Van onvrugbaarheid tot geloofsvreugde

Sara het jare gewag om uiteindelik Isak in die wêreld te bring. Lees hier hoe sy lag van ongeloof en dan van vreugde, en ons leer hoe alles vir God moontlik is!

deur Alistair van Heerden


Daar is oomblikke in elke gelowige se lewe waar hoop begin vervaag. Ons kyk om ons, ons kyk in ons eie lewens, en ons vra: “Is daar nog ’n pad vorentoe? Is dit te laat? Het God my vergeet?”

In sulke tye is dit goed om terug te kyk na iemand soos Sara. Haar lewe wys vir ons dat God nie volgens ons tyd werk nie. Sy beloftes is nie vasgevang in die grense van tyd of menslike moontlikheid nie.

Sara, onvrugbaar en bejaard, het die pyn van jare se wag geken. Maar dan, op die tyd wat God bepaal het, skenk Hy aan haar ’n kind. Nie omdat Sara se geloof so sterk was nie, maar omdat God aan sy eie Woord getrou is.

Sara se verhaal troos ons met die wete dat God selfs ons twyfel en swakheid as deel van sy groter plan gebruik. Dit is in die donkerste tye waar sy lig die helderste skyn.

Sara se eerste reaksie is om te lag

Sara, die vrou van Abraham, staan as een van die mees merkwaardige figure van geloof én stryd in die Bybel. Haar lewe is ’n verhaal van wag, van verlange, van teleurstelling, en uiteindelik van vervulling—maar nie in menslike terme nie, net in die lig van God se genade. Sy was ver verby die gewone ouderdom van moederskap, en boonop was sy van jongs af onvrugbaar. Alles in haar lewe het geskree: “Onmoontlik!”

Wanneer ons by Genesis 18 kom, hoor Sara die Here se belofte aan Abraham dat sy oor ’n jaar ’n seun sou hê. Haar reaksie is tekenend, sy lag.

Maar dit is nie ’n lag van vreugde of geloof nie. Dit is ’n lag vol ongeloof, selfs sarkasme. Hoe kan iemand soos sy – oud, moeg, onvrugbaar – ’n kind hê? Haar lag openbaar haar twyfel, haar realisme, en tog ook haar pyn. Hierdie lag is ’n uiting van iemand wat so lank gewag het dat hoop byna vergete is.

Maar die Here spreek haar aan:

Waarom lag Sara? Is iets vir die Here te wonderbaar?

Genesis 18:13-14

Hierdie vraag staan sentraal in Sara se verhaal. Die Here daag nie net haar ongeloof uit nie, Hy wys ons iets van sý karakter. Hy is die God van die onmoontlike, die God wat lewe bring waar dood is, wat belofte bring waar daar net verlies was.


Sara hou aan om te glo, en te lag

In Genesis 21 lees ons van die vervulling van hierdie belofte. Sara gee geboorte aan Isak – ’n naam wat beteken “hy lag”. En nou is daar weer lag in Sara se mond, maar hierdie keer is dit ’n ander soort lag. Sy sê: “’n Gelag het God my berei: elkeen wat dit hoor, sal oor my lag” (Genesis 21:6).

Hierdie lag is nie meer sarkasme nie, maar vreugde. Dit is ’n lag vol verwondering, vol dankbaarheid, vol geloof. God het gedoen wat geen mens kon nie. Hy het lewe geskep in ’n vrou wat menslik gesproke nie meer ’n kans gestaan het om kinders te kry.


Sara herinner ons aan God se verbond

Sara se verhaal is nie net ’n persoonlike getuienis nie. Deur haar en Abraham het God sy belofte aan die mensdom begin uitwerk. God se belofte van ’n nageslag, van ’n volk, van ’n Messias.

Hierdie verbondslyn wat by Sara begin, loop regdeur die Skrif en ontvou in die openbaringsgeskiedenis tot by die koms van die Here Jesus Christus—die volmaakte Seun van die belofte. In Hom vind die diepste betekenis van God se beloftes gestalte.

Haar swangerskap is nie net ’n wonderwerk nie, dit is ’n bevestiging dat God sy verbond nooit laat vaar nie. Hy hou sy woord, selfs wanneer dit vir die mens onlogies of selfs belaglik klink.


Sara se vreugde word ons almal se vreugde

Waar Isak die kind van verbondsvreugde was, is Christus die vervulling van alle beloftes—nie net aan Abraham nie, maar aan die hele wêreld. Hy is die beloofde nageslag deur wie alle nasies geseën sou word (Galasiërs 3:16).

En dit is juis in Hom, deur sy lyding, dood en opstanding, dat God die groot keerpunt bring – trane word afgevee, en hartseer word verander in blydskap. Hy leer ons self in Lukas 6:21:

Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag.

Hierdie lag is die diepe, ewige vreugde van verlossing. Dit is ’n vreugde wat in die hart begin. Deur geloof in Jesus Christus mag ons, net soos Sara, ook lag. Ons lag uit verwondering – want die Here het groot dinge aan ons gedoen. Hierdie vreugde dra ons, selfs in lyding, want dit is geanker in die sekerheid van God se trou en die volheid van sy genade in Christus.

Ons almal het oomblikke waar ons soos Sara voel. Miskien het jy lank gebid, gewag, gehoop, en jy voel moeg, dalk selfs sinies. Maar die evangelie sê vir jou: “Is iets vir die Here te wonderbaar?” Hy is getrou. Hy werk nie volgens menslike moontlikhede nie, maar volgens sy ewige raadsplan. En soos Sara, sal jy op die regte tyd sê: “God het my laat lag.”


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui