Wat beteken jou doop vir jou lewe?
Weet jy wat die persoonlike betekenis van jou doop is? In hierdie Bybelstudie kyk ons na wat die doop vir jou lewe beteken.
deur ds. Brahm Robinson
Het jy al
nagedink oor jou doop? Indien jy as ’n baba gedoop is, is ek seker jy kan nie
baie van die dag onthou nie. Jy het dalk ’n foto waar jy daardie spierwitrok
aanhet wat selfs te lank vir jou vyfjarige sussie is óf een waar ’n trotse
mamma en pappa toekyk hoe die dominee die koue water op jou sprinkel.
Is dit al wat jou doop inhou vir jou lewe? Foto’s wat jou herinner oor die
oomblik toe daar water op jou gesprinkel is, of het jou doop betekenis vir jou
vir vandag en vir jou lewe?

Ek is jou God
Ons lees dat God met Abraham ’n verbond oprig waarin Hy belowe om vir Abraham en sy nageslag ’n God te wees. “Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag.” (Genesis 17:7)
- Wat beteken dit dat God jóú God is?
Dit is My Naam
Jesus gee aan die dissipels die opdrag om na al die nasies te gaan en die mense dissipels te maak. Om die opdrag getrou uit te voer kry hulle die tweevoudige opdrag om die nuutbekeerdes alles te leer wat Jesus hulle beveel het, asook om hulle in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees te doop.
“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matteus 28:19,20).
“As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan bevel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel” (2 Kronieke 7:13,14).
- Wat beteken dit dat God se Naam oor die volk uitgeroep is?
- Wat beteken dit vir jou dat jy in die Naam van God die Vader gedoop is? Leidraad: Dink aan wat aardse vaders doen.
- Wat beteken dit vir jou dat jy in die Naam van God die Seun gedoop is? Leidraad: Dink aan wat Jesus aan die regterhand van die Vader doen.
- Wat beteken dit vir jou dat jy in die Naam van God die Heilige Gees gedoop is? Leidraad: Dink aan hoe die Heilige Gees saam met die Woord werk.
Dit is my belofte
Gelowiges leef vanuit die beloftes van God. Hy maak beloftes waaraan Hy Homself verbind en getrou bly. Hy maak beloftes aan mense wat tot bekering kom én aan hul kinders.
“By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en het hulle vir Petrus en die ander apostels gevra: ‘Wat moet ons doen, broers?’ Toe antwoord Petrus hulle: ‘Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar ver is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.’” (Handelinge 2:37-39) “Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: ‘Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.’ En sy het ons oorreed om dit te doen” (Handelinge 16:15).
“Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.’ Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig. Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop. Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ’n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het” (Handelinge 15:31-34).
- Watter belofte van God is van toepassing op gelowiges?
- Wat beteken dit dat die belofte ook vir die kinders van die gelowiges geld?
- Wat beteken daardie beloftes vir jou lewe ?
Dit is my seën
Ons lees in die Bybel dat die kind van ’n gelowige ouer, asook die ongelowige ouer voor God heilig is. Hierdie heiliging is egter nie ’n innerlike heiliging van wedergeboorte nie, maar beteken om afgesonder van die res te wees. Daardie gesin waar daar ’n gelowige is, sal dus God se seën beleef.
“Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig” (1 Korintiërs 7:14, 1953-vertaling).
- Watter seëninge gee God aan jou en jou gesin? Leidraad: Fisies asook geestelik.
- Hoe beleef jy God se seën in jou lewe en in die lewe van jou gesin?
Wat vra God van jou?
Alle babas is nie eers gelowiges en daarom doop ons hulle nie. Alle babas word ook nie gelowiges wanneer die water op hulle val nie.
“Verder het God vir Abraham gesê: ‘Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte’” (Genesis 17:9).
“Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek” (Romeine 4:20-22).
“Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. Die sonde moet nie meer baas wees oor julle nie, want julle staan nie onder die wet van Moses nie, maar onder die genade … Maar ons dank God dat julle wat slawe van die sonde was, van harte gehoorsaam geword het aan die leer soos julle dit deur die oorlewering ontvang het. Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen” (Romeine 6:12-18).
- Wat vra God in sy verbond van die mens?
- Watter oproep plaas jou doop op jou?
Jou doop is dus nie net ’n oomblik in jou verlede wat deur ’n geraamde dooprok herinneringe oproep nie. Jou doop beteken dat jy aan God Drie-enig behoort en ook sy seën elke dag in jou lewe beleef.