Wat beteken “sondes van die vaders”?

Die tweede gebod kan mens maklik verwar. Lees hier, aan die hand van Esegiël 18, oor die impak van vorige geslagte se sonde.

deur ds Jan-Louis Lee


Daar is baie wat híérdie woorde in die Tweede Gebod onheilspellend vind:

Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat my haat;…

Eksodus 20:5

Beteken dit as oupa en ouma ongelowig was, of as pa ’n groot sonde gedoen het – ek bestem is vir die ewige verdoemenis? Wat maak ek dan? 

Hou God mý verantwoordelik vir die sondes wat iemand in my voorgeslagte gepleeg het?

Kom ons kyk na hierdie saak in die lig van Esegiël 18; waar die volk groot lyding ervaar. Maar, in plaas daarvan om hulle eie aandeel in die situasie te erken probeer hulle die blaam verplaas.

Vaders en kinders in Esegiël

Die spreekwoord onder die mense was:

Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword…”

Esegiël 18:2

Jy ken seker die sensasie – as jy iets geëet het soos druiwe of ’n koeldrank gedrink het wat ’n lagie op jou tande laat en dit ‘stomp’ laat voel. Let wel: nie óns het groen druiwe geëet nie; ons óúers het groen druiwe geëet, en nou is óns tande stomp. Dus: ons ouers het gesondig, en nou word ons daarvoor gestraf. 

En op die oog af lyk dit of hulle saak vir blaamverplasing nogal goed is – van Rigter tot Rigter, van koning tot koning, het die Israeliete die Here getart en geterg en gemaak of hulle met Hom kon speel. Eindelik het Hy hulle in ballingskap weggevoer – en dit is nou waar ons hulle in Esegiël bevind. 

Maar kom ons sny nou in op die wese van die argument, kom ons maak dit baie duidelik wat hulle eintlik sê: God straf ons nou hier vir iets wat ándermense gedoen het, ons kan nie verantwoordelik gehou word daarvoor nie.

Die tweede gebod word as ’n verskoning voorgehou

Wat die klagstaat teen Israel verder opstapel, is die feit dat hulle arrogant genoeg is om die Here se eie woorde, die woorde van die tweede gebod, as’t ware téén Hom te gebruik – en sê: dis gewoon God wat die sondes van ons vaders nou aan ons toereken.

Maar hoe moet ons hierdie woorde verstaan? Sê die Here hier dat Hy ons kinders straf vir die sonde wat óns doen?

Nee … Allermins!

Baie van ons weet van mense wat glo dat daar een of ander bonatuurlike binding of onafwendbare oordeel is wat hom in opeenvolgende geslagte uitwoed. Ja, baie van ons glo dalk self so. Die sogenaamde generasie-vloeke of generational curses.

As ek sonde gedoen het; as my voorgeslagte dalk heidens geleef het en grof teenoor die Here oortree het; dan dra ek dit oor op my kinders. Mense wil ook allerhande siektes en kwale wat hulle kinders en kleinkinders het; aan ’n sogenaamde vloek van die voorgeslagte toeskryf.

Hoor vandag hierdie baie belangrike woorde, en onthou dit vir altyd: afgesien van ons erfsonde deur Adam en Eva, straf die Here niemand vir die sonde wat sy ouers gedoen het nie! Die Here eis vergelding vir enige sonde slegs van die persoon wat daardie sonde pleeg…


Hoe moet ons dan die tweede gebod se waarskuwing verstaan?

Dit gaan spesifiek by die tweede gebod oor eiewillige godsdiens: om die Here te aanbid soos ons Hom wil aanbid; om die Here op maniere te aanbid wat Hý nie beveel het nie. Onder andere dan om afbeeldings van Hom te maak.

Wanneer die mens die Here op hierdie eiewillige maniere aanbid dryf hulle weg van Hom af. Indien hulle hierin volhard, loop dit altyd uit op afgodery, en later afvalligheid en ongeloof. Die kans is dan baie groot dat so persoon se kinders ook self die voorbeeld van sy ouers sal navolg. En daarna, is die kans baie groot dat selfs so persoon se derde of vierde geslag ongelowig sal wees.

By die tweede gebod gaan dit oor die gevolge van ouers se afgodsdiens of ongeloof op hulle kinders.

Maar baie belangrik: dit beteken nie dat so persoon se 2de of 3de of 4de geslag outomaties ongelowig sal wees nie! Die kans is net soveel groter.


Wat sê die tweede gebod se betekenis vir ons ouers vandag?

Baie eenvoudig: indien ouers nie gereeld uit die Here se Woord lees, tot Hom bid, eredienste bywoon en Hom daagliks met jou hele lewe aanbid nie, is die kans baie goed dat jou kinders dit ook nie sal doen nie.

In Esegiël 18 openbaar die Here aan ons dat elke persoon persoonlik verantwoordelik gehou word vir sy eie sonde.

In die woorde van ons Skrifgedeelte: dit is die mens wat sondig wat sal sterf.

’n Seun sal nie die straf op sy pa se sonde dra nie, en ’n pa sal nie die straf op sy seun se sonde dra nie.

Esegiël 18:20

Elkeen staan pa vir sy eie sonde

Elke mens is persoonlik verantwoordelik vir sy eie sonde. En wat hier in Esegiël 18 geopenbaar word is nie in stryd met die waarskuwing by die tweede gebod nie. As ons net so bietjie verder in die wet van die Here lees, hoor ons die woorde van Deuteronomium 24:16:

Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.

Die volk Israel – en ons vandag – durf daarom nie sê: “Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp”. Hoekom nie?

Want hiermee suggereer ons dat die Here onregverdig is. Dat Hy een of ander wrede “god” is wat lekker kry om kinders te straf vir die sonde van hulle ouers.

As die kinders se tande stomp is, is dit omdat húlle groen druiwe geëet het, en nie hulle ouers nie.

As die mense in ballingskap gestraf word, is dit oor hulle eie sondes, nie oor dié van hulle ouers nie! Die fout wat die Israeliete gemaak het was dat hulle soveel klem op hulle voorvaders se sonde gelê het dat hulle geen skuldbesef gehad het nie. En omdat hulle geen skuldbesef gehad het nie, wou hulle niks van bekering of berou weet nie!


Jyself moet vergifnis vra vir jou sonde

Wat God wel van sy kinders eis, is ’n hart van ootmoed wat tot Hom bekeer en wegdraai van die sonde. Dit dring ons daarom na die kruis van Jesus Christus, wat as Middelaar en Borg die onnoembaar-grote straf ter wille van ons gedra het.

Die Heilige Gees wat in ons woon, maak dit vir ons moontlik om werklik te verander. Hy help ons om sonde te haat en na God se wil te strewe. Hy verseker ons dat niks ons van God se liefde in Christus kan skei nie, selfs nie die sondes waarmee ons steeds sukkel nie.

Wat leer ons hieruit?

  1. Ons mag nie ander of ons omstandighede vir ons sonde blameer nie. Ons is self verantwoordelik vir ons dade.
  2. God eis van ons opregte berou en bekering. Dit beteken ’n radikale verandering in ons lewens.
  3. Die wonderlike troos is dat Christus reeds die volle straf vir ons sondes gedra het. Ons redding is volkome in Hom.
  4. Ons moet in dankbaarheid leef – deur ons skuld te erken, te bely dat Christus ons sonde vergewe het, en daagliks na God se wil te streef

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui