Vind jou krag in die Here!

Hanna bid en profeteer dat God krag sal gee aan sy koning en sy gesalfde. Lees hier hoe haar gebed betekenis vind.

deur ds Philip Wepener

In die Bybel lees ons nie net dat gelowiges deur die eeue gebid het nie, ons kan ook van hierdie gebede lees. Daar is gebede van gelowige mans én vrouens wat in die Bybel opgeteken is. So lees ons in 1 Samuel 2:1-10 die gebed van Hanna.

Hanna bid onder andere:

Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here.

1 Samuel 2:1

Hanna het krag van die Here ontvang. En, sy profeteer in vers 10 dat Hy krag aan sy koning, aan sy gesalfde, sal gee. Hanna se boodskap is: Die Here gee krag! Om hierdie boodskap te verstaan is dit belangrik vir ons om te weet hoekom Hanna gebid het.

Die lewe van Hanna

Hanna was met Elkana, ’n priester, getroud. Elkana het egter nog ’n vrou gehad. Haar naam was Peninna. Ons kan aanvaar dat Elkana eerste met Hanna getrou het. Hanna kon egter nie swanger word nie, en daarom het Elkana met Peninna getrou. Peninna het seuns en dogters vir Elkana gebaar.

Volgens die Joodse wet mag ’n man met ’n tweede vrou getrou het as sy vrou ná tien jaar van getroude lewe nie kinders kon baar nie, en dus as onvrugbaar beskou was. Ons ken dit as poligamie. Poligamie is ’n huwelik waar ’n man met twee of meer vroue getroud, is of andersom.

Die praktyk van poligamie in die Bybel

Hoewel die Joodse wet poligamie toegelaat het, lees ons nêrens in die Bybel dat die Here dit toelaat nie. Trouens, ons lees nêrens in die Bybel dat die Here Elkana toegelaat het nie.

Die samelewing kan verander, maar die Woord van God verander nie. Dit is die Woord van God wat vir ons sê wat sonde is en wat nie. God se standaard vir die huwelik is een man en een vrou (Genesis 2:18-24; 1 Korintiërs 7:2-3). Jesus bevestig dieselfde standaard vir die huwelik: een man en een vrou (Matteus 19:3-6). Een man en een vrou moet lewenslank getroud wees en gelukkig met mekaar lewe, of hulle nou kinders kan hê of nie.

Dié tyd in Israel se geskiedenis

Hanna het aan die einde van die Rigters-tydperk geleef – ’n tyd waar die Israeliete en die priesters geestelik onvrugbaar was. Buiten Elkana se twee vroue, lees ons net ná Hanna se gebed van twee priesters, Hofni en Pinehas, wat gemeenskap met vroue gehad het by die ingang van die tabernakel (1 Samuel 1:3; 2:22). Skokkend, is dit nie?

Die laaste vers in die boek Rigters som dié swak gedrag in hierdie tyd op: “in daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë” (Rigters 21:25).

Maar ten spyte van die sonde, ten spyte van die poligamie, is die Here nogtans betrokke en besig met hierdie huishouding, veral met Hanna.

Peninna spot vir Hanna

Hanna was onvrugbaar. Sy was in dieselfde situasie as haar aartsmoeders Sara, Rebekka en Ragel. Jaar ná jaar het sy saam met Elkana en Peninna na die tabernakel opgegaan. Telkens het Peninna vir Hanna gespot. Nie omdat Peninna baie kinders gehad het nie, maar omdat Elkana liewer was vir Hanna, ook al was Hanna onvrugbaar. Hier sien ons self dat poligamie werk nie! So huwelik is vol konflik, twis, jaloesie en hartseer.

Onvrugbaar, maar hoopvol in gebed

Die gespottery het aangehou totdat Hanna die een jaar by die tabernakel haar hart voor die Here uitgestort het. Sy het voor die Here oor haar onvrugbaarheid getreur.

Sy het egter ook hoopvol vir ’n seun gebid. In haar gebed het sy ook ’n gelofte gemaak. Haar gelofte was dat as die Here haar ’n seun gee, sy hom aan die Here sal afstaan. Hierdie kind sal lewenslank in die Here se diens wees.

In sy genade en guns het die Here Hanna se gebed verhoor. ’n Jaar later was Samuel gebore. Die Here het ’n plan met Hanna gehad en haar in sy diens gebruik. Meer nog, die Here laat Hanna juig. Dit bring ons by Hanna se gebed in 1 Samuel 2:1-10.

Wat die hart van vol is, loop die mond van oor

Nadat sy Samuel gespeen het, het sy met hom opgegaan na die tabernakel. By die tabernakel, gereed om Samuel aan die Here te gee, bid sy hierdie gebed. Hanna het gebid en gesê: “My hart juig in die HERE, ek is sterk in die Here” (1 Samuel 1:1). Letterlik staan daar: “my horing is hoog in die HERE”.

In die Bybel word die horing dikwels as ’n simbool van krag gebruik. Die krag van ’n bees of van ’n buffel word in sy horings uitgedruk. Hanna is sterk in die Here. Die Here het vir haar krag gee om aan ’n seun geboorte te gee.

Hanna bid verder in vers 1: “Ek maak my mond wyd oop teenoor my vyande, want ek verheug my in u verlossing”. Peninna, wat haar jare oor haar onvrugbaarheid verneder het, kan een van die vyande wees waarvan Hanna hier praat. Hoofsaaklik was die onvrugbaarheid self die vyand. Hanna se onvrugbaarheid was vir haar ’n groot verleentheid. Nou verheug sy in Here se verlossing!

Met hart en mond, by die tabernakel, verheug Hanna haar in Here. Met hart en mond – dit laat ons dink aan ons Here Jesus se woorde: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor” (Matteus 12:34). Hoewel Hanna in die Here verheug, weet sy dit nog nie, maar die Here sal haar seën met nóg vyf kinders ná Samuel (1 Samuel 2:18-21). Drie seuns en twee dogters. Altesaam ses kinders. Hoe wonderlik is die Here!

Hanna het belowe dat sy haar kind vir die Here sal gee as Hy haar met een seën. Die Here het, en daarom kom sy haar gelofte na deur vir Samuel lewenslank in diens van die Here te stel.


Die Here gee krag aan sy Gesalfde – ook aan jou!

Hanna dank die Here dat Hy haar die krag gegee het om vir Samuel in die wêreld te bring. Aan die einde van haar gebed profeteer sy:

Hy gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde.

Hierdie woorde is om verskeie redes merkwaardig:

  • Israel het vanaf die intog in die beloofde land Kanaän tot op hierdie stadium nie ’n koning gehad het nie. Voordat daar konings was het die Here rigters gebruik om Israel te regeer (Rigters 2:18-19). Maar soos die volk al hoe meer van die Here wegbeweeg het, so ook het die rigters. Daar was dus geen leierskap of orde in Israel se samelewing nie. So dit is duidelik dat Hanna uitgesien het daarna dat die Here ’n koning sal voorsien.
  • Interessant genoeg, die Here het reeds in Genesis en deur Moses geopenbaar dat Hy in die toekoms ’n koning oor sy volk sal aanstel (Genesis 35:11; 49:10; Deuteronomium 17:14-20; 28:36). Sonder dat Hanna dit geweet het, het die Here beplan dat Samuel juis in hierdie tyd gebore moes word. Samuel het Israel deur die proses van die salwing van ’n koning gelei (1 Samuel 8). So is Hanna se woorde profeties van koning Dawid, koning Salomo en die hele reeks konings wat hulle volg.
  • Die Here gee krag aan sy koning, Hy gee sterkte aan sy gesalfde. Hierdie profesie loop soos ’n goue draad deur die Ou Testament. Dawid oorwin vir Goliat deur die krag van die Here (1 Samuel 17:45-49). Salomo ontvang wysheid wat as sy krag gedien het (1 Konings 3; 4:29-34). Deur die loop van Israel se geskiedenis gee die Here krag aan sy konings om hulle vyande te verslaan en sy volk reg en billik te regeer.

Hanna se profesie van krag is vervul

As Nuwe-Testamentiese gelowiges weet ons – juig ons! – dat Hanna se profesie vervul is. Eeue nadat sy hierdie gebed gebid het, het God ’n jong vrou, Maria, gekies om geboorte te gee aan ’n Seun (Lukas 1:26-38; 46-55). Hierdie Seun is ons Here Jesus Christus! Die Koning, die Gesalfde aan wie God krag gegee het.

En ook hier sien ons die krag waarvan Hanna gepraat het. Deur die krag van die Heilige Gees is ons Here Jesus uit die maagd Maria gebore (Matteus 1:18; Lukas 1:35). En, deur die krag van God se Gees is Jesus gesalf om ons hoogste Profeet en Leraar te wees (Matteus 3:13-17; Lukas 3:21-22; 4:18).

En, natuurlik, die klimaks! Deur die krag van die Heilige Gees is ons Here Jesus uit die dood opgewek en verhoog om aan die regterhand van die Vader te sit (Handelinge 2:33; Romeine 8:11; Filippense 2:9).

As ons in Jesus Christus glo, sy gebooie liefhet en nakom, weet dan dat ons wat in Christus is, almal gesalfdes van God is. God gee krag aan sy gesalfdes. Hy gee krag aan ons wanneer ons swak, moeg, of hartseer is. Hy bekragtig ons gebede (Romeine 8:26-27; Jakobus 5:16b) en ons geloof deur middel van die prediking en die sakramente.

En, op die dag en oomblik wat ons sterf sal God aan ons die krag gee om uit die dood op te staan om vir altyd by Hom te wees (Johannes 5:21; Romeine 8:11).

Vind krag in die Here en verheug in Hom!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui