Draai jou hart na God

Deur Jozelle Smit

In die Ou Testament lees ons hoe die volk gereeld ongehoorsaam aan God is en van Hom af wegdraai. Die verhale in die Ou Testament getuig van die Here se liefde en getrouheid aan sy kinders, sy uitverkore volk. Dit begin as Hy hulle bevry as slawe in Egipte, hulle die beloofde land Kanaän inlei tot die vestiging van die Koninklike dinastie van Israel. Die hele geskiedenis wys op God se liefde.

Lees Jesaja 1-11 saam met hierdie artikel.

‘n Hart wat moet verander

In Jesaja lees ons dat die volk die Here se liefde verwerp. Hulle is onrein en daarom roep die Here die profeet Jesaja om hulle te heilig. Jesaja roep die volk om weg te draai van hul sondes en terug te draai na die Here toe. In Jesaja 2:5 sê hy:

Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom.

In Jesaja 1 tot 5 pleit die profeet by die volk om hul harte terug te draai na die Here toe. Hy smeek dat hulle die Here moet vind en Hom weer met opregte liefde moet liefhê. Maar die volk wil nie luister nie en hulle verwerp God se liefde. Hoofstuk 5 eindig met ‘n waarskuwing indien die volk sou aanhou om die Here se liefde te verwerp en ongehoorsaam te bly (Jesaja 5:30b):

As ‘n mens na die land kyk, sal daar benouende duisternis wees, die lig sal verdwyn voor die donker wolke.

In ‘n preek van meer as 1500 jaar terug oor hierdie gedeelte sê Augustinus dat die reaksie wat God van ons verlang, ‘n hart is wat met liefde gevul is.

‘n Koue hart

Het dit al met jou gebeur dat jy so ver weggedwaal het van die Here af dat jou hart koud teenoor die Here voel? Wat as jou hart, soos die van die volk, nie meer liefde wil voel nie?

Dit is presies hierdie gevoel waarvan Augustinus en Jesaja (hoofstuk 1-5) praat – die gevoel dat jou hart koud is. Soos die volk van die Ou Testament kan mens voel asof jou hele kapasiteit om die Here lief te hê dood voel, omdat die sonde jou so ver van God af weggeneem het. Indien ons ook nie wil reageer op God se roepstem nie en sy beloftes en waarskuwings minag, watter uitkoms is daar?
Die antwoord wat die Here aan Jesaja gegee het vir die volk se omstandighede is ook die antwoord vir ons.

‘n Hart van liefde

Net ‘n radikale daad van God se genade kan vir ons uitkoms gee. As jy Jesaja hoofstukke 6 tot 11 lees sal jy God se dade van verlossing sien. Dit begin eers by Jesaja self, waar die Here hom, as sondaar, reinig sodat hy by die volk kan gaan pleit om terug te keer na God toe. Jesaja sê self dat hy so onrein is dat hy dit glad nie eers werd is om God te sien nie.

Wanneer die Here se genade jou natuurlike weerstand teen God wegsmelt, sal jy volkome bewus wees van hierdie ervaring in jou hart.

GOD BLY GETROU
Die volk het God se liefde keer op keer verwerp, maar tog bly die Here getrou aan sy liefde vir sy volk. Hulle word gestraf vir hulle verharding teenoor die Here met die ballingskap waarin hulle weggevoer word. Nadat die tydperk van ballingskap verby is word die stad, Jerusalem, stadig maar seker herstel. Die Here vermaan en straf, maar Hy bly ook getrou aan sy kinders en sy liefde vir hulle ken geen einde nie. Op die ou end kom Christus om ons sonde te versoen. Die Here red dan sy volk self ter wille van sy eer en heerlikheid.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui