Wat beteken die woord Advent?
Die koms van ons Here Jesus Christus is van groot belang vir die kerk. Dit is tog waaroor die feesseisoen gaan! Kruispad kyk na die betekenis van die woord Advent.
deur ds. Werner Brotherton
Ons begin nou die feesseisoen met vreugde in ons harte binnetree. Ons harte is vol vreugde omdat ons weet oor Wie hierdie feesseisoen gaan. Dit gaan nie oor ons nie, maar oor ons Here Jesus Christus. Spesifiek gaan dit oor die koms van ons Here Jesus. Die koms van Christus is nog altyd vir die kerk van groot belang. Die kerk van die Ou Testament het gewag op die koms, gegrond op die belofte van Genesis 3:15 dat daar Iemand gebore sal word om die slang se kop te vermorsel.
Die woord Advent dui op twee gebeure
As Nuwe Testamentiese kerk kyk ons terug na Hom wat gekom het om die slang se kop te vermorsel. In Afrikaans praat ons gewoon van die woord “koms” van ons Here Jesus. Die Engelse woord is Advent. Die woord kom van ’n Latynse woord af wat beteken “om te kom”. In die vroeër kerk het hulle onderskei tussen twee “komse” van Jesus: die koms van Jesus Christus, en sy wederkoms (parousia in Grieks).
Die eerste onderskeid het te make met Jesus se menswording en die tweede onderskeid het natuurlik te doen met die tweede koms van ons Here Jesus Christus, wanneer Jesus weer sal kom. Dit is die eerste plek waarheen die woord Advent wys.
Die tweede betekenis is ’n tydperk voor Kersfees aanbreek waar gelowiges gereedmaak om die geboorte van Jesus te vier. Hierdie gebruik het al so vroeg soos die vierde eeu n.C. in sommige kerke begin. Dit het begin as ’n tyd waarin daar gevas word. Prediking op die Sondae het spesifiek op die vleeswording van Christus gefokus. Teen die Middeleeue het vier Sondae die standaard lengte van die Advent-seisoen geword.
Wat doen gelowiges tydens Advent?
Advent het nooit begin met al die presente en kersversierings nie. Die gelowiges het hierdie tyd gebruik om hulle gereed te maak en te fokus op die koms van Christus en wat Hy in sy vleeswording kom doen het. Dit is ook wat ons in hierdie tyd kan doen.
Mag ons almal dan nou opnuut besef waaroor Kersfees gaan: Dit gaan nie oor die geskenke en die versierings nie. Dit gaan oor die geboorte van ons Here Jesus Christus. Maar onthou, hieraan kan ons elke Sondag dink. Trouens, ons moet elke dag van ons lewens hieraan dink!