op Paulus en Silas se woorde ag geslaan het en dit vir hulle aangenaam was. Dink aan Lidia toe sy na Paulus geluister het en kyk watter uitwerking dit op haar gehad het (Handelinge 16:15); sy het tot geloof gekom.

2. ’n Aardbewing het die tronk se fondamente laat skud. Al die seldeure het oopgegaan en die boeie van Paulus en Silas, sowel as die ander gevangenes, het afgeval. Wat ’n wonderwerk! Watter aanskoulike belewenis moes hierdie vir almal gewees het. (Die woorde van Psalm 116:1, 16 en Psalm 118:13-17 bevestig dit. God het ook geluister!)

3. Die tronkbewaarder en sy hele huishouding bekeer. Die tronkbewaarder was op die punt om selfmoord te pleeg toe God Paulus en Silas sowel as die gevangenes bevry het. God beskik dat die tronkbewaarder hom oor Paulus en Silas ontferm en dat hy en sy hele huishouding die evangelie van verlossing hoor en gedoop word.


Die krag en waarde van lofliedere

Gelowiges het lofliedere nodig! Paulus en Silas het dit so nodig gehad om met God te praat en vir Hom te sing, al was dit verby hulle slapenstyd en in ’n haglike tronk. Lofliedere genees en kalmeer ons innerlik en gee ons nuwe krag en perspektief.

Lofliedere is Woordverkondiging! God gebruik lofliedere om die evangelie te bevorder. Hoe heerlik is dit om God se Woord op ons lippe te kan neem en op so ’n wonderlike wyse Hom aan onsself en aan ander te getuig. Lofliedere kan mense wat nog die evangelie gehoor het nie, intrek om saam te sing. So kan die Heilige Gees kragtig in hulle werk om die saad van geloof te ontkiem.

Lofliedere bring wonderwerke! Regtig? Absoluut, die tronkbewaarder en sy hele huishouding is dan gered. As ons net in die aardbewing vaskyk, mis ons die hele punt! Is die aanhoor van die evangelie en die bekering van sondaars nie groter en meer aangenaam as ’n aardbewing nie?

Lofliedere is die liturgie van die res van die lewe. Is lofliedere slegs vir die erediens op Sondag? Nee, gelowiges sing vir God ook in hulle binnekamers en rondom die gesinstafel. “Die lewe is ’n (lof)lied!”

Deur lofliedere reageer gelowige beproefdes anders (vgl. Filippense 4:4-7)! Gelowiges maak spreekwoordelik hul tronksel ’n tempel van lof. In slegte omstandighede loof en eer hulle God, want in Jesus Christus is hulle dankbaar en niks sal hulle van Hom kan skei nie. Psalm 42:5b (beryming): “Ja, ek lofsing in die nag, want ek bly die HEER verwag; my gebed sal opwaarts strewe na die bronwel van my lewe.”


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui