Hoe lyk jou gelowige trouvrou?

Hoe weet ek waarna om te soek in ’n man of ’n vrou? Vir die gelowige moet dit ’n belangrike vraag wees. Daar is sekere karaktereienskappe in ’n man en ’n vrou om na te kyk. Hierin gee die Bybel ons ook riglyne. Ons kan in hierdie artikel egter nie al die eienskappe noem nie, maar net ’n paar belangrikes.
deur ds Werner Brotherton
Wanneer ek ’n man is wat soek na ’n vrou, waarna soek ek?
Deuteronomium 6:5 leer dat ons die Here moet liefhê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand. Hierdie gebod sê Christus Self is die belangrikste van almal. Dit geld vir die gelowige man én vrou ook. Liefde vir die Here is die grondslag van ons lewe en fondasie van ons huwelike.
1. ’n Goddelike vrou trek altyd ordentlik aan.
In byvoorbeeld Spreuke 7:10 word ons geleer dat slegte vrouens onbehoorlik en sleg beklee is. ’n Goddelose vrou se kleredrag trek altyd aandag op haarself en haar liggaam in plaas van ons Vader van die hemele is. Die Here beklemtoon die skoonheid van die karakter wat nie gesien kan word nie. 1 Timótheüs 2:9 sê:
So ook moet vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie.
2. ’n Goddelike vrou wil altyd heilig wees in haar optrede.
So is die goddelose vrou nie.
Kom laat ons dronk word van liefde tot die more toe, laat ons mekaar vrolik maak in welluste.
Spreuke 7:18
3. ’n Goddelike vrou vrees die Here.
Sy soek God se wil bo die goedkeuring van ander.
Of weet julle nie dat julle liggaam ʼn tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
1 Korinthiërs 6:19-20
4. ’n Goddelike vrou strewe daarna om altyd eerlik te wees.
’n Gelowige vrou sal strewe om in haar spraak en motiewe eerlik te wees. So is die goddelose mense nie.
Sy het hom verlei deur haar baie mooipraatjies, deur die gladheid van haar lippe het sy hom verlok. Hy loop skielik agter haar aan soos ’n bees wat na die slagpaal gaan, en soos voetboeie wat dien tot tugtiging van die sot, totdat die pyl sy lewer splits; soos ’n voël haastig na die vangnet vlieg—sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is.
Spreuke 7:21-23
5. ’n Goddelike vrou is sag en stil.
Die goddelose vrou is nie sag en stil nie.
sy is onrustig en losbandig, haar voete kan nie in haar huis bly nie.
Spreuke 7:11
Dit sluit disrespek, vyandigheid, aggressiwiteit en listigheid in. Al hierdie kwaliteite is slegte nuus.
’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra.
2 Timótheüs 2:24
maar die verborge mens van die hart moet in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees wees, wat baie kosbaar is voor God.
1 Petrus 3:4
Lees ook die hele 1 Petrus 3:1-7.
Hierdie gedagte kan ons ook lei wanneer ons eendag self dogters het wat ons moet grootmaak. Ons moet onsself afvra watter tipe vrou ons grootmaak? ’n Wyse of dwase vrou? Trek sy aan sodat sy die regte goddelike man na haar toe sal trek of al die verkeerdes? Het sy ’n heilige haat vir sonde?
6. ’n Goddelike vrou sorg vir haar huis.
Sy sorg vir wol en vlas en sy werk met gewillige hande.
Spreuke 31:13
Sy bestuur haar huis goed (Titus 2:5). Sy is lief daarvoor om vir almal in haar huis te sorg, en sy het ’n oop huis met gasvryheid .
7. ’n Goddelike vrou wil ander dien.
Sy ken en bedien Christus se liefde.
Sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.
Spreuke 31:15
8. ’n Goddelike vrou strewe daarna om ’n persoon te wees wat ander kan vertrou.
Die hart van haar man vertrou op haar en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.
Spreuke 31:11
9. ’n Goddelike vrou is ’n goeie rentmeester.
Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd.
Spreuke 31:16
10. ’n Goddelike vrou is hardwerkend.
Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.
Spreuke 31:17
11. ’n Goddelike vrou doen die regte ding en het ’n goeie reputasie.
haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar…
Spreuke 31:28
12. ’n Goddelike vrou is gevul met Bybelse wysheid.
Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
Spreuke 31:26
13. ’n Goddelike vrou streef daarna om soos ’n Bybelse vrou te leef in vrolikheid.
Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
Spreuke 31:25
