Antwoord só met dankbaarheid op God se genade

In Psalm 40 kry ons riglyne waarvolgens ons ’n lewe van dankbaarheid kan lei. Lees hier van die goeie werke waarmee ons God moet dank vir sy genade.

deur ds Johan Nel

Een van die eerste dinge wat ’n ouer ’n kind leer is om dankie te sê. Ouers verwag van kinders om altyd dankie te sê en sal nie huiwer om ’n kind aan te spreek daaroor nie. God is ook ’n Ouer. Hy is ons hemelse Vader.

Ons Vader in die hemel het wonderlike en eintlik onbeskryflike genade aan ons bewys. Hy verwag dat ek met my lewe dankbaarheid aan Hom sal bewys. Hy leer my in sy Woord dat ek Hom deur goeie werke vir sy genade moet dank.


God het my uit genade verlos

In Psalm 40 beskryf Dawid hoe God hom uit die put van die dood haal en op vaste grond sit.

… Hy het na my toe afgebuig …

Die Here is die ewige, almagtige en heilige God in die hemel. Hy is hoog verhewe bo alles en almal. Hy is ook die genadige en getroue Verbondsgod. Uit genade buig Hy na ’n sondige mens af. Ek is soos elke mens in sonde ontvang en gebore. Ek is verlore, behalwe as God na my toe afbuig. En Hy het!

… en my hulpgeroep gehoor.

Elke mens hier op aarde het hulp nodig. Ons grootste nood is nie nood van aardse dinge nie. Baie keer dink ’n mens so. Luister na wat Jesus Christus hieroor sê: “Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan” (Matteus 10:28). Ons ernstigste nood waarvoor ons die meeste om hulp moet roep, is sonde en die verskriklike gevolge daarvan. God het geluister. Hy het geantwoord.

Hy het my uitgetrek uit die put van die dood

Sonde loop uit op die dood, die ewige dood. Die Here buig af en trek Dawid, trek my, uit die put van die dood.

uit die slymerige modder,

Sonde maak jou hele lewe vuil. ’n Lewe in sonde is soos om vasgevang te wees in slymerige modder.

my op ’n rots laat staan …

Daar het ’n einde aan Dawid se nood gekom. Daar het vastigheid, sekerheid in Dawid en in my lewe gekom. Die Here maak ’n einde aan sonde se mag oor ons.

… en my weer op vaste grond laat loop.

Die tyd in die put van die dood as gevolg van sonde en in die modderige slym van sonde gaan verby. Dawid, en elke kind van God, se lewe het heeltemal verander.

Dit is God wat ons kom verlos

God laat ons weer op vaste grond loop. Hy het na ons toe afgebuig. God gee sy Seun. Jesus het mens geword, gely en aan die kruis op Golgota in ons plek gesterf. Deur sy dood het Hy ons van die mag van die sonde en van straf en oordeel verlos. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons die nuwe lewe, die ewige lewe met God gegee. Die verlossing deur Jesus Christus is sonder enige verdienste van ons kant af net uit genade.


Deur die Heilige Gees dank ek God vir my verlossing

God het uit genade my lewe van dood na lewe verander, van straf en oordeel na verlos en vrygespreek. Hy verwag ’n antwoord van my – Hy eis dankbaarheid van my.

Maar ons hoef dit nie alleen aan te pak nie. Jesus het, nadat Hy na die hemel opgevaar het, die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees lei my om as verloste uit genade te leef.

Deur die Heilige Gees onthou ek en besef ek dat ek sonder Christus sondig en ewig verlore was. Die Heilige Gees lei my om met my hele hart in Jesus Christus, wat vir my gesterf en opgestaan het, te glo. So word ek herinner aan my wonderlike verlossing uit genade.

Maar, verlossing uit genade maak my nie passief nie. Allesbehalwe! Die Heilige Gees leef en werk in my. Hy maak my aktief. Hy gee my ’n besef van dankbaarheid. Deur die Heilige Gees wil ek God vir my verlossing dank.


My dankbaarheid wys in my goeie werke
Dankbaarheid maak ’n baie belangrike en baie groot deel van my lewe uit. Die Here leer ons in sy Woord dat die dankbaarheid wat ons aan Hom verskuldig is, baie belangrik is. Dankbaarheid is nie net ’n gevoel nie, en dis nie net woorde nie. Opregte dankbaarheid wys ook in die goeie werke wat ek doen. Die Here eis goeie werke van my. Hy wys my ook in sy woord watter goeie werke Hy wil hê ek moet doen.


Goeie werke wat God vir my in Psalm 40 wys

Sing ’n lofsang tot eer van God (vers 4)

Die Here wil sy gelowige kinders hoor sing uit dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor God is een van die redes waarom ons tydens eredienste sing. Ons kan ook sing by Bybelstudies, by vergaderings, by ander gemeente byeenkomste en by huisgodsdiens. Sing daarom elke keer met ’n dankbare hart.

Vertrou in Hom alleen (vers 5)

Die Here het selfs ’n gebod oor vertroue in Hom alleen gegee, die eerste gebod. Ek dank God wanneer ek in alles altyd al my vertroue in Hom stel. My dankbaarheid moet wys in my vaste en onwankelbare vertroue in God alleen.

Dank God deur sy Wet in jou hart te hê (vers 9b)

Dit beteken ek moet die Here in my hart liefhê. Die Wet is sy Wet, daarom het ek die Here se Wet ook in my hart lief. Die Wet is in my hart wanneer ek dit ken, dit graag lees en die betekenis daarvan goed ken.

Lewe volgens die wil van God (vers 9a)

Opregte dankbaarheid wys in my lewe wanneer ek volgens God se wil lewe. God maak sy wil in sy Woord bekend. Om volgens God se wil te lewe moet ons dit ken en onthou. Ons moet ons eie wil prysgee, en volgens God se lewe al is dit moeilik.

Verkondig die blye boodskap (vers 10)

Ek moet my dankbaarheid aan God wys deur die blye boodskap dat Jesus Christus ons verlos het, ons weer by God gebring het en aan ons die ewige lewe gegee het, uit te dra. My gesprekke moet minder politiek, minder ekonomie en minder sport wees en baie meer oor Jesus Christus, my Verlosser, gaan.

Dank God in jou gebed (vers 18)

Is opregte dankbaarheid altyd deel van my gebed? Bestaan die grootste deel my gebedslewe uit dankbaarheid of vra ek baie meer van God as wat ek Hom dank? Gebed is een van die belangrikste maniere is om God te dank. Elke gebed van my moet daarom duidelik wys dat ek dankbaar is.

Kry die volledige preek van ds. Johan Nel van die Gereformeerde Kerk Akasia hier.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui