God sluit ’n verbond met Dawid

Die verbond wat God met Dawid sluit is ’n hoogtepunt van al die voorafgaande verbonde. Lees hier hoekom, en ook hoe dié verbond nog op ons van toepassing is.

deur ds. Ruan Steyn

In Genesis 3:15 lees ons van die belofte dat die vyand verslaan en die slang se kop vermorsel sal word. God sluit verskillende verbonde met verskillende mense om hierdie belofte tot vervulling te bring.

Ons lees in Psalm 78:67-71 dat God se verbond met Dawid een van die belangrikste momente in God se verlossingsplan is, aangesien dit die pad voorberei vir die ware en ewige Koning. Die ware Koning is die Een wat die slang se kop vermorsel en die vyand oorwin.


Agtergrond tot die verbond met Dawid

Ons lees in 2 Samuel 5-6 dat die Here vir Dawid op verskillende maniere geseën het. Die oorlog tussen Dawid en Saul het tot ’n einde gekom. Dawid is as koning gesalf. Die hoofstad het vanaf Hebron na Jerusalem geskuif. Die verbondsark is weer terug in Jerusalem, as ’n teken van die Here se teenwoordigheid. In 2 Samuel 7 vers 1 lees ons dat die Here vir Dawid rus gegee het van al sy vyande. Dawid en die volk kon uiteindelik weer vrede ervaar het.

Dit is na aanleiding van al die seëninge wat Dawid ontvang het, dat hy uit dankbaarheid ’n “huis” vir die Here wou bou. Die woord wat vir “huis” gebruik word, kan ook met “tempel” vertaal word. Dawid het in ’n indrukwekkende paleis van sederhout gewoon, maar die ark van die Here het binne die tabernakel gestaan wat uit tentgordyne gemaak is. Selfs die profeet Natan het gedink dat Dawid se idee reg is. Die Here het wel ander planne gehad.


Die stigting van die verbond met Dawid

Alhoewel die Here tevrede was met Dawid se begeerte om vir Hom ’n tempel te bou (1 Konings 8:18-19), was dit nie sy wil vir Dawid se lewe nie. Die Here se wil was om vir Dawid ’n “huis” te bou. Ons sien woordspeling wat gebruik word. “Huis” kan na ’n tempel verwys, maar ook na ’n dinastie/koningshuis.

Ons lees van die verbondsluiting in vers 11: “Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ’n koningshuis gaan vestig.” Daar is nie ’n verbondsteken nie. Dit is met die woorde van vers 11 wat God formeel ’n verbond met Dawid gesluit het.

Dit is interessant dat die woord “verbond” nie in hierdie Skrifgedeelte na vore kom nie. Psalm 89 en Psalm 132 veronderstel dat hierdie woorde van God ’n verbondsluiting met Dawid was.


Wat behels God se verbond met Dawid?

  1. Dawid se eie nageslag sal op die troon sit en regeer (2 Samuel 7:12).
  2. Dawid se begeerte om vir die Here ’n tempel te bou, sal vervul word deur sy seun (2 Samuel 7:13).
  3. Dawid se nageslag sal ’n unieke verhouding met God hê: “Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees” (2 Samuel 7:14). Dit was ongehoord in die Ou Verbond om God as vader aan te spreek.
  4. Dawid se erfgenaam sal vir al sy sondes gestraf word, maar die Here sal hom nie verwerp soos Hy vir Saul verwerp het nie (2 Samuel 7:15).
  5. Dawid se koningshuis en koningskap sal vir ewig voortbestaan (2 Samuel 7:16).

Dit is belangrik om te noem dat die ander verbonde ’n hoogtepunt bereik het deur die verbond wat God met Dawid gesluit het. God belowe in die verbond met Abraham dat Hy ’n God sal wees vir Abraham en sy nageslag (= mense in die koninkryk). By die verbondsluiting by die berg Sinaï, gee God vir sy volk die wet van die koninkryk (Eksodus 20). In 2 Samuel 7 gee God die koning vir die koninkryk.


Die vervulling van die verbond met Dawid

Die profete in die Ou Testament het verstaan dat God se verbond met Dawid deur die Messias vervul sal word (vergelyk Esegiël 37:23; Jesaja 9:6-7; Jeremia 23:5-6). Die Nuwe Testament het dit ook so interpreteer. Ons lees in Lukas 1:32 oor die geboorte van Jesus Christus, die verwagte Messias: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Dawid se koningskap was ’n skaduagtige figuur wat die ononderbroke en ewige heerskappy van Jesus Christus illustreer. Hebreërs 1 bevestig ook dat Jesus die verbond met Dawid vervul het: “Immers, aan wie van die engele het God ooit gesê: ‘Jy is my Seun, van vandag af is Ek jou Vader.’” Laasgenoemde is ’n aanhaling van 2 Samuel 7:14.

Jesus Christus word genoem: die Seun van Dawid (Romeine 1:3), die Here van Dawid (Matteus 22:45), die koning oor die huis van Dawid (1 Korintiërs 15:25).


Wat beteken die verbond vir ons?

Beteken hierdie verbond vir ons iets? Was dit nie net van toepassing op die volk Israel nie? Die heerskappy van Jesus Christus is nie net belangrik vir die volk Israel nie, maar ook vir ons:

  • Jesus se universele koningskap: Ons word daaraan herinner in Openbaring 11:15 “Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde, en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid”. Daar staan nie dat Hy net koning oor Israel is nie, maar oor die wêreld. Ons staan dus onder sy heerskappy.
  • Die opdrag wat ons het, is duidelik: ons staan onder die heerskappy van die Seun van Dawid, Jesus Christus. Ons word opgeroep om volgens die wet van die koninkryk te lewe.
  • Ons missie is om die evangelie aan ander mense te verkondig, sodat hulle ook onder die heerskappy van Christus gebring word.
  • Jesaja 55 verwoord ons troos: “Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk… Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.”

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui