Die liefde wat ons moet uitleef
Verwerk uit ‘n artikel van Wilhan Jobse.
Die grootste en bekendste hoofstuk oor die liefde is seker 1 Korintiërs 13. Elkeen van die aspekte wat daarin genoem word wys op die rykdom van God se liefde.
Ons moenie die liefde van die Here met die soetsappige oppervlakkige liefde in flieks vewar nie. Wanneer gelowiges van die liefde praat, bedoel ons die agapé-liefde, die besondere unieke liefde wat God vir ons het.
Beantwoord hierdie 15 vrae en kyk hoe antwoord jy op God se liefde na aanleiding van 1 Korintiërs 13:
1. Wil jy wraak neem as iemand ‘n fout teen jou begaan het?
In die destydse Grieks-Romeinse wêreld is jy as ‘n swakkeling beskou, indien jy jou nie kon wreek op die fout wat iemand anders teen jou begaan het nie. God se liefde leer dat ons lankmoedig moet wees en nie moet wraak neem teen andere nie.
= Die liefde is en bly geduldig.
2. Probeer jy om altyd vriendelik te wees ten spyte van hoe jy voel?
Waar geduld bereid is om te wag, gebruik vriendelikheid die wagtyd om goed te doen. Vriendelikheid is gefokus op die voorspoed van ander.
= Die liefde is vriendelik en gee om.
3. Is jy bly vir ander gelowiges wat meer suksesvol of talentvol is?
Jaloesie het twee kante. Aan die een kant wil dit hê wat iemand anders het en aan die ander kant wil dit die slegte vir iemand anders hê.
= Die liefde is nie afgunstig of jaloers nie.
4. Is jy spoggerig of nederig?
Grootpratery wil altyd die selfsugtige eie-ek opbou. Die Korintiërs het graag oor die gawe van glossolalie (om in ongewone tale of klanke te praat) gespog, maar dit was dikwels nagemaak en vals.
= Die liefde spog nie en is nie grootpraterig nie.
5. Dink jy soms jy is ‘n beter gelowige?
Die Korintiërs het arrogant geraak oor hul geloof en geglo dat hulle volmaaktheid in hul geloofslewe bereik het.
= Die liefde is nie hoogmoedig of verwaand nie.
6. Let jy die heeltyd op jou woorde en dade?
Die Korintiërs was bekend vir hul ongeskikte en onsensitiewe optrede (1 Korintiërs 11:21). Die liefde is egter gevoelig en sensitief teenoor ander.
= Die liefde tree nie onbehoorlik op nie, handel nie onwelvoeglik nie.
7. Sal jy jou lewe vir ander aflê?
Jesus Christus het die weg van selfopoffering aan ons bewys (Filippense 2:5-8).
= Die liefde soek en jaag nie sy eie belang nie.
8. Ontplof jy soms en sê goed wat kon gebly het?
Dit kan wees dat jy maklik geïrriteerd raak. Woede en irritasie is soos ‘n tydbom binne jou. As die bom ontplof sê en doen ons goed waaroor ons later spyt is.
= Die liefde is nie liggeraak of verbitterd nie.
9. Dink jy dikwels aan hoe sleg iemand jou behandel het?
Van ons finansies moet ons boekhou om seker te maak ons begroting klop. Die kwaad wat iemand anders ons aandoen moet ons vergewe en vergeet.
= Die liefde hou nie boek van die kwaad nie.
10. Wat maak jy as jy sien dat jou vriende vasgeval het in sonde (Galasiërs 6:1)?
Die liefde vind geen vreugde in die sonde nie, maar konfronteer dit.
= Die liefde verbly hom nie oor onreg nie.
11. Ignoreer jy soms valsheid en verkeerde praktyke of konfronteer jy dit met die waarheid van God se Woord (Efesiërs 4:15)?
Liefde en waarheid loop hand aan hand. Die liefde kan nie ’n kompromie aangaan ten koste van die waarheid nie.
= Die liefde is bly oor die waarheid.
12. Onthou jy graag ander mense se sondes en oortredings?
“Haat verwek twis; liefde bedek alles wat aanstoot gee” (Spreuke 10:12). Die liefde vind geen vreugde daarin om oor die foute en oortredinge van ander te skinder nie.
= Die liefde bedek alles.
13. Vertrou jy volkome op God se beloftes?
Haat glo vir die slegste uitkoms, terwyl die liefde vir die beste uitkoms en herstel glo en vertrou.
= Die liefde glo alles en is nie agterdogtig nie
14. Wanneer dit sleg gaan met jou glo jy dat alles ten goede sal afloop (Romeine 8:28)?
Selfs wanneer die liefde keer op keer teleurgestel word, hoop dit steeds vir die allerbeste.
= Die liefde hoop alles.
15. Kan jy teleurstellings en lyding geduldig verdra?
Verdra het daarmee te doen dat soldate ’n belangrike posisie of baken ten alle koste behou. Die liefde volhard en hou ten alle koste vas, maak nie saak hoeveel slegte tye jy deurgaan nie.
= Die liefde verdra alles.
Leef hierdie aspekte van die liefde elke dag uit!
Jesus Christus het hierdie liefde in volmaaktheid uitgeleef, omdat Hy liefde is. Die liefde het Hom sy lewe aan die kruis gekos, sodat ons ware liefde mag ken. Hy het ons die Heilige Gees gegee, sodat ons die vrug van sy liefde kan uitleef.