Waarom het jy ’n attestaat nodig?

Elke gelowige moet aan ’n plaaslike gemeente behoort en ’n attestaat gaan daarmee saam. Lees hier hoe ’n attestaat meer as net ’n bewys van lidmaatskap is.

deur ds Jan-Louis Lee

Elke gelowige behoort van ’n plaaslike gemeente deel te vorm. Omdat ons op die wingerdstok ingeënt is, is dit ondenkbaar dat die lote los daarvan sal groei en kan bly leef (Johannes 15).

Dit is trouens opmerklik dat wanneer Jesus ons geloof en verbondenheid aan God verduidelik, dit altyd – áltyd – in verband gebring word met ons verbondenheid aan ander gelowiges.

Die beeld van die huisgesin van God (Efesiërs 2; 1 Timoteus 3:15); die Hoof en die liggaam (1 Korintiërs 12 en Efesiërs 4), die Herder en die skape (Johannes 10) ensovoorts, druk almal die gedagte van gemeenskap uit.

Binne hierdie geloofsgemeenskap dra elke afsonderlike lid sorg vir mekaar, word daar vir mekaar gebid en toegesien dat niemand in die geloof agterbly nie. Daar is gesonde Woordbediening en toerusting van die gelowiges, sowel as vermaninge en bemoediging sodat die huisgesin getrou aan God sal bly en die aanslae van die Bose sal teëstaan.

Nou gebeur dit soms dat omstandighede ons dwing om van gemeente te verwissel. Jy verhuis byvoorbeeld na ’n nuwe dorp of stad. 

Elkeen wat so ’n skuif al moes deurmaak, sal kan getuig dat dit dikwels moeilik is om jou wortels uit te trek, van een geloofsgemeenskap te moet afskeid neem en jou by ’n ander te gaan voeg.


Wat is ’n attestaat?

Hoewel ons geloof dikwels ’n private saak is, is dit nooit individueel nie en behoort elkeen ’n Godvresende, Bybel-bedienende, gehoorsame gemeente op te soek. Gelowiges is nie ‘lone rangers’ in hierdie lewe nie (NGB artikel 28).

Dit bring ons by die gedagte van ’n attestaat.

’n Attestaat is getuienis wat een gemeente (deur die kerkraad) aan ’n ander gemeente gee oor die leer en lewe van ’n lidmaat of lidmate. 

Die betekenis van attestaat

  • Die woord ‘attestaat’ beteken ‘getuienis’. Engels: ‘to attest’.
  • Dit is afkomstig van Latyn waar dit afgelei is van ’n woord wat beteken ‘om te bewys of te bevestig’.
  • ’n Attestaat is dus getuienis wat ’n feit ondersteun.

Die kerkraad wat ’n lidmaat ‘stuur’ na ’n ander gemeente lewer getuienis oor die handel en wandel van ’n lidmaat of gesin: Was hulle getrou in hulle opsoek van die eredienste, het hulle meegeleef en het hulle die geloof wat hulle bely het, met hul optrede bevestig?

Dit mag dalk baie soos ’n rapport klink, maar dit het eintlik baie diep (en belangrike!) Bybelse wortels:


Aanbevelingsbriewe in die Nuwe Testament

Paulus opper die gedagte van “aanbevelingsbriewe” in 2 Korintiërs 3 om sy apostoliese gesag by die gemeente te verdedig.

In die tyd waar die Nuwe Testament geskryf is, het dit ’n noodsaaklikheid geword om die ‘koring’ van die ‘kaf’ te skei omdat talle valse predikers rondgetrek het met ’n valse boodskap.

Gemeentes het dan aanbevelingsbriewe aan sendelinge gegee sodat wanneer hulle op ’n nuwe plek ontvang word en die evangelie aan ander bedien, daardie hoorders gerustheid sal hê dat dit ’n prediker van ’n bepaalde plek met ’n behoorlike mandaat is en belangrik: hulle nie sal mislei met ’n self-opgestelde boodskap wat agter ’n eie agenda skuil nie.

Hierdie dokumente beskerm na twee kante toe: Dit plaas die gesant se mandaat bo verdenking; en dit weerhou die gemeente van dwaalleer. Dit verhoed die verdraaïng van die evangelie.

Voorbeelde van aanbevelingsbriewe in die Nuwe Testament

Ons kry ’n aantal voorbeelde in die Bybel van aanbevelingsbriewe:

  • Die brief van Paulus aan Filemon om die saak van die wegloperslaaf, Onesimus, te bepleit.
  • Romeine 16:1 vorm ’n aanbevelingsbrief vir die medewerker, Febé, in die midde van die gemeente aldaar.
  • 2 Korintiërs 8 is ’n aanbevelingsbrief vir Titus.

Dit is tog interessant dat Paulus in 2 Korintiërs 3 sy bediening onder die gemeente verdedig met ’n verwysing na die getuienis wat die Gees in die harte van die gemeente lewer. Jesus skryf op die harte van die gemeente met die ink van die Gees ’n boodskap wat nooit vervaag of verdwyn nie.


Gelowiges moet deel wees van ’n gemeente

Die beginsel is: Gelowiges behoort altyd deel te vorm van ’n gemeente waar daar herderlike sorg is. Nie sodat daar ‘polisie’ gespeel kan word oor die lewens van die gemeente nie, maar omdat God die liggaam só saamgevoeg het en sy kudde só wil bedien.

’n Attestaat getuig dat ek ’n dankbare kind van die Almagtige is, wat sonder versuim saam met sy ander kinders wil verenig. Dit sê vir die nuwe kerkraad byvoorbeeld dat daar geen tughandeling in proses is nie, dat daar nie nou ’n spesifieke gaping in my geloofsmondering is nie en dat sover dit bekend is, ek suiwer in my leer en lewe is.

Ek moet, wanneer ek vertrek by gemeente A, reeds weke vooraf gaan vra dat hierdie getuienis saam met my na gemeente B sal gaan. Die dag wat ek die eerste erediens by die nuwe gemeente bywoon, behoort ek in te stap, myself voor te stel en my attestaat in te handig.

Soms gebeur dit egter dat daar ’n tughandeling in proses is.  Onthou, die tughandeling is (wanneer dit Bybels toegepas word) ’n liefdeshandeling wat ’n gelowige terugbring na die volle gemeenskap met God. So ’n handeling word dan in ’n brief saam met jou attestaat aangestuur, sodat die nuwe kerkraad hierdie proses met jou in liefde kan voortsit.


’n Attestaat is baie meer as ’n blote ‘bewys van lidmaatskap’, en moet nie só hanteer word nie. Hoe wonderlik dat ons so van mekaar kan getuig van die hoop wat in ons lewe!

Jy sal ook hou van ...

1 Response

  1. Ferdie W. Thomas sê:

    insiggewende artikel

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui