Die Heilige Gees verander jou hart

deur die Kruispad-redaksie
Die woord hart word dikwels in die Bybel gebruik. As daar van jou hart gepraat word sluit dit jou persoonlikheid, jou denke en herinneringe, jou emosies en begeertes in. Dit omvat alles van jou. In 1 Samuel 16:7 (1953-vertaling) staan daar: “Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” God kyk na ons harte. Wat sien die Here as Hy na jou hart kyk? Hier is twaalf teksverse wat oor die hart praat.
Spreuke 4:23
Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.
Matteus 5:8
Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
Esegiël 36:26
Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.
Lukas 8:15
Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met ’n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.
Matteus 6:21
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Spreuke 3:5 (1953-vertaling)
Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
Psalm 51:12
Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.
Johannes 14:27 (1953-vertaling)
Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Matteus 15:8
Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af.
Matteus 15:18
Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.
Psalm 119:10
Ek wil aan U gehoorsaam wees met my hele hart, laat my nie afwyk van u gebooie nie.
Lukas 6:45
Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart, en die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.