Die nuusbrief van jou plaaslike kerk

Ons sien hoe belangrik briewe in die Bybelse tyd was. Hoeveel aandag gee jy aan jóú kerk se nuusbrief? Lees hier hoekom ’n kerk ’n nuusbrief moet hê.


deur ds Philip Wepener

Meeste kerke versprei ’n weeklikse nuusbrief aan lidmate, hetsy in drukvorm of elektronies. ’n Nuusbrief is daar om lidmate in kennis te stel van wat in die plaaslike kerk gebeur. Dit sluit in inligting soos wie by die erediens(te) preek, meelewing, verjaarsdae, dankoffers, kerk-aksies, kontakbesonderhede en nog baie meer.

Met die sosiale, ekonomiese en kulturele omstandighede wat baie verander het, laat dit ’n mens oor die volgende wonder: Lees lidmate nog werklik vandag die nuusbrief van hul plaaslike kerk? Is ’n nuusbrief nodig?


Hoe word nuusbriewe versprei?

Sommige kerke gaan voort om hul nuusbriewe in tradisionele koerantstyl te druk en uit te gee. Aan die ander kant besit baie lidmate vandag slimfone en verskeie kerke het WhatsApp-groepe, webwerwe of toepassings (“apps”), waar nuusbriewe elektronies beskikbaar gestel of uitgestuur word – hoewel nie almal noodwendig toegang tot hierdie tegnologie het nie, of soms nie weet hoe hierdie platforms werk nie. Uiteindelik val die fokus nie op die formaat van die nuusbrief of hoe dit versprei word nie, maar eerder op die inligting wat dit gee.


Wat is die doel van ’n nuusbrief?

Die hoofsaaklike doel waarom daar ’n nuusbrief is en versprei word is om as kerk op hoogte te bly. Soos burgers op hoogte moet bly aangaande belangrike gebeure in hulle land, so moet lidmate op hoogte bly aangaande belangrike gebeure in hul plaaslike kerk. Soos burgers die nuus moet luister en volg, so moet lidmate die nuusbrief lees en volg.


Is ’n nuusbrief nodig?

’n Nuusbrief is nie ’n moet nie, maar dit is gepas in die kerk van die Here. ’n Nuusbrief is – soos dit nog altyd was – ’n kommunikasiewyse met mekaar en met ander. Om oningelig van jou plaaslike kerk te bly kan hartseer gevolge inhou. ’n Nuusbrief is dus baie nuttig en voordelig om jou as lidmaat bewus te maak en betrokke te hou by die kerk.


Watter inligting verskyn gewoonlik in ’n nuusbrief – en hoekom?

Dit verskil maar van kerk tot kerk. Boonop, geen kerk se nuusbrief is dieselfde nie. Elkeen is uniek! As ’n mens na sommige kerke se nuusbriewe gaan kyk en jy vergelyk dit met mekaar, sien jy pragtige ooreenkomste. Die inligting wat gewoonlik in nuusbriewe verskyn is die volgende (let wel: hierdie is nie gewone inligting nie, maar baie waardevolle inligting!):

1. Woordbediening of liturgie

In meeste gevalle verskyn die Woordbediening of liturgie heel eerste in ’n kerk se nuusbrief (gewoonlik sommer op die voorblad). Dit stel die lidmaat of leser in kennis van die teksgedeeltes, teksverse en temas, en sang, asook die prediker, hetsy dit ’n predikant, ouderling, proponent of kandidaatstudent is. Meeste kerke stuur ook voor Sondag se erediens(te) die nuusbrief uit, sodat lidmate kan voorberei en voorbidding vir die prediker doen.

2. Meelewing of lief en leed

Sommige kerke praat ook van ’n voorbiddingslys. Onder meelewing of leed maak die plaaslike kerk almal bewus van en vra voorbidding vir lidmate wat siek is, wat swaarkry of wat ernstige nood en pyn ervaar, ensovoorts. Dit is wel nie al nie. Onder lief maak die kerk aan almal bekend van wonderlike uitkomste of gebeure, gesondheid, gelukwensing, vreugde en dankbaarheid.

Daar is egter sommige kerke en kerkgangers wat gekant is daarteen dat mense, veral dié wat siek is of wat swaarkry, se name in ’n nuusbrief moet verskyn. Die Bybel stel uitdruklik die teendeel. Smekinge, voorbidding en dankgebede moet vir alle mense gedoen word (1 Timoteus 2:1; vgl. Jakobus 5:13-16). Daarom is dit goed en reg dat lief en leed in ’n plaaslike kerk se nuusbrief verskyn. Ons hou ’n oog op mekaar. Ons gee vir mekaar om (Romeine 12:9-17).

3. Verjaarsdae

Dit is altyd heerlik om ons verjaarsdae en ander lidmate s’n te vier! Daar is ook nou weer ander groepe wat dit glad nie doen nie omdat dit kamstig die Here mishaag (vgl. Genesis 40:20; Matteus 14:6). Die Bybel verbied of verplig nêrens verjaarsdagvieringe nie. Ons doen dit en deel dit om aan die Here eer te bring en dankbaarheid te betoon (Psalm 139:14).

4. Dankoffers of liefdegawes

Dankoffers of liefdegawes is noodsaaklik vir die onderhouding van die eredienste en die kerkverband, asook vir ons naaste wat behoeftig is, ensovoorts. Dit is goed en gepas dat kerke vooraf vir lidmate aandui waarvoor Sondag se kollektes gaan, sodat hulle gereed sal wees om hul offers aan die Here te gee – nie uit hoogmoed of uit aansien nie, maar uit bereidwilligheid en blydskap; nie uit skuldgevoel of uit dwang nie, maar met opregtheid van hart (1 Kronieke 29:9, 17).


’n Nuusbrief is wonderlik!

Daar is natuurlik nog baie meer inligting wat in kerke se nuusbriewe verskyn, onder andere katkisasie, die kalender, kerk-aksies en -programme, kampe, kerverband-nuus, kontakbesonderhede en dies meer.

Om ’n nuusbrief te hê is ’n wonderlike manier vir ’n plaaslike kerk om kontak te hou met mekaar. Daarom is dit belangrik dat kerke moeite sal doen om hul nuusbriewe toeganklik, netjies en vars vir almal te laat voel. ’n Nuusbrief ontwikkel en versterk ons gevoel van verbintenis. Dit dien ook as ’n uitnodiging en ’n uitreik na lidmate en nie-lidmate wat hardnekkig weier om nie in die eredienste of by die kerk-aktiwiteite te wil deelneem nie.

Mag kerke se nuusbriewe – of dit nou op papier, of elektronies is –mense se lewens verander en as een bymekaar bring.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui