Die Kanaänitiese vrou se geloof

Hierdie nie-Joodse vrou, wat nooit op haar naam genoem word nie, stel haar geloof in Jesus en smeek Hom om hulp. Lees hier wat ons uit haar verhaal leer.

deur Alistair van Heerden

In die Evangelies lees ons van ’n besondere ontmoeting tussen die Here Jesus en ’n vrou wie se naam ons nooit leer ken nie. Tog is dit haar geloof wat uistaan, en ’n onuitwisbare merk op die evangeliese geskiedenis laat. Hierdie vrou, beskryf as ’n Kanaänitiese of Griekse vrou, kom na die Here Jesus toe met ’n dringende pleidooi. Haar dogtertjie is deur ’n onrein gees besete.


’n Moeder se pleidooi

Die situasie is hartverskeurend – ’n ma wat alles doen in haar vermoë om haar kind te red. En wat haar opval bo alles is dat sy nie ’n Jodin is nie. Sy is ’n heidense vrou wat uit die gebied van Tirus en Sidon kom. Sy is van ’n volk wat in die Ou Testament gereeld as vyande van Israel beskou is. Alles in die kultuur van daardie tyd sou gesê het: “Jy het nie reg tot toegang nie.” En tog dring sy aan.

Die Here Jesus se reaksie klink aanvanklik vreemd en selfs skokkend. In Matteus 15 antwoord Hy haar eers glad nie. En wanneer Hy uiteindelik met haar praat, sê Hy: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.” En nog meer: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.”

Hier raak ons die diepte van die toets. Die Here Jesus plaas hierdie vrou in die situasie waarin haar geloof nie net beproef word nie, maar openbaar word. Haar reaksie is nie verontwaardiging nie, maar nederigheid en vasberadenheid: “Ja, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”


’n Moeder se geloof

Wat ons hier sien is ’n geloof wat nie staan op regte of afkoms nie. Maar eerder alles op die genade van die Here werp. Sy soek nie erkenning of status nie. Sy vra net vir genade. En in daardie nederige geloofsantwoord openbaar sy iets wat baie in Israel self nog nie raakgesien het nie—dat die Messias gekom het nie net vir die kinders van Israel nie, maar vir die wêreld. Die Here Jesus antwoord haar dan met ’n uitsonderlike lof; “Vrou, groot is jou geloof!” En haar dogter word dadelik genees.

Dit is nie net ’n wonderverhaal nie, maar vertel ons iets van Christus se openbaringsgeskiedenis waar Christus se bediening tot buite die grense van Israel begin uitkring. Dit is ’n voorsmaak van die sendingtaak van die kerk, van God se bedoeling om sy verbondseën tot by die nasies te bring. En hierdie vrou, sonder naam, staan daar as ’n teken van wat dit beteken om waarlik in Christus te glo, om Hom te erken as Here, om te volhard in geloof, selfs wanneer dit lyk of Hy stilbly, en om alles op sy genade te gooi.


Verlossing vir alle volke

Wanneer Christus ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn, gee Hy hulle ’n duidelike en universele opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies …” (Matteus 28:19). Hierdie woorde is die middelpunt van die kerk se sendingsroeping. Dit vorm die hoogtepunt van God se verlossingsplan soos dit deur die Skrif ontvou het.

Wat eens by Abraham begin het – ’n belofte dat in sy nageslag al die volke van die aarde geseën sal word – word nou vervul in Christus, die ware Seun van Abraham. Deur Hom word die heilsboodskap nie beperk tot een volk nie, maar oopgestel vir alle nasies, tale en volke.

Christus se opdrag is nie net ’n bevel nie, maar ’n openbaring van God se hart vir die wêreld. Dit is, dat almal moet hoor, dat almal geroep word tot bekering en geloof, en dat sy koninkryk wêreldwyd is. In hierdie opdrag roep Hy sy kerk om met ywer en liefde die evangelie te verkondig. Nie net aan die wat naby is nie, maar tot aan die uithoeke van die aarde, in die krag van die Heilige Gees.


Vind die troos in dié verhaal

Vir ons vandag dra hierdie verhaal ’n diepe troos. Daar is tye wanneer ons bid, en dit voel asof die hemel stil bly. Wanneer ons pleit vir ons geliefdes, en dit voel of die Here ons nie hoor nie. Maar die Kanaänitiese vrou leer ons, moenie opgee nie.

Die Here Jesus hoor. Hy toets nie om af te wys nie, maar om ware geloof na vore te bring. En Hy sal nooit iemand wegwys wat op Hom vertrou nie! Al kom daardie persoon van ver, al voel hulle buite die kring van die kerk of die verbond.

Meer nog, hierdie vrou leer ons iets oor die aard van ware geloof . Dit is nie geloof wat op eie verdienste steun nie, maar geloof wat weet dit staan geheel en al op die genade van Christus. Sy het Hom “Here” genoem, en daarmee het sy Hom erken as meer as ’n geneesheer. Sy het Hom bely as die Een met mag en gesag oor haar lewe, oor siekte, en oor die bose self.

Ons mag vandag met dieselfde vrymoedigheid tot Christus nader. In Christus is daar geen onderskeid meer tussen Jood en nie-Jood nie. Almal wat in Hom glo, word deel van die een volk van God. En daarom, selfs as ons van ver kom, selfs as ons voel ons verdien net die krummels, is daar genade in oorvloed. Ja, selfs die krummels van Christus se tafel is genoeg om ’n lewe te red.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui