Jesus is die lig van die wêreld

Tydens die Loofhuttefees word herdenk hoe God met ’n vuurkolom sy volk se pad verlig het met die uittog uit Egipte. Dis hiermee wat ons beter kan verstaan wat dit beteken dat Jesus die Lig vir ons is.

deur ds. Dirk Meijer

In die Ou Testament was dit een keer ’n jaar die gebruik van die Israeliete om op te trek na Jerusalem toe om daar saam met mekaar die Loofhuttefees te vier (Levitikus 23). Hulle het dan takke van bome geneem en vir hulle hutte gebou, waarin hulle vir ’n week gebly het.

Hierdie fees moes hulle herinner aan die uittog uit Egipteland. Nadat die Here sy volk met tien plae uit Egipte verlos het, het hulle deur die woestyn getrek. God self was by hulle: in die dag in ’n wolkkolom wat hulle teen die son beskerm het, en in die nag in ’n vuurkolom wat vir hulle lig gegee het. Die vuurkolom het gewys: God self is die lig vir sy volk. Die Israeliete moes dít elke jaar tydens die Loofhuttefees herdenk het.


Die Loofhuttefees in die tyd van die Nuwe Testament

In Johannes 7:2 en 10 hoor ons dat Jesus self na Jerusalem toe gegaan het om die Loofhuttefees te vier. Terwyl Hy in Jerusalem was, het Hy met baie mense gepraat. Die gesprek van Johannes 8 het plaasgevind terwyl Jesus in die tempel, by die skatkis, geleer het (Johannes 8:20).  

In die Nuwe Testament het die Jode die gebruik gehad om tydens die Loofhuttefees ’n klomp kandelare aan te steek wat die hele tempel-area verlig het. Hulle het dit gedoen as herdenking aan die vuurkolom in die woestyn. Hierdie kandelare het spesifiek gestaan in die gedeelte van die tempel waar die skatkis was, op dieselfde plek waar Jesus in Johannes 8 besig is om te praat. In die aand kon die lig van daardie kandelare van ver afstande af reeds gesien word.

Meer nog, die Jode het saam met alles van die verlede waaraan hulle teruggedink het tydens die Loofhuttefees, ook ’n verwagting vir die toekoms gehad wat die Here vir hulle sal gee. In die Ou Testament het die Here vir hulle belowe dat Hy vir hulle ’n Verlosser sal stuur. Hierdie Verlosser word onder andere beskryf as die “lig vir die nasies” (Jesaja 42) en die “son van geregtigheid” (Maleagi 4).


Dink jouself dit alles in wanneer jy dan die woorde van Jesus daar by die tempelterrein hoor. Jy is een van die baie Ou Testamentiese mense wat by die Loofhuttefees was. Dink jouself in dat jy self daardie kandelare wat die tempel-terrein verlig het, gesien het. Laat die beloftes van “die lig vir die nasies” en “die son van geregtigheid” deur jou eie denke spoel. Dink jouself dit alles in, en om dan uit Jesus se mond te hoor: “Ek is die lig van die wêreld”.


Jesus ís die Lig

Met hierdie eenvoudige woorde het Jesus van Homself bekend gemaak presies wie Hy is. Hy is die veel helderder Lig as al die ligte wat die mense by die Loofhuttefees gesien het. Hy is die vervulling van die vuurkolom in die Ou Testament. Hy is die Lig van die nasies waarvan Jesaja geprofeteer het. Hy is die Son van Geregtigheid waarvan Maleagi gepraat het. Hy is die Messias wat sou kom.

Hy “Is Wie Hy is” soos God Hom al by die brandende doringbos aan Moses openbaar het. Dit is geen wonder dat die Fariseërs so ontsteld met Hom was toe Hy gesê het dat Hy die Lig van die wêreld is nie, want in wese het Jesus dit klinkklaar gesê: “Ek is God”.

Jesus is nie net ’n lig van die wêreld nie. Hy is dié Lig. Hy is die enigste Een wat in staat daartoe was om die donkerte van ons sonde te oorwin, want “die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie” (Johannes 1:5). Tydens die drie ure van donkerte aan die kruis, het Hy die prys van die sonde vir ons uitgedelg. Die lig wat na daardie drie ure van donkerte deurgebreek het, het getuig: Christus is werklik dié Lig wat oorwin het. Hy het dit met sy eie woorde bevestig: “dit is volbring” (Johannes 19:30).


Ons moet die Lig volg

Aangesien Jesus die lig van die wêreld is, word ons opgeroep om Hom te volg. Soos wat Israel deur die geloof agter die vuurkolom in die woestyn aangeloop het, behoort ons deur die geloof te wandel agter Christus aan. Die Heilige Gees maak ons oë oop om te sien dat Jesus die Lig is, en nie ons oë toe te knyp en van die Lig af weg te hardloop soos die ongelowiges doen nie.

Vir elkeen wat die Lig volg, hoor ons ’n heerlike belofte. “Wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Johannes 8:12). Dié lewe is die ewige lewe, en as ons dan die Lig van die lewe ontvang het, laat ons in die lig wandel (1 Johannes 1:5-7). Laat ons oral volg waar Christus voor ons uitgaan.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui