Vind vreugde in jou liefdevolle Vader

Die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15 is baie bekend. Lees hier watter eienskappe ons van God ons Vader daaruit leer.

deur ds Brahm Robinson


Die gelykenis van die verlore seun is sekerlik een van die bekendste gelykenisse wat ons Here Jesus vertel het. Meer nog, dit is eintlik ’n gelykenis van ’n vader en sy twéé verlore seuns! Hierdie gelykenis beeld baie mooi God se eienskappe as ons Vader uit. Juis daarom sal mens eerder dié gelykenis se gebruikte naam wou verander, en na dit as “Die gelykenis van God as ons liefdevolle Vader” sal verwys.

Ons lees hierdie gelykenis in Lukas 15:11-32.


Die rede vir die gelykenis

Dié gelykenis word vertel omdat die tollenaars en sondaars die gewoonte gehad het om na Jesus te kom luister. Daarteen het die Fariseërs en die Skrifgeleerdes beswaar gemaak. Juis daarom vertel Jesus die gelykenis sodat hulle die tollenaars en sondaars in die eerste verlore seun moet raaksien, en hulle self in die tweede verlore seun. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is net so vêr buite die koninkryk as wat die tollenaars en sondaars is.


Die jongste seun wil wegkom

Ons weet dan hoe die gelykenis verloop. Die jongste seun wil nie in ’n verhouding met sy pa lewe nie. Hy wil net sy pa se goed hê. Hy wil ook nie wag totdat hy die eendag erf nie, maar soek dit nou. Eintlik wens Hy sy pa was dood.

Hy ontvang dan sy erfdeel en vermors dit deur losbandig te lewe en dit loop alles uit tot ’n laagtepunt in sy lewe. Hy kom op die harde manier tot die besef dat ’n lewe weg van sy pa op niks anders neerkom as slawerny nie. Op die ou einde van die dag het hy niks en in die oë van die vêr land ís hy ’n niks. Daar is nie enige liefde weg van sy pa af nie en hy het ook geen identiteit weg van sy pa nie.

Hy kom dan tot inkeer, en daarom besluit hy om terug te gaan. Dit is presies ook wat ware bekering is: om die begeerte te hê om net in die Vader se teenwoordigheid te wees. Maar hoe sal sy pa hom ontvang nadat hy so lelik met sy pa was en hy self besef dat hy teen God en sy pa gesondig het?


Die jongste seun keer terug

Lees hoe mooi die pa se optrede beskryf word: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien”. Die woorde hier impliseer dat die pa aanhoudend op die uitkyk was vir sy seun se terugkoms. Hy het gewag vir die oomblik en het daarna gesmag dat sy seun moet terugkom. Ja, toe hy nog vêr was, het die vader hom gesien … en hom innig jammer gekry.

Dan die verstommende: die pa wag nie tot sy seun by hom kom om op hom te skree hoe seergemaak hy is deur die seun se optrede en hom dan weg te jaag nie. Nee, die pa neem die inisiatief!

Nog voordat die seun by hom kom en nog voordat hy sy mond kan oopmaak om die skuldbelydenis wat hy geoefen het te sê, hardloop die pa na hom … omhels hom … soen hom, weer en weer en weer.


Die tradisionele reaksie op die terugkoms van ’n verlorene

Die verlore seun sou waarskynlik met sy terugkeer huis toe die vooruitsig van iets genaamd die Kezazah-seremonie te staan gekom het. Dit was ’n seremonie waar ’n Joodse dorp presies hierdie situasie sou hê: iemand het die huis verlaat, die gemeenskap se beginsels verwerp, al sy of haar besittings aan die heidene verloor en dan teruggekeer.

Die dorpsmense sou dan ’n pot voor die voete van die persoon breek, wat simboliseer dat hulle nie meer in gemeenskap met hom was nie. Hulle het verhoudings met hom verbreek. Dit was ’n manier om die individu te beskaam. Dit sou reeds by die buitewyke van die dorp plaasvind voordat die individu sy pad tot by die huis kon maak.

Met hierdie prentjie in gedagte, sien ons wat gebeur wanneer die pa sy seun sien. Hy hardloop. ’n Ouer man in hierdie Midde-Oosterse kultuur, veral die hoof van ’n welgestelde huishouding, sou nooit hardloop nie. Om dit te doen, sou onwaardig wees. Maar hy doen dit om hom teen die Kezazah-seremonie te beskerm! Hy hardloop om by die seun uit te kom voordat die res van die gemeenskap hom kry.


Die pa se reaksie op die jongste seun se terugkoms

Dié pa wil sy seun beskerm teen die verwerping. Hy wil sy seun wys dat hy nie verwerp is nie, dat die pa die seun se skaamte sal genees en dat hy huis toe kan gaan. Toe hy sy seun bereik, het die vader hom “omhels en gesoen” (Lukas 15:20b). Hy gee nie om dat die seun na varkmis ruik nie. Hy gooi sy arms om hom en verwelkom hom.

Die seun kry die beste klere, hy kry ’n ring wat sy stand as kind aandui, en die kalf wat gereed gehou is vir ’n spesiale geleentheid, word geslag. Sy pa neem die inisiatief, en hy herstel die gebroke verhouding op die verstommendste manier denkbaar … deur totale vergifnis! Om nie eers meer te dink aan sy seun se oortredings nie, maar deur fees te vier!


Die gelykenis wys op Jesus Christus

Hier sien ons hoe die gelykenis wys op die werk van ons Here Jesus Christus. Die pa het nie die seun toegelaat om te vra of hy ’n gehuurde werker kan wees nie, omdat God, deur die werk van Jesus Christus nie enige gehuurde werkers het nie.

 Die oomblik wat ons na Hom toe kom en sê: “Ek wil deur U gehuur word” dink ons “Ek sal my weg terug na my Vader se liefde verdien. Ek sal dit of dat vir U kan doen en so my plek terugwerk”. Maar God sal dit nie toelaat nie, want ons kan nie. Ons sal self net weer die goeie gawes tot niet maak. God ontvang ons slegs deur die werk van Jesus Christus aan die kruis!

God die Vader het nie gehuurde werkers nie, Hy het slegs seuns en dogters…wat Hy deur die werk van Jesus Christus aangeneem het.


Die ander seun se reaksie op sy jongste broer se terugkoms

Jy kan nie onaangeraak wees oor hoe God Homself hier aan ons openbaar nie. Hy is barmhartig, genadig, lankmoedig en vol liefde. Selfs ook teenoor die ouer broer wat niks van sy jonger broer se terugkoms wil weet nie. Die broer wat dink dat hy as slaaf moet werk vir sy pa, en wie se grootste begeerte is om fees saam met sy vriende te vier.

Die pa is die een wat na albei uitgaan en hulle met liefde bedien. Hy gee aan die jongste die fees en hy gaan ook na die oudste en spreek hom aan as my kind. Maar die ouer broer weier om in te gaan om te deel in die vreugde van sy pa.


Vind jou vreugde in jou liefdevolle Vader

God het my deur Christus se werk as kind aangeneem. As kinders van Hom weet ons dat sy genade groter is as my sonde. Hy het my sy kind gemaak sodat ek in liefde met Hom kan leef en my hoogste vreugde kan vind, nie in al die dinge waarmee Hy my seën nie, maar in Hom self. Dat ek my vreugde vind in Hom as my liefdevolle Vader.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui