Wat doen jy op Sondae?
Na God sy skeppingswerk voltooi het, het Hy gerus. Van dié rusdag, deur die Ou en Nuwe Testament kan ons sien hoe ons vandag Sondae moet deurbring.
Deur Marnix Boersema
“Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.”
God het alles geskape in ses dae en toe op die sewende dag gerus en hierdie dag het Hy geheilig (Genesis 2:3). Die geskape mens en dier kon in hierdie staat van rus voortbestaan. Daar was geen moeite nie. Geen vermoeienis nie. Geen onrus nie. Die sondeval (Genesis 3) bring dié rus tot ‘n einde en die skepping kom in ‘n staat van onrus en vermoeienis. Voor die sondeval moes die mens werk, maar dit was nie moeite nie. Na die sondeval moet die mens in die “sweet van sy aangesig” sy brood verdien (Genesis 3:17).
Nou het die mens behoefte aan rus. Nie net behoefte aan rus van sy werk nie, maar ook ewige sielsrus. Die Here moet ingryp om die rus wat daar was voor die sondeval, weer terug te bring en die rus in sy skepping te herstel.
Wat was die Sabbat van die Ou Testament?
Die sewende dag
was ‘n baie hooggeagde dag, nie soseer vir die volk nie, maar vir God. Dit was
vir God só belangrik dat daar in Eksodus 31:14 staan dat enigiemand wat werk doodgemaak
moet word. In Levitikus 23:7 lees ons van die Sabbat as ‘n feesdag van
samekoms, waarop die volk bymekaargeroep is.
Eksodus 31:16-17 beskryf dat God se kinders dit as ‘n ewige verbondsteken moet
vier.
“En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken;”
In die Ou Testament was die Sabbat ‘n dag waarop die gewone arbeid en aktiwiteite moes stop. Byvoorbeeld, toe die volk manna in die woestyn versamel het, moes hulle op die sesde dag dubbel soveel optel, sodat hulle vir die Sabbat kon oorhou. Hulle was verbied om op die Sabbat enigsins manna op te tel (Eksodus 16:26).
Die Here sorg vir ons deur ‘n dag te gee waarop ons kan rus. Hy wil sy volk in hulle onrus van sy rus verseker. Hulle moet terugdink aan die rus wat daar in die Paradys was en verlang na die rus wat kom.
Wat was die Sondag in die Nuwe Testament en later?
Onthou, Sondag is
nie ‘n moderne verskynsel nie. Dit is nie iets wat die hedendaagse, “moderne”
kerk ingestel het nie. Direk na die kruisiging van Jesus kom die gelowiges nie
meer op die sewende dag bymekaar nie, maar op die eerste dag – die Sondag. Lees
Johannes 20:1, 19. Die vroeë gelowiges het op die eerste dag bymekaargekom –
die dag van Jesus se opstanding, na sy kruisiging en begrafnis.
Sommige van die vroeë kerkvaders het ook gepraat van die Sondag as ‘n “dag van
eredienste”. In 321, het Konstantyn I die Sondag as ‘n dag van rus verklaar en Karel
die Grote het in die Middeleeue ‘n Sondagswet uitgereik – alle arbeid en
vermaaklikheid is verbied. Ten spyte hiervan was Konstantyn nie die een wat
Sondag begin het nie. Hy het bloot die reeds bestaande “dag van eredienste” as
‘n amptelike rusdag verklaar.
DIE SABBAT IS NOU OP SONDAG
1. Christus vervul die Sabbatdag
Christus het gekom om die wet en die profete te vervul: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matteus 5:17). Ons sien Jesus as die vervulling van die profesieë; die vervulling van die offers; die vervulling van die beloftes by die besnydenis, ensovoorts. Die beloftes van die Pasga is vervul in Christus en daarom vier ons nou die Nagmaal. Die beloftes by die besnydenis is vervul in Christus en daarom doop ons nou. So is die beloftes van die Sabbatsrus vervul in Christus en daarom vier ons nou die Sondag.
2. Sondag bly ‘n verbondsteken
Die Ou Testament (Ou Verbond) en die Nuwe Testament (Nuwe Verbond) is nie twee verskillende verbonde nie. Dit is ‘n ou en nuwe bedeling van dieselfde verbond. Die Sabbat was ‘n teken van die verbond wat God met sy volk by Sinaï gesluit het. Hierdie verbond is een en dieselfde verbond wat God ook met ons vandag sluit. Ons leef in die nuwe bedeling van die verbond, na die lyding en kruisiging van Christus. Die Sondag is nog steeds vir ons ‘n viering van God se verbond met ons en ‘n dag van toewyding aan die Een wat vir ons ewige rus bewerk het.
3. Die gemeente het ‘n dag van fees
Die Sondag is steeds ‘n feesdag, oftewel ‘n vierdag, waarop die volk van God bymekaargeroep word. In die Ou Testament was die vierdag ‘n vooruitkyk na die rus wat sou kom. Die Sondag is die dag waarop Jesus opgestaan het uit die dood en dus nou alreeds die begin van die ewige rus bewerk het. Ons kan sê: gelowiges in Christus beleef nou reeds die eerste dag van hulle ewige rus. Nuwe-Testamentiese gelowiges sabbat op ‘n Sondag.
Hoe moet jou Sondag lyk?

1. Rus sonder om niks te doen nie
Die “rus” van die vierde gebod beteken nie ledigheid nie. Fokus om te rus van die wêreld, jou sonde en aardse dinge. Dink daaraan om ‘n dag van rus van tegnologie sommer elke Sondag te maak.
2. Word toegerus vir die week wat kom
Sit dié dag apart vir die Heilige Gees om in jou te werk deur sy Woord, gebede en die samekoms met die heiliges. Hierdie is die ideale dag wat gegee word vir jou om met jou gesin te gesels oor die Here en sy werk.
3. Dit is jou erediensdag
Dis die dag van samekoms en aanbidding. Hebreërs 10:25 praat van Sondag: “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
4. Bring die dag as ‘n offer
Sondag is ‘n dag wat radikaal anders moet lyk as die ander dae, want dit is ‘n dag wat ek aan die Here toewy. Dit is nie ‘n dag van moets en moenies nie. Ja, dit is ‘n dag van fisiese rus, maar dit is ook ‘n dag van toegewyde diens aan die Here.
Sondag is God se verbondsteken, wat die gelowiges as ‘n feesdag onderhou, deur saam in die verlossingswerk van Christus te rus.
Lees die volledige artikel van Marnix Boersema hier.
1 Response
[…] Wat doen jy op Sondae? […]