Alles gebeur volgens God se plan

Besef opnuut wat die kruis oor God se raadsplan wys. Lees hier wat dit beteken dat die kruis deel van God se plan is, lank vooruit verkondig.

deur ds Barend van der Westhuizen


Het dit al gebeur dat jy in ’n gesprek die woord “toevallig” gehoor of gebruik het? Dikwels is dit net ’n manier van praat om te sê dat iets toevallig gebeur het, maar dit kan ook iets weggee oor jou wêreldbeskouing.

Wat is ’n wêreldbeskouing? Dit is die bepaalde oortuigings oor die lewe en die wêreld wat elke mens het. Hierdie oortuigings of idees is hoe ons van die werklikheid sin maak.


Dink oor jou wêreldbeskouing

Die Bybel gee vir ons die raamwerk vir die regte wêreldbeskouing. Die Heilige Gees gebruik die Woord om die regte oortuigings in ons te vorm. Daarvolgens kan ons sin maak van dit wat in ons lewe, die geskiedenis of in die wêreld gebeur.

Die Bybel leer ons dat daar nie iets soos “toeval” is nie. Dinge in ons lewe, en in die geskiedenis of toekoms gebeur nie “toevallig” nie, maar volgens God se raadsplan.

In hierdie artikel sien ons hoe God bepaal dat alles volgens sy plan gebeur, dat Jesus Christus se koms volgens God se plan vooraf bepaal was. Ons sien ook hoe ons vertroos mag word deur die feit dat alles volgens God se plan gebeur.


God bepaal dat alles volgens sy plan gebeur

In Efesiërs 1:11 (2020-vertaling) lees ons wat Paulus van die Here sê:

[Hy is] die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur …

Paulus sê hier dat God nie bloot sommige dinge volgens sy raad en wil laat gebeur nie, maar alles. Alles in die hemel en op die aarde gebeur omdat God dit volgens sy raadsplan laat gebeur. Jesus Christus sê self in Matteus 10:29 (1983-vertaling)”

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie.

Selfs die voëls val onder die beskikkende en bepalende hand van die Here! Gaan lees gerus hoe God vir die gras van die veld en die voëls van die hemel sorg (Matteus 6:25-34).

God laat nie net die kleinste en fynste besonderhede van ons lewe volgens sy raadsplan ontvou nie, maar ook die wêreldgeskiedenis.

Daniël erken volgens Daniël 2:20-21:

Mag die Naam van God van ewigheid tot ewigheid geprys word, Hy aan wie die wysheid en mag behoort! Hy verander tye en tydperke; Hy sit konings af en stel konings aan. Hy gee wysheid aan wyses en kennis aan wie insig het.

Paulus leer volgens Handelinge 17:26-28:

Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons.


Jesus Christus se kruisdood is volgens God se plan vooraf bepaal

Volgens die Bybelse wêreldbeskouing dat alles volgens God se raad en wil gebeur weet ons dat Jesus se geboorte én sy dood vooraf bepaal was. Daar is ’n magdom Skrifgedeeltes in die Ou en Nuwe Testament wat dit bewys.

Vanuit die Ou-Testamentiese gedeeltes is daar ’n baie duidelik Messias-verwagting. In die Nuwe-Testamentiese gedeeltes lees ons hoe dié verwagting met die koms van Jesus Christus vervul is.

Jesus Christus self verduidelik na sy opstanding vir twee manne op pad na die dorpie Emmaus vanuit die Ou Testament waarom Hy aan die kruis moes sterf. Hierdie Emmausgangers was bedroef omdat hulle nie kon glo dat Jesus ter dood veroordeel moes word nie. Lees in Lukas 24:25-27 Jesus se reaksie:

Toe sê Hy vir hulle: “O, julle wat so sonder begrip is, met harte wat traag is om alles te glo wat die profete gesê het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê.

Jesus sê dus hier vanuit die Ou Testament dat die feit dat Hy moes kom, ly, sterf en uit die dood opstaan moes gebeur, want God het dit so bepaal. Dit wat God dan reeds in ewigheid bepaal het, het Hy ook in die Ou Testament laat neerpen.


Lees verder: Vervullings van die Ou Testament

Vanuit die Ou Testament is daar ’n groot verskeidenheid Skrifgedeeltes wat baie duidelik sê dat Jesus gaan kom, gaan sterf en gaan opstaan. Die Ou Testament in sy geheel verwag dat Christus sal kom. Daarom sal elke Ou-Testamentiese preek ’n baie duidelike Christusboodskap hê.

Hier is enkele Skrifgedeeltes wat jy kan oplees om te sien hoe duidelik dit na Jesus toe wys:

  • Genesis 3:15; 49:8-12
  • Deuteronomium 18:15
  • 2 Samuel 7:11-16
  • Psalm 2, 22, 45
  • Jesaja 9:1-6
  • Jesaja 11:1-16
  • Jesaja 52:13-53:12
  • Daniël 7:9-14
  • Miga 5:1-5
  • Sagaria 9:9

Word vertroos deur die feit dat alles volgens God se plan gebeur

Die Heidelbergse Kategismus verwoord mooi watter troos ons elkeen persoonlik ontvang, omdat alles nie bloot toevallig nie, maar volgens God se raad en wil (voorsienigheid) gebeur:

Vraag: Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig en in voorspoed dankbaar kan wees. Verder dat ons ook vir die toekoms ‘n vaste vertroue in ons getroue God en Vader kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie, aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie.

Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 28

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui