Wat sê die Bybel oor grondeienaarskap?

In die lig van grondonteiening is dit belangrik om te onthou aan Wie die aarde behoort. Lees hier wat dit beteken dat die aarde en die volheid daarvan aan God behoort.
deur ds Werner Brotherton
Ons hele lewe gaan oor aanbidding. Hetsy dit in die erediens is of in ons alledaagse lewe. Elke dag moet ons daar waar ons is die Here aanbid. In ons werk, in ons gesinslewe, oral aanbid ons die Here. Wat doen ons wanneer ons aanbiddingsgrond aangetas word?
Die saak oor grondonteiening is vars in almal se gedagtes.
Dit los baie mense met onsekerheid oor die toekoms van die land. Mense wil nie meer eiendom koop nie. Die buiteland dreig om nie meer in Suid-Afrika te belê nie. Die vraag is, wat sê die Bybel oor grond?
Aan wie behoort die grond?
Die eerste plek waar ons moet begin is deur te vra aan wie grond behoort. Daaroor is ons Psalm baie duidelik.
Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hý het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.
Psalm 24:1-2
Dadelik sien ons alle grond op aarde behoort aan die Here. Selfs die mense wat op die aarde bly behoort aan die Here. Waarom sal alles aan die Here behoort? Die antwoord is in Psalm 24:2 – want Hy het alles geskep.
Ons moet die grond vir die Eienaar bestuur
En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Genesis 1:28
Nadat die Here alles geskep het sê Hy in Genesis 1:28 dat die mens oor die aarde moet heers. Die mens moet nou leiding neem oor God se skepping as sy verteenwoordiger.
Dít is wat dit beteken om in God se beeld geskep te wees. Ons verteenwoordig Hom hier op aarde. Tot ’n mate kan ons sê die Here gee sy grond aan ons, maar as rentmeesters. Ons moet sy skepping oppas en dit bestuur. Hy bly die eienaar.
Maar wat sê die Bybel egter oor privaat eiendom?
Ons het nou gesien dat alles aan die Here behoort. Tog weet ons onder mense is daar iets soos “myne en joune”. Mag ons privaat eiendom hê of moet alles maar aan almal behoort?
In die Ou Testament lees ons die volgende:
- Genesis 23:3-18: Abraham het deur baie moeite gegaan om ’n stuk grond te koop vir ’n begraafplaas wat heeltemal aan hom behoort het.
- Josua 13-21: Elke stam van Israel het sy eie land gekry.
- Mense soos Job, Dawid en Salomo was ryklik deur die Here met voorspoed geseën.
In die Nuwe Testament was daar ook iets soos privaat eiendom:
- Ananias het ’n stuk grond gehad wat hy verkoop het (Handelinge 4:4).
- Maria, die ma van Johannes, Lidia die purper-verkoopster, en Filippus die evangelis het almal hulle eie eiendom gehad (Handelinge 12:12; 16:14-15; 21:8).
Ag, ons kan dit maar opnoem. Wat duidelik is, is dat dit nie onbybels is om iets te besit nie. Dit is ’n heel Bybelse gedagte. Maar wat sien ons gebeur in die wêreld? Wat sien ons in ons eie land?
Daar is om en by vier tipe mense in die wêreld:
- Daar is die skelm: Wat joune is, is myne en ek sal dit vat
- Die gulsige: Wat myne is, is myne en ek sal dit hou
- Die humanis: Wat myne is, is joune en ek sal dit deel
- En die Christen: Wat myne is, is God s’n, so ek sal dit deel
Onthou, alles behoort aan die Here
Dit is baie belangrik dat die gelowige moet besef niks behoort aan ons nie, maar alles aan die Here. Jou kar, jou geld, jou huis, jou klere. Niks is joune nie. Eendag sal elkeen moet rekenskap gee wat hy met sy besittings gedoen het.
Dink aan die gelykenis van die talente. Wat het jy gedoen met alles wat die Here aan jou gee? Was jy selfsugtig en wou net alles vir jouself hê, of het jy jou besittings gebruik tot opbouing van God se Koninkryk?
Omdat niks aan ons behoort nie, en alles aan die Here, moet iets soos grondeise sonder vergoeding ons grief, want ander wil aan hulself toeëien wat nie aan hulle behoort nie. Dit is net ’n ander term vir steel.
Dit is presies die sonde wat in die tuin van Eden plaasgevind het. Dis die sonde wat eerste in die hemel plaasgevind het. Eers wou die Satan die heerskappy van God hê, en daarna het hy die mens aangehits om dieselfde te doen.
Wat leer ons uit die Bybel oor die verkry van eiendom?
Ons leer dat ons in die sweet van ons aangesig ons brood sal eet. Met moeite sal ons werk. Ons kan nie sommer net iets kry nie.
In die Bybel sien ons dikwels dat ’n stuk grond deur middel van ’n erfporsie ontvang kon word. Dit beteken wel nie dat gelowiges rustig teruggesit het en niks gedoen het nie. Nee, hulle moes ook werk vir die voortbestaan van die stuk grond.
So moet ons ook werk vir die grond wat ons wil hê. Die troos wat ons as gelowiges het wanneer ons kyk hoe huidige wetgewings gemaak word, is dat die dag van Christus nader kom.
Op daardie dag sal elke regering moet rekenskap gee oor elke liewe wetgewing, oor elke liewe stukkie boosheid wat onder hulle plaasgevind het. En dan? Dan sal die regverdiges die aarde beërwe. Ja, op hierdie aarde sal ons die Here aanbid sonder enige kwaad, sonder enige boosheid. Daarom moet ons saam met die kerk van ouds bid: Kom Here Jesus, ja kom!
