Godvresende ma’s kweek opregte geloof

Paulus vertel van die groot impak wat Timoteus se ouma Loïs en sy moeder Eunice op hom gehad het. Lees hier meer oor die impak van godvresende vroue.
deur ds Ruan Steyn
Daar is verskeie Skrifgedeeltes wat die belangrikheid van moeders beklemtoon en ons sien iets daarvan in Spreuke 31:26-28:
As sy praat, is dit met wysheid; as sy leiding gee, is dit met liefde. Sy hou goeie toesig oor haar huishouding; lui is sy nie. Haar kinders prys haar; haar man bewonder haar.
In die Skrif lees ons van verskeie godvresende moeders/moederfigure: Sara, Rebekka, Debora, Hanna, Naomi, Rut, Elisabet, Maria, ensovoorts. Moeders wat myns insiens Spreuke 31 die beste voorstel, is Loïs en Eunice, Timoteus se ouma en moeder.
Die vroue in Timoteus se lewe, Loïs en Eunice
Paulus skryf aan Timoteus:
Ek dink ook aan jou opregte geloof, dieselfde geloof wat al in jou ouma Loïs en in jou ma Eunice was, en wat, daarvan is ek oortuig, ook in jou is.
2 Timoteus 1:5
Dit is ’n pragtige getuigskrif wat Paulus oor Timoteus skryf. En dit is wel te danke aan Loïs en Eunice dat Paulus hierdie woorde aan Timoteus kan skryf.
Alhoewel die Skrif nie baie inligting oor Loïs en Eunice gee nie, wys Paulus se woorde vir ons watter impak godvresende moeders op hul kinders se geloofslewe het.
Ons lees wel in Handelinge 16:1 dat Timoteus se moeder ’n gelowige Joodse vrou was en sy vader ’n Griek was. Die afleiding wat kommentators maak is dat Timoteus se vader ’n ongelowige was. Loïs en Eunice het moontlik tot geloof gekom tydens Paulus en Barnabas se eerste sendingsreis toe hulle deur Derbe en Listra gereis het. Die twee vroue het dit op hulleself geneem om hulle seun en kleinseun, Timoteus, volgens die wil van die Here groot te maak.
Loïs en Eunice se opregte geloof
Dit is merkwaardig dat Paulus skryf dat hierdie twee vroue ’n opregte geloof gehad het (2 Timoteus 1:5). Die teenoorgestelde van ’n opregte geloof is ’n skynheilige geloof. Loïs en Eunice het egte geloof gehad en dit was duidelik sigbaar in die goeie vrugte wat hulle geloofslewe voortgebring het. Hulle opregte geloof het ’n groot impak op Timoteus gehad.
Loïs en Eunice leer vir Timoteus
1. Loïs en Eunice het geweet hoe belangrik dit is om vir Timoteus alles te leer wat hulle ook geleer het.
Dit is genade dat die Here vir Paulus en Barnabas gestuur het om sy Woord aan heidene te verkondig. Dit is net genade dat hulle die Goeie Nuus, die nuus oor Jesus se kruisiging en opstanding, kon hoor. Deur hierdie genade het die Heilige Gees deur die verkondiging van die Woord opregte geloof in hulle harte bewerk. Deur die genade van die Here het Timoteus van ’n jong ouderdom af die Woord van God gehoor.
Paulus bevestig dit in 2 Timoteus 3:14-15:
Maar jy, bly wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus.
2. ’n Opregte geloof beteken dat gelowiges volgens die Woord van God leef.
Paulus skryf in die eerste brief aan Timoteus: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liede, geloof en reinheid” (1 Timoteus 4:12). Timoteus kan vir ander gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag wees, want sy moeder en ouma was vir hóm ’n voorbeeld. Die afleiding wat ons kan maak, is dat Loïs en Eunice nie net vir Timoteus deur hulle woorde geleer het hoe om godvresend te wees nie, maar ook deur hulle dade.
Dit wys net weer vir ons hoe belangrik dit is om as mentors vir ons kinders op te tree sodat hulle ’n stewige fondasie het, soos Spreuke 22:6 dit verwoord:
Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.
Dank die Here vir godvresende moeders
Daar is vandag baie moeders en oumas wat soos Loïs en Eunice is. Dalk lees jy vandag hierdie artikel en dink: “My moeder en ouma is ook so”. God gebruik godvresende moeders om opregte geloof in hulle kinders te kweek. Dank die Here vandag vir die moeder/moederfiguur wat Hy vir jou gegee het om jou te vorm.
