Pilatus lewer Jesus oor

In hierdie Bybelstudie ondersoek ons die gedeelte van Johannes 19:1-16 waar Pilatus vir Jesus aan die Jode oorlewer.

deur ds. Jan-Louis Lee

Lees Johannes 19:1-16

Pilatus probeer vier keer om die Jode van sy nek af te kry, en om Jesus vry te laat:
1. Hy probeer sy verantwoordelikheid op iemand anders skuif. Johannes 18:31: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet …”
2. Hy probeer (tevergeefs) ’n manier kry om Hom vry te laat gaan. Johannes 18:39: “Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die Paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?
3. Hy probeer ’n kompromie aangaan – om Hom eerder te gésel. Johannes 19:1: “Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel…
4. Hy probeer sy beskuldigers se simpatie opwek, ook tevergeefs. Johannes 19:15: “Toe vra Pilatus vir hulle: ‘Moet ek julle koning kruisig?’


Vraag 1. Dit is duidelik dat Pilatus nie Jesus wil doodmaak nie (vgl. Johannes 19:5 en 19:12).

  • Hoekom het hy nie vir Jesus vrygespreek toe dit duidelik word dat Jesus onskuldig is nie?
  • Hoekom laat Pilatus vir Jesus gésel?

Wat is ’n gésel?
Die Romeinse gésel was ’n kort handvatsel van hout waaraan ’n aantal rieme vasgemaak is. Aan hierdie rieme is skerp stukkies lood of koper of been vasgemaak. Die slagoffer se hande is dan aan ’n pilaar vasgemaak en dan word sy kaal rug genadeloos geslaan. Die aard van die misdaad sou bepaal hoeveel houe die slagoffer kry – selfs tot soveel as 40. Dikwels het die slagoffer tydens die géseling beswyk. Ons weet dat Jesus baie ernstig gewond en swak was want Simon van Sirene (Lukas 23:26) word gedwing om sy kruis tot by Golgota te dra.


Vraag 2. Wat probeer die soldate bereik met die mantel en die doringkroon?


Merk op hoe Pilatus speel vir tyd, die probleem probeer ontwyk en eintlik vir Jesus wil vrylaat. Hy wil eintlik net van die probleem ontslae wees. Deurdat hy vir Jesus met mantel en kroon, bebloed en swak voor die skare stel, probeer hy die simpatie van die skare opwek sodat hulle Hom sal vrylaat. Dit is asof hy wil sê: Kyk mooi! Hierdie man is geen rebel nie, het hy nie reeds genoeg gely nie?


Vraag 3. Wat het Johannes 18:38; 19:4; 19:6; Matteus 27:23; Matteus 27:24 in gemeen?

  • Hoekom is dit belangrik om op te merk dat juis die priesterhoofde in vers 6 skree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
  • Hoekom laat ’n regverdige God toe dat hierdie dinge gebeur? (vgl. Jesaja 53:5-8; Galasiërs 3:13)

Vraag 4. Hoekom kom die klag van ‘godslastering’ nóú eers uit? (vers 7)

  • Wat behels die klag van godslastering (vgl. Johannes 3:16, 5:18; 8:53; 10:33-36)
  • Wat is die straf vir godslastering? (Vgl. Levitikus 24:16 )
  • Hoekom weet ons dat Jesus nie gedoen het waarvan Hy beskuldig is nie?

Die klag van godslastering
Die godsdienstige leiers het waarskynlik hierdie klag as ’n troefkaart in hul moue gehou totdat die saak verder gevorder het en Pilatus met sy rug teen die muur staan. ’n Suiwer godsdienstige klag sou vir ’n heiden geen waarde gedra het nie; maar nou; omdat hulle valse beskuldigings van Jesus ontspoor en ontmasker is; het hulle geen opsie as om hierdie klag te bring nie. Pilatus haat die Jode omdat hulle vir hom baie moeite veroorsaak het; maar hy is ook bang vir hulle. Met hierdie woorde is daar eintlik ’n bedekte dreigement aan Pilatus: Stel die man tereg óf …


Vraag 5. Hoe weet ons die bedekte dreigement het geslaag? (vers 8)


Vraag 6. Hoekom, dink jy, beweeg Pilatus heeltyd heen en weer tussen die skare en Jesus?


Vraag 7. Hoekom kan ons sê Jesus het Homself aktief oorgegee, en nie maar net passief toegelaat dat dinge met Hom gebeur het nie? Motiveer jou antwoord uit vers 10 en 11.


Vraag 8. Hoe word die bedekte dreigement van vers 7, ’n openlike dreigement in vers 12?  Wat is die inhoud van die dreigement en die moontlike gevolge?


Vraag 9. Pilatus gee dan in. Verduidelik hoekom dit nodig was. Jy kan verwys na Sondag 15 Vraag en Antwoord 38 van die Heidelbergse Kategismus.


Vraag 10. Hoekom juis ’n kruisdood?


Vraag 11. Kan ’n mens neutraal wees oor jou belydenis van Christus? Antwoord jou vraag deur te kyk na die manier waarop Pilatus die kwessie probeer systap en misluk het.


Vraag 12. Wat beteken dit dat die onregverdige regter die Lam van God veroordeel het?


Na hierdie gedeelte volg die kruisiging waartydens Jesus gelaster word en sy klere verdeel word onder die soldate. Sy naaktheid aan die kruis bedek die naaktheid van God se kinders, vergelyk die gebeure met Noag en Gam in Genesis 11.
Die punt is dat Jesus hierdie naaktheid en smaad ter wille van ons gedra het; sodat ons daarvan bevry kan word!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui